Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Smeulend, sappig, gesond
Ná hartaanval eet MasterChef nog dieselfde

Ek het die afgelope week hier in Kaapstad vir Ben Ungermann raakgeloop. As jy soos ek ’n MasterChef Australia-verslaafde is, sal jy presies weet van wie ek praat – daardie ongelooflik aantreklike donkerkop-man wat tweede in MasterChef Australia 2017 gekom het! Ja, my werk het ook sy voordele, dames! Ben het gedurende dié reeks sy liefde vir die maak van roomys ontdek en is nou as die roomyskoning bekend en het ’n paar roomyswinkels in Australië.

Die smeulende Australiese sjef Ben Ungermann.

Geen goue lepel vir Ben

Ben is nie met ’n goue lepel in die mond gebore nie. Hy het ’n baie nederige agtergrond. Die oorweldigende internasionale roem het ook glad nie na die oulike man se kop toe gegaan nie, nee kyk, hy het sy voete steeds plat op die aarde.

Ben vertel: “Ons het dit nie breed gehad nie en ons daaglikse etes het baie koolhidrate soos rys en blikkies mielies ingesluit. Ek was die oudste van drie kinders en ons gesin het van slim pickings geleef.”

Hartaanval op 35!

Ben is ’n jonge 35 jaar oud, maar het in Julie vanjaar ’n hartaanval gehad. Ja, kan jy dit glo! Dit was natuurlik ’n geweldig traumaties ondervinding en ’n groot skok, want hy eet sy hele lewe lank baie gesond en handhaaf ’n baie aktiewe leefstyl.

Hy het intussen uitgevind dat dit geneties is en dat stres ’n groot rol speel. Ben glo sy goeie eetgewoontes en gesonde leefwyse het sy lewe gered. Hy het glad nie sy dieet ná die hartaanval aangepas nie, maar probeer meer ontspan en tyd inwerk vir vriende en familie.

Ben se gunsteling-kos?

“Enige gesonde, vars kos wat vinnig is om te maak. Maar as ek moet kies, sal ek sê my sappige hoenderborsies en gebraaide aspersies met avokado-en-karringmelkslaaisous. Dit is heerlik, gesond en laag in kalorieë.

“As dit by vis kom, hou ek van enige goed gaargemaakte vis met ’n romerige hollandaise-sous. En dan gee ek natuurlik my linkerhand vir vars oesters met net ’n bietjie suurlemoensap.”

Wat eet Ben nie?

“As kind het ek glad nie sampioene geëet nie, maar deesdae is ek baie lief daarvoor. Ek sit glad nie my mond aan die Oosterse vrug doerian nie – ’n spanspekagtige vrug wat verskriklik stink. Dit is aaklig.”

Kostendense?

“Daar is ’n groot tendens om met groente en om sonder proteïene te kook. Al hoe meer mense begin dink om vegetariese en veganistiese (plantaardige) diëte te volg. Ek is ’n absolute vleiseter en hou van vleis, maar om proteïen te produseer, verg tog ’n groot tol op die omgewing.”

Praat saam oor hartaanvalle

Lekker week vir julle en laat weet my asseblief of jy (of iemand naby jou) al ’n hartaanval gehad het en hoe jy jou eetgewoontes en leefstyl aangepas het.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Hoenderborsies en gebraaide aspersies

Dié hoenderborsies is sappig en word voorgesit met ’n avokado-en-karringmelkslaaisous.

Ben se sappige hoenderborsies met geroosterde aspersies en ’n avokado-karringmelk-slaaisous. Foto:

(Resep: Ben Ungermann)

Hoender

2 hoenderborsies, oopgevlek

olyfolie

sout

heel peperkorrels

Gebraaide aspersies

5-8 aspersies

olyfolie

sout

peper

1 x suurlemoen

Avokado-en-karringmelkslaaisous

125 ml gekapte grasuie

300 ml karringmelk

30 ml water

1/4 knoffelhuisie

1/2 suurlemoen

sout

1 ryp avokado, gekap

Hoender: Braai die hoender in die olyfolie op hoë hitte in ’n braaipan. Braai albei kante tot goed gekaramelliseer. Geur met sout en peper. Draai die hitte af tot laag, sit die deksel op en kook tot gaar en sappig.

Aspersies: Blansjeer die aspersies in kookwater en skep op papierhanddoek. Stel die oondrooster op hoog. Plaas die aspersies in ’n mengbak, gooi ’n skoot olyfolie oor en skud om liggies te bedek. Plaas onder die rooster tot taamlik donker gebraai, draai om en braai die ander kant ook. Maak seker dit is steeds krakerig. Geur met sout, peper en suurlemoensap en hou eenkant.

Avokado-en-karringmelkslaaisous: Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en blits tot gladde sous. Of druk deur ’n sif.

Grondboontjiebotter-en-piesang-gladdejan

Gesonde, romerige piesang gladdejan. Foto:

(Resep: Ben Ungermann)

3 ryp piesangs

375 ml amandelmelk

60 ml gladde grondboontjiebotter

30 ml onversoete kakaopoeier

15 ml heuning

180 ml ys (3/4 koppie)

Gooi al die bestanddele, behalwe die ys, in ’n menger en blits tot glad. Voeg nou die ys by en pols ’n paar keer.

Ben sit nie sy mond aan hierdie Oosterse vrug nie. Dis die doerian en al het dit ’n soeterige smaak, ruik dit glo soos stink voete.

Briewehoekie

Maureen Buskes skryf: Hallo Anél. Die gebakte boontjies lyk na ’n heerlike resep. Ek wil net weet of mens dit kan bottel, soos in gesteriliseerde flesse? Wat ek met my kosbare appelliefies maak, is ek oes en vries dit totdat ek so 2–3 kg bymekaar het, dan kook manlief Frik (85 jaar oud!) vir ons konfyt.

Anél antwoord: Hallo Maureen, ek het Errieda gevra en sy sê sy het dit nog nie self gebottel nie en sal dit ook nie aanbeveel nie. Ek dink dit sal sommer ná ’n dag of twee ontplof. Daai konfyt van manlief Frik klink heerlik. Ek sal my voortande gee vir so ’n lekseltjie op roosterbrood.

Sy wen

Geluk aan Denise de Wet van Groot Brakrivier. Sy wen ’n eksemplaar van die kookboek Cape Mediterranean – The Way we Love to Eat deur Ilse van der Merwe. Lekker kook!

Meer oor:  Masterchef Australia  |  Ben Ungermann  |  Roomys  |  Kostelik  |  Resepte  |  Hoender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.