Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Sjefs steek hand uit mou om Kaapse haweloses te voed
Die Ladles of Love-span.

As hul restaurant dan moet sluit, sal hulle maar hul kookvernuf elders gaan inspan.

Dit is die besluit van twee Kaapstadse sjefs, die egpaar Liezl Odendaal (34) en Arno Janse van Rensburg (34), eienaars van Jansen & Co. in Kloofstraat, Kaapstad. Hulle bied te midde van die staat van inperking hul dienste aan die voedingskema Ladles of Love in Roelandstraat aan.

Dié skema, wat daagliks sop aan hawelose mense gee, is in 2014 deur Danny Diliberto (51) begin.

Odendaal sê Ladles of Love het gewoonlik 500 hawelose mense per dag van kos voorsien, “maar sedert die staat van inperking begin het, trek ons al by 1 000 hawelose mense elke dag”. Dit is mense wat nog nie geholpe geraak het in skuilings wat deur die Kaapse metroraad beskikbaar gemaak is nie.

Diliberto sê dit is moeilik om gepaste ruimte te kry vir almal wat dit nodig het omdat daar aan sekere vereistes ten opsigte van die ruimte voldoen moet word. Hy sê sy organisasie kry nie tans enige hulp van die Kaapse metroraad nie, benewens sekere vrystellings.

Ladles of Love verskaf ook kos aan ander organisasies wat kos aan haweloses gee, soos Safe Space in Distrik Ses en The Haven in Groenpunt.

hawelose mense kos
Liezl Odendaal (agter) saam met nog twee vrywilligers van die voedingskema, besig om kos in reusepotte te kook. Ladles of Love voed tans 1 000 haweloses per dag in Kaapstad.
Voor is Danny Diliberto (51) en agter van links is, Arno Janse van Rensburg, Cullen, ook ’n vrywiller by die voedingskema, en Liezl Odendaal.

Die behoefte is groot

Odendaal sê hulle wou betrokke raak omdat hulle besef daar is baie mense wat in nood verkeer en hulp nodig het. Hulle wou ’n verskil maak in dié moeilike tye.

“Ons is in die spysenieringsbedryf en daarom is ons gewoond daaraan om saam met mense te werk. Daar is tans ’n baie groot behoefte by die voedingskema,” sê sy.

“Maandag en Dinsdag het vrywilligers tien sakke uie, agt sakke aartappels, 20 kg wortels en 20 kg appels skoongemaak en opgesny, wat regtig net ongelooflik is,” sê Odendaal.

Sy sê hulle gee twee etes per dag aan die mense wat hulle help. Die ontbyt is omstreeks 09:00 en middagete is van 14:00 tot 15:00 gereed.

Odendaal sê hulle werk ’n spyskaart vir die week uit op grond van die beskikbare bestanddele.

“Wat ook al ons maak, moet in ’n 500 ml-houer pas en dit moet smaaklik en gesond wees,” sê Odendaal.

Ladles of Love se groente word deur dieselfde organisasie verskaf as wat aan Jansen & Co. groente verskaf.

Liezl Odendaal met ’n kartondoos vol appels wat die Paul Cluver-wynlandgoed aan hulle geskenk het.

Hulp uit die kosbedryf

Odendaal en Janse van Rensburg het ook van hul eie groente geskenk en het ander mense in die kosbedryf vir hulp gekontak, onder andere die kosskrywer Herman Lensing.

“Ek en Herman ken mekaar al baie lank, hy was ’n student onder my toesig. Herman het baie meer kontakte in die kosbedryf en daarom het ek hom om hulp genader. Ek het geweet ons gaan baie meer hulp nodig hê, veral ten opsigte van bestanddele,” sê Odendaal.

“Ek het Herman Sondag gebel en hy het my Maandag teruggebel met die ongelooflike nuus dat Spar R25 000 aan Ladles of Love gaan skenk.”

Odendaal sê benewens bestanddele het hulle ook gas nodig om die kos gaar te maak, seep om die kombuis en potte skoon te maak en houers om die voorbereide kos in te kan vervoer.

Enigiemand wat ’n skenking kan maak, kan die webblad https://www.payfast.co.za/donate/go/ladlesoflove besoek.

Meer oor:  Kaapstad  |  Hawelose Mense
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.