Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Snoek op die kole

Dis heerlike lente en ons word weer wakker gemaak met die gesing van die voëltjies in my tuin. My hart bokspring sommer van die lekkerte en my gemoed lig ’n paar vlakke, want kyk, ons is baie dankbaar vir die wonderlike reën en koue winter, maar genoeg is genoeg. My siel smag na warm sonstrale, soel seewater, braaivleis, snoek en slaai.

Hoe braai jy snoek op die kole?

Ek is nie een vir appelkooskonfyt met snoek nie en hou daarvan om snoek so ’n bietjie op te kikker met songedroogde tamaties wat in olyfolie en ’n slaaisous gemarineer is. Dié koop jy sommer in ’n pakkie, want tyd het ons nie om dit te maak nie.

Dit gee daardie heerlike soet-suur smaak wat ’n snoekie soek en laat hom sappig en vorentoe smaak.

Die geheim van visbraai is om dit nie vir ure oor die kole te braai nie. ’n Halwe snoek soos wat my Ier gebraai het, moet velkant na onder vir net so tien minute op die kole staan en moet ook nie omgedraai word nie.

Maar dié Vrystater is nie ’n groot visserman nie, so as jy ’n lekker snoekresep het, e-pos dit asseblief vir my sodat ek bietjie my snoek-repertoire kan uitbrei.

Snoek is ’n volhoubare vis en is op die Wêreldnatuurfonds se Suid-Afrikaanse Inisiatief vir Volhoubare Seekos (Sassi) se groen lys. Jippie!

Sitrusslaai

Die snoekie is bedien saam met ’n sitrusslaai wat van slaaiblare, rooikool (vir daardie pragtige kleur en krakerige tekstuur), lemoen en okkerneute. Sprinkel net ’n bietjie olyfolie en suurlemoensap oor die slaai en geur met sout en swartpeper. Die lemoen vorm self ook ’n lekker slaaisous.

Sassi se lys

Ek het die Sassi-app op my foon afgelaai en ek weet nou presies watter vis is volhoubaar en watter nie.

Dit is belangrik om te weet dat Weskuskreef op die rooi lys is. Mossels is op die groen lys – en dié somer gaan ek wegbly van kreef en smul aan mossels saam met bier en my Ier.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@telkomsa.net

Anél se lekker snoek

Foto: Anél Potgieter

’n Halwe vars snoek (my Ier koop lekker vars vis by West Coast Fisheries in die Kaap)

olyfolie

sout en swartpeper

½ suurlemoen

8 klein blokkies botter

½ pakkie songedroogde tamaties in olyfolie en vinaigrette

15 ml kappertjiesaad

’n handvol gekapte pietersielie

foelie

kossproei

Plaas ’n groot stuk foelie op die tafel en spuit goed met kossproei. Smeer daarna ook met genoeg olyfolie. Plaas snoek met velkant na onder op die foelie. Geur vis met sout en peper. Sny suurlemoen in die helfte en druk die sap bo-oor uit. Plaas ’n paar stukkies botter op die vis, gevolg deur stukkies tamatie, kappertjiesaad en pietersielie. Maak die vis toe in die foelie en braai met die velkant na onder oor matige tot warm kole vir net so tien minute of tot gaar. Bedien saam met ’n lekker slaai.

Briewehoekie

O, my koek!

Pierre Nel skryf: Ek is ’n getroue leser van jou Sondagrubriek en het al ’n hele paar suksesvolle etes daaruit gemaak. Die artikel oor die outydse koffiekoek (26 Mei) het my 50 jaar in die verlede teruggevat na my kinderdae se skoolvakansies by my ouma en oupa in Bloemfontein. Ek het die koek gister gebak, maar dit was heeltemal plat toe dit uit die oond kom. Ek het opgemerk dat daar geen rysmiddel, soos bakpoeier, in die resep is nie. Ek het eers gedink die eiers sal seker werk, maar nee, plat koffiepannekoeke kom toe uit die oond uit. Is daar ’n glips met die resep of het ek net iets verkeerd gedoen? Ek het toe die twee plat koeke met karamelkondensmelk aan mekaar geplak, niks fout met die smaak nie, die gaste het lekker gelag en dit alles opgeëet.

Anél antwoord: O jitte, Pierre, ek voel so sleg. Nee, jy het niks verkeerd gedoen nie – daar het ’n fout in die resep ingesluip en dit is my vingers en kop se skuld. Jammer daaroor. Ek het per ongeluk die bakpoeier uitgelaat, maar dankie dat jy dit in so ’n goeie gees hanteer het en dat jy my laat weet het. Ja, ’n blikkie karamel maak alles reg en ek is bly jy en jou gaste het dit tog geniet en op die koop toe lekker gelag. Nou het jy ’n goeie koffiekoekstorie om te vertel, want elke goeie bakker het altyd ’n lekker bakstorie in sy oond.

Hier is die resep mét die bakpoeier.

Outydse koffielaagkoek

125 ml botter

250 ml suiker

45 ml gouestroop

2 groot eiers, goed geklits

500 ml koekmeel

15 ml bakpoeier

2,5 ml sout

5 ml kaneel

125 ml koue sterk koffie

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer twee 22 cm-laagkoekpanne met botter en bedek die bodem met bakpapier. Klop die botter en suiker tot lig en romerig. Klop die stroop by. Meng die eiers goed by. Sif die droë bestanddele saam en roer dit om die beurt met die koffie by.

Meng liggies tot beslag goed gemeng is en gooi in koekpanne. Bak vir 25 minute teen 180 °C.

Laat dit op ’n draadrak afkoel en pak die koeke op mekaar met jou blikkie karamel.

Lemoenslaai met okkerneute

Foto: Anél Potgieter

Slaaiblare van jou keuse

’n stukkie rooikool, fyngesny

okkerneute, gekap

een lemoen, geskil en gesny

olyfolie

½ suurlemoen

sout en swartpeper

Meng al die bestanddele saam en sprinkel ’n bietjie olyfolie en suurlemoensap oor. Geur met ’n titseltjie sout en peper.

Groen: Jy kan maar soveel mossels eet soos jy wil.
Rooi: Weskuskreef is nie meer volop nie. Deur dit te eet, bedreig jy hul voortbestaan.

Meer oor:  Resepte  |  Resep  |  Kostelik  |  Snoek  |  Slaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.