Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Só lyk kostendense vir 2020

’n Nuwe jaar beteken ’n nuwe golf tendense gaan ons tref, en natuurlik nie net op die mode- en dekorfront nie. Kostendense wat vir die nuwe jaar voorspel word, is altyd interessant, en hier is ’n paar wat my aandag getrek het.

Tendense kom en gaan, en wat almal in byvoorbeeld 2014 na hul asem laat snak het, is nou ou nuus. Sommige tendense van die vorige jaar spoel oor na die nuwe jaar – ek lees byvoorbeeld op die webwerf popsugar.com dat blomkool steeds witwarm gaan wees in 2020 en op kreatiewe maniere vir alles van pizzakorse tot ’n rys-plaasvervanger ingespan word.

Maar daar is ook nuwe bestanddele en tegnieke wat kosliefhebbers wêreldwyd opgewonde maak, en wat waarskynlik ook hier na Suid-Afrika sal uitkring.

Een tendens waaroor ek baie opgewonde is, is ’n meer omgewingsvriendelike manier van eet en drink, en dit sluit in meer vegetariese en vleislose opsies van ons gunstelinggeregte (soos hamburgers). Huffington Post (huffpost.com) berig dat meer verbruikers wil weet waar hul kos vandaan kom, en die reis wat dit onderneem van plaas tot bord.

Verbruikers dring al hoe meer aan op etiese praktyke deur boere, en dat die omgewing nie beskadig word vir die verbouing van gewasse nie, voeg FoodandWine.com by. Hand aan hand hiermee gaan meer volhoubare seekos, waar almal van topsjefs tot tuissjefs meer bewus is van waar hul seekos vandaan kom en dat hulle ingeligte keuses maak wanneer hulle geregte beplan.

Wanneer dit kom by meer vegetariese opsies, gaan ons al hoe meer keuses hê omdat vegetariese produkte meer vrylik beskikbaar is, meen USAToday.com. Ek het juis onlangs by my plaaslike Food Lover’s Market ’n veganistiese “kaas” gesien wat ek nogal nuuskierig is om te probeer. ’n Mens hoef nie meer in obskure winkeltjies of aanlyn te gaan rondsnuffel om dié produkte op te spoor nie. Daar word voorspel dat selfs geharde vleiseters meer groente in hul dieet gaan insluit, juis omdat mense meer bewus is van die gesondheidsvoordele van ’n meer plantgegronde manier van eet.

Waar melk en koeie in die verlede sinoniem was, is daar nou ook al hoe meer “alternatiewe” melk op winkelrakke, perfek vir dié met ’n laktose-intoleransie of veganiste. Die verskeidenheid van melk beskikbaar gaan volgens popsugar.com in 2020 net uitbrei, van hawer- tot hennepmelk, en natuurlik gunstelinge soos amandel-, rys-, klapper- en sojamelk.

Smere en botters gemaak van interessante bestanddele soos waatlemoenpitte en kekerertjies, gons ook in 2020, berig forbes.com. As jy dus gewoond is aan slegs grondboontjiebotter op jou brood, verbreed jou horisonne en probeer ’n smeer gemaak van kasjoe- of makadamianeute. Daar is reeds verskeie opsies beskikbaar op winkelrakke.

Spoggerige niealkoholiese drankies (mocktails) is ’n gewilde tendens vir die nuwe jaar, en dit is nie net op swanger vroue gemik nie. Volgens Huffington Post is dié drankies smaaklik en vol skop, al het dit geen alkohol nie. Dikwels word tee ingespan om aan mocktails diepte en karakter te gee.

Business Insider (businessinsider.com) het ’n lys van spesifieke bestanddele om aan aandag te gee, en dit sluit in stervrugte, seekat-ink, Brusselse spruite, gemmer, harissa (’n pikante rissiesous uit Noord-Afrika met geure van komyn en koljander) en hoemoes. Ek gaan beslis in die groentewinkel rondsnuffel vir stervrugte, want dié interessante vrug is boonop propvol vitamien C en vesel en dit is laag in kilojoules. Seekat-ink is ek nie so gretig om te probeer nie, maar Brusselse spruite is ek bereid om ’n kans te gee in my kombuis. Ek is ’n groot liefhebber van gemmer omdat dit so veelsydig is en harissa het so baie gebruike, dit kan ’n vervelige dis tot nuwe hoogtes voer.

As jy nog nie jou eie hoemoes (gemaak hoofsaaklik van kekerertjies) gemaak het nie, is 2020 die jaar om te probeer.

Dit is supermaklik en ’n smaaklike manier om gesond te peusel – ’n wortelstokkie gedoop in tuisgemaakte hoemoes is regtig koningskos.

Of jy nou slaafs tendense navolg of nie, geniet vanjaar in die kombuis en probeer gerus met ’n oop gemoed iets nuuts – wie weet, dalk hou jy van daardie veganistiese kaas en hennepmelk!

Botterskorsie-koeskoesslaai met harissa

Botterskorsie-koeskoesslaai met harissa
Botterskorsie-koeskoesslaai met harissa.

Dié slaai is propvol smaak, en is geskik vir vegetariërs. Dit is heerlik as bykos by braaivleis, en die harissa sorg vir ’n interessante kinkel. Voeg spek of gaar hoender by as jy ’n vleiseter is vir ’n heerlike ligte middagete.

 

Jy benodig:

 

500 g botterskorsieblokkies

olyfolie

sout en peper

1-2 e harissa-pasta*

250 g koeskoes

10 ml aftrekselpoeier (groente of hoender)

die sap en skil van 1 suurlemoen

’n handvol roket, grofgekap

1-2 wieletjies feta

4 sprietuie, gekap

2 e rooibosbessies (cranberries)

 

Só maak ’n mens:

 

1. Plaas die botterskorsie in ’n oondvaste bak en sprinkel olyfolie en sout en peper oor. Rooster by 180 °C vir sowat 30 minute totdat dit gaar is en die punte begin karamelliseer. Haal uit die oond en laat effens afkoel. Voeg harissa na smaak by die botterskorsie en roer versigtig deur.

2. Plaas die koeskoes in ’n bak met ’n styfpassende deksel. Maak die aftreksel aan met genoeg kookwater om die koeskoes net-net te bedek. Giet dit oor die koeskoes en sit die deksel op – laat dit eenkant staan tot opgepof en gaar. Roer deur met ’n vurk om enige klonte te verwyder.

3. Maak ’n slaaisousie deur die sap van een suurlemoen, sowat 2 e olyfolie en harissa na smaak deeglik te meng.

4. Plaas die gaar koeskoes in ’n opdienbak en voeg die suurlemoenskil, sprietuie, gekrummelde feta en gekapte roket by. Roer laastens versigtig die botterskorsie by en drup die sous oor. Garneer met die bosbessies en sit voor.

* Harissa-pasta is by die meeste supermarkte beskikbaar – dit is gewoonlik in ’n glasbotteltjie by die pesto’s op die rak. Proe die een wat jy koop voordat jy daarmee begin kook; party het meer skop as ander. Jy kan dit ook met ’n bietjie olyfolie verdun as dit baie dik is. Voeg dan die hoeveelheid by wat in jou smaak val.

Meer oor:  Karla Janse Van Vuuren  |  Kos  |  2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.