Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Smul aan straatkos by Streatery
Streatery se interessante soesji-kroeg.Foto’s: Karla Janse van Vuuren

Nuwe jaar, nuwe begin, nuwe restaurant! Dis wat ek gedink het toe ek hoor van Streatery wat by die nuwe Food Lover’s Market by die Lifestyle-sentrum oopgemaak het. Dié restaurant is deel van Food Lov­er’s Market, maar waar dit in ander winkels net ’n wegneemarea is, is dié ’n volwaardige restaurant met treffende dekor en ’n uitgebreide spyskaart.

Die “stud muffin” is ’n lekker manier om jou dag mee te begin.

Die konsep is straatkos, van Suid-Amerika tot Asië. Verwag dus poké bowls, soesji, pizza en taco’s, om net ’n paar te noem.

Die restaurant het in Desember oopgemaak en dit lyk asof dit reeds ’n treffer is onder die skares wat gereeld by die kwekery en al die winkels in die Lifestyle-kompleks kuier.

Ons het op ’n Saterdag ingeval vir ontbyt en baie van die tafels buite was beset.

Die soesji-kroeg trek die aandag met sy eklektiese stoele en interessante mure.

In die restaurant lyk dit soos ’n stylvolle Amerikaanse diner, met heldergroen plante wat uit die dak hang, meubels van ligte hout en blokkiesvloere. Die soesji-kroeg trek die aandag met sy eklektiese stoele en interessante mure – die een is rooi en die ander blou met ’n voëlmotief.

Die “egg zeppelin” is ’n gesonder, ligter opsie.

Op die ontbytspyskaart kan ’n mens kies en keur uit wafels, plaatkoekies, vars vrugte, interessante street bowls en natuurlik eiergeregte, alles van eiers benedict tot omelette.

Daar is ook lekker roosterbroodopsies (kies uit rog-, gesondheids- of suurdeegbrood) met onder meer avokado en suurroom, of sampioene met roket en haselneutpesto.

Ek het die “stud muffin” (R65) gekies. Dit is varkworsies met vinkel, spek, cheddar, gekaramelliseerde uie, ’n gebraaide eier en sriracha-hollandaise, voorgesit op ’n Engelse muffin of roosterbrood van jou keuse. Die porsie is massief (ek kon net die een helfte eet) en die kombinasie van al die verskillende bestanddele was die perfekte begin vir my dag. Ek het net gevra dat die hollandaise eerder in die kombuis bly, aangesien sriracha ’n byt het waarvoor ek nie lus was so vroeg in die oggend nie.

My eetgenoot se keuse was die “egg zeppelin” (R65) onder die street bowls-afdeling. Dit is ’n romerige fritatta met spinasie, rooiuie-marmelade en ’n roket-en-fetaslaai, voorgesit met roosterbrood. Dié is ’n ligter opsie en ook geskik vir vegetariërs. Daar was ’n bietjie vars brandrissie by die fetaslaai, maar net genoeg om die gereg ’n bietjie diepte te gee.

Streatery se dirty burgers laat my mond water en met ’n verskeidenheid opsies.

Ons kon nie die koffie-en-amandel-freezo en die klapper-en-chai-freezo (R39 elk) weerstaan nie. Dis verfrissende drankies op ’n warm dag en ek sal die koffie-en-amandel-een aanbeveel (die klapper-en-chai was effens te soet en ook ’n bietjie waterig).

Ek wil beslis weer kom aansit, dié keer vir middagete – Streatery se dirty burgers laat my mond water en met ’n verskeidenheid opsies (almal onder R100 en voorgesit op ’n tuisgebakte brioche-broodjie en met skyfies) is daar iets vir elke smaak.

Streatery se dekor herinner aan ’n stylvolle Amerikaanse “diner”.

Die Aloha poké bowl is ook op my proe-lysie (dié tipe gereg is eie aan Hawaii, en Streatery s’n het onder meer salm gemarineer in ponzu-sous, edamame-boontjies, bros seegras en avokado, voorgesit op witrys).

Pizzas, taco’s en soesji sorg dat almal iets sal kry wat in hul smaak val.

Streatery se pryse is billik, die porsies groot, die diens vinnig en vriendelik en dit is presies die tipe restaurant wat sal floreer by Lifestyle, waar gesinne graag saam tyd deurbring. Streatery is n die Lifestyle-sentrum, op die hoek van Beyers Naudé-rylaan en Ysterhoutlaan, Randparkrif. Vir meer inligting, skakel 010 110 7688 of volg hulle op sosiale media.

Meer oor:  Burgers  |  Restaurante  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.