Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Seisoen vir eet

Dit is lente (al voel dit meer soos winter vir my), my nartjieboom se wit-bloeisel-sitrusparfuum kuier in my tuin, my tamaties lê luilekker op my stoeptafel om rooiryp te word, ek sit in die skaarse sonnetjie en verlustig my in ’n stukkie ryp gorgonzola en ’n glasie koue chardonnay. Dit is eenvoudige plesiertjies – die inkleurpenne van my lewe.

Gaan proe plaaslike kase by vanjaar se Say Cheese! Vakman-kaasskou. Foto: Klein River Cheese

Dié tyd van die jaar is daar ’n skatkis van groente en vrugte in seisoen. Ek maak pangebraaide aspersies met ’n skeut suurlemoen en doop dit in ’n romerige béarnaise-sous. Artisjokke word met water, ekstrasuiwer olyfolie en suurlemoensap tot sag in ’n pot gestowe en saam met snye warm ciabatta bedien.

Mielies word oor die kole gebraai en direk van die vuur af saam met ryk geel plaasbotter en sout geëet. Eiervrug en rooi soetrissies maak ’n draai in die oond en wals dan saam met stukkies feta, vars pietersielie en balsamiese asyn op die tafel. En spesiaal vir my Ier omskep ek donkerpers beet in ’n lente-pienk risotto.

Beet-risotto in die drukpot

Groente en vrugte in seisoen is gewoonlik die lekkerste. Soos hierdie heerlike soetsuur tamaties uit Anél se tuin. Foto: Anél Potgieter

Tyd is in vandag se dae ons kosbaarste hulpbron, en deesdae is my elektriese drukkoker my beste vriendin in die kombuis. Dit is die eerste keer dat ek risotto in ’n drukkoker maak – ek was maar baie skepties. Wie kon dink dit is moontlik om die perfekte risotto met daardie risotto-rysbyt en romerigheid in net vyf minute te maak?

Wel, dit was so lekker dat my Ier my ook amper opgeëet het! Onthou dat die rys altyd daardie byt moet hê, maar as jy daarvan ’n bietjie sagter hou, stoom dit vir nog ’n minuut. Nie langer nie, anders maak jy ryspap. Onthou om die pot onmiddellik oop te maak om die stoomproses te stop. Om bietjie aweregs te wees, het ek rooiwyn gebruik wat die aardse beetsmaak aanvul en bygedra het tot die pragtige pienk kleur.

Groente en vrugte in seisoen (September – November)

Groente: Artisjokke, aspersies, beet, blomkool, boontjies, broccoli, Brusselse spruite, kool, mielies, murgpampoentjies,
sampioene, seldery, soetrissies en suikerertjies.

Vrugte: Avokado’s, eiervrug, appels, appelkose, piesangs, bessies, kersies, dadels, appelliefies, pomelo’s, papajas, perskes, aarbeie, waatlemoen en tamaties,

Say Cheese! Vakman-kaasskou: 6 en 7 Oktober

Lente is ook die seisoen van die jaarlikse Say Cheese! Vakman-kaasskou wat op 6 en 7 Oktober by die Italiaanse klub in Kaapstad plaasvind. Die fees bring wêreldklas- kaasmakers, -bakkers, -brouers en -wynmakers onder een dak byeen.

Kiki Ciman-Frauenknecht, organiseerder, sê: “Baie van ons uitstallers is klein produsente wat selde buite hul gebiede reis om hul kaas te bemark. Dit gaan ’n paradys vir kaasliefhebbers wees.”

Daar sal allerhande soorte kase te proe en te koop wees, insluitend gorgonzola, pecorino, fontina, provolone, brie, mozzarella, bloukaas en cheddar.

Die naweekprogram spog met van die voorste sjefs en wynprodusente wat proeë en kaasmaakdemonstrasies sal aanbied. “Daar sal werklik iets vir almal wees, insluitend ’n demo-area, wyn- en bierproeë, speelplek vir die kinders, asook musiek,” sê Ciman-Frauenknecht. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets of by die deur. Kinders onder 12 geniet gratis toegang.

Volg hulle gerus op Facebook: www.facebook.com/SayCheeseFair/.

Met al die pragtige kleure van als wat in seisoen is, is die skets van my alledaagse lewe ook sommer mooier.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpotgieter.com; anelpot@telkomsa.net

Anél se vyfminute-beetrisotto

Foto: Anél Potgieter

30 ml olyfolie

½ ui, fyngekap

250 ml risotto-rys

200 g gaar beet, in blokkies van ongeveer 1,5 cm gesny

1 knoffeltoontjie, gerasper

375 ml hoenderaftreksel

100 ml rooiwyn

125 ml parmesaankaas, gerasper

25 ml botter

sout na smaak

ekstra parmesaankaas, gerasper vir bediening

Braai uie in die olyfolie in die drukpot tot deurskynend. Voeg die rys by en soteer vir 1 minuut. Meng die beet, knoffel, aftreksel en wyn in, roer goed deur en stoom op hoog vir 5 minute. Maak die pot dadelik oop (om die stoomproses te stop) en roer die botter en parmesaan deur. Proe vir sout, en geur indien nodig. Bedien dadelik met gerasperde parmesaan.

Droogte-uitdaging

Ek het onlangs ’n geïnspireerde wyn-en- smaakbelewenis saam met De Wetshof bygewoon. Ek is verlief op die ongehoute Limestone Hill Chardonnay 2018 met sy pomelo- en neutgeure. Die wyn paar uitstekend met oesters, romerige pastageregte, ligte kerries, geroosterde vark- en kalfsvleis.

Volgens Johann de Wet, uitvoerende hoof van De Wetshof, het die bestuur van wingerdbesproeiing in die uitdagende droë toestande en beperkte watervoorraad ’n sleutelrol in die oes van die druiwe gespeel.

“Deur die jaar wat die 2018-oes voorafgegaan het, het Robertson minder as die helfte van die gemiddelde jaarlikse reënval van 300 mm gekry – en dit het ’n deurslaggewende rol gespeel in die aanloop tot vanjaar se oes,” sê Johann.

Gelukkig het die hoë klei-inhoud van De Wetshof se grond baie gehelp om die wingerde aan die lewe te hou danksy klei se waterhouvermoë. “Water wat die grond diep binnegedring het waar die meeste van die wortels is, het die grond vogtig en koel gehou. Dit het die plant in staat gestel om deur die prosesse van bot, korrelset, deurslaan en algehele rypwording te gaan in toestande wat bevorderlik is vir ’n gesonde oes.”


Meer oor:  Resepte  |  Seisoen  |  Beetrisotto  |  Lente  |  Kostelik  |  Groente  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.