Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Rondrits:
Skink nou van jou gunsteling

Dit blyk dat bekendheid en alkohol soos vinkel en koljander is. Die akteurs Angelina Jolie en Brad Pitt verkoop ’n rosé genaamd Miraval. Die sokkerheld David Beckham het sy eie whisky, Haig Club. Selfs die Hanson-broers, bo 18 deesdae, maak ’n bier genaamd Mmmhops (ja, vernoem na hul gewilde 1997-liedjie “MMMBop”).

En op eie bodem het dié vier entrepreneur-musikante ook al hul eie drankies bekend gestel:

The Parlotones. (Photo: Supplied)

The Parlotones

Giant Mistake, die eerste wyn deur The Parlotones wat in 2009 saam met Hands On Wine bekend gestel is, is ’n “eksotiese rooi met geure van bessies, koffie en speserye”. Dis ’n versnit van cabernet sauvignon (54%), shiraz (23%), pinotage (12%) en cabernet franc (11%).

Die hoofsanger van die groep, Kahn Morbee, sê dit was nog altyd ’n droom om ’n wyn te hê. “Ons het as groep baie tyd in Kaapstad deurgebring omdat ons ons albums daar opgeneem het, en het gereeld die wynland besoek. As Johannesburgers het ons verlief geraak op die sjarme van wyn en die storie agter elke landgoed.”

In 2010 het hulle nog twee wyne bekend gestel: ’n Witwyn, Push Me to the Floor, en ’n rosé, We Call This Dancing, albei ook na van hul liedjies vernoem.

Die wyne is tans uitverkoop, maar die groep hoop om binnekort nóg op die rakke te hê.

Kurt Darren en Maretha Louw van Namaqua Garage met sy Kaptein-rooiwyn.

Kurt Darren

Toe Kurt in 2013 sy eie wyn in samewerking met die wynlandgoed Val de Vie uitgebring het, het al 20 000 bottels in die eerste twee weke uitverkoop. Hy beskryf sy Kaptein-wyn as ’n “fantastiese rooiwyn wat lekker sag op die tong val”. Dis ’n versnit van mourvedre, shiraz, grenache, carignan en cinsaut en Kurt en die landgoed se wynmaker, Harold Versfeld, het nou saamgewerk om die wyn te skep. Volgens Val de Vie kan geure van rooi vrugte, rooi bessies, aarbeie, kersies en eikehout daarin bespeur word.

Kurt sê wyn is vir hom “soos ’n bottel vol lirieke wat net wag vir die regte melodie”.

“Ek was nog altyd ’n wynliefhebber, so toe ek die kans kry om my eie gehalte-wynreeks uit te bring, het ek dit met albei hande aangegryp. Tjeers!”

Hy beplan om binnekort ’n nuwe Kaptein-reeks saam met ’n nuwe wynlandgoed uit te bring, maar kan nog nie meer sê nie. Intussen is sy Kaptein-wyn by Checkers-takke landwyd te koop.

Die manne van die rockgroep Fokofpolisiekar sê hulle het al soveel geld op bier uitgegee, dat dit net gepas was dat hulle ’n bier onder hul handelsmerk bekend stel.

Fokofpolisiekar

In 2015 het die rockgroep Fokofpolisiekar en die Devil’s Peak Brewing Company saamgespan om Fokof Lager te maak. Dit was só gewild by die 84 kroeë, klubs en restaurante waar dit eers aangebied is, dat die groep ook 340 ml-botteltjies by drankwinkels en hul vertonings begin verkoop het.

Die bier het ’n delikate mout-smaak met min bitterheid en is glo baie verfrissend. Jaco “Snakehead” Venter, tromspeler, sê bier was net die regte drankie vir die groep. “Ons het al baie geld op bier uitgegee in ons lewens. Rock en bier gaan maar net goed saam en komplementeer mekaar. Eintlik komplementeer bier die meeste dinge.”

Die groep het ook geskenkpakke gemaak vir die bekendstelling van hul nuutste album, Selfmedikasie. Die pakke bevat 12 biere en die album, teen R219,95. Die bier en geskenkpakke is by verskeie drankwinkels en kroeë landwyd beskikbaar. Besoek fokoflager.­com vir ’n volledige lys.

Jack Parow se brandewyn, Parow Brandy, het volgens hom lekker skop.

Jack Parow

As jy al na Jack Parow se musiek geluister het, sal jy weet hy is amper net so lief vir brandewyn as vir kletsrymery. Een van sy liedjies, “Ricky Louw”, op sy selfgetitelde debuutalbum, gaan juis daaroor (Ricky Louw is omgangstaal vir Richelieu-brandewyn). “Ek like my brannas drie vingers sterk en yskoud,” sing hy daarin.

Daarom het hy Parow Brandy uitgebring. Dis ’n drie jaar oue handgemaakte brandewyn met hope geur en ’n lekker skop, sê Jack, en vandaar die term “karate water” op die bottel se etiket. Dit word deur ’n klein kelder in Montagu gemaak en is tot dusver baie gewild. Maar, sê hy, “ek drink baie brandewyn, so as niemand die brandewyn verder koop nie, het ek ten minste baie brandewyn vir myself”.

Dis by Checkers-takke en RocoMamas-restaurante landwyd te kry.

Meer oor:  Kurt Darren  |  The Parlotones  |  Jack Parow  |  Fokofpolisiekar  |  Entrepreneur  |  Alkohol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.