Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Só verlei jy ’n Ier

Bederf jou geliefde met sjokolade – hoe dan anders?

Valentynsdag is om die draai en ek moet bieg, soos seker baie van julle, het ek nog niks beplan of gekoop om vir my Ier te wys hoe lief ek hom het nie. En met my beursie wat steeds dun is ná die Desembervakansie, moet ek inspring en iets ekonomies bak. Ek het by die sjokoladeprofeet Katelyn Williams, die skrywer van die pragtige resepteboek Chocolate, gaan aanklop vir sakpas-sjokoladeverleidings vir my Ricky-baby.

Katelyn Williams

‘Chocolate’ deur Katelyn Williams

Chocolate is vol dekadente skeppings wat jou tone gaan laat krul van die lekkerte en ook jou sjokoladelus die hoogte gaan laat inskiet. Die boek lees soos ’n eindelose sjokoladedroom . . . Vat nou maar die witsjokolade-en-nartjie-malvapoeding, donkersjokolade-lemoenbrûlée-vlaskywe en die makadamianeut-heuningkoek met sjokoladesout. Die foto’s is pragtig en ek het die bladsye ampertjies begin lek.

Die meeste van die heerlike resepte is maklik en vinnig om te maak, die bestanddele is maklik te kry en nie buitensporig duur nie. Ek het besluit om die volgende drie te maak: die einde-van-die-maandtruffels, bros mikrogolfsjokoladestafies en die donkersjokolademousse wat met water gemaak word. Geniaal!

Donkersjokolademousse (sonder room)

Het jy ooit gedink jy kan sjokolademousse sonder room maak? Ek het nie gedink dit is moontlik nie, maar Katelyn het ’n wonderlike resep daarvoor. Sy vertel: “Wat doen jy wanneer jou vriende oorkom vir aandete en jy wil jou alombekende sjokolademousse maak, maar het vergeet om room te koop? My sjokolademousse kry geen room of gelatien in nie. Dit word gemaak met net twee bestanddele – water en sjokolade.” Briljant, nè? Ek kon nie glo water en sjokolade kan gemeng word nie, want ek het geleer jy bring nie ’n druppeltjie water naby sjokolade nie. Nee, sê Kate­lyn: “Hulle pas bymekaar. Trouens, wanneer jy die twee kombineer, maak dit die heerlikste, ligste mousse.” Hou vas Ricky-baby, hier kom ’n ding.

Bros mikrogolfsjokoladestafies

’n Ander lekkerte uit Chocolate is Katelyn se bros mikrogolfsjokoladestafies. Sy vertel dat die stafies vele male haar laatnag-einde-van-die-maand-sjokolade-belustigheid bevredig het. Jy het nie eens sjokolade nodig om dit te maak nie. Die stafies word van botter, versiersuiker, graanvlokkies en kakao gemaak, en as jy nie sjokolade as die bolaag wil gebruik nie, kan jy dit met versiersuiker en kakao vervang. Die stafies is goedkoop en veelsydig, want jy kan dit opkikker met kruisement, rissies of koffie. Hmm, Ricky-baby!

Einde-van-die-maand-truffels

Hierdie sjokoladetruffels is goedkoper as die ware Jakob en verslawend lekker! As jy nie genoeg geld het vir regte sjokolade om dit in te rol nie, rol dit in klapper, kakaopoeier, gekapte neute of versiersuiker.

Ek het Chocolate binne maklike bereik op die koffietafel geplaas sodat ek net my hand hoef uit te steek as die belustigheid my weer beetpak. Wat nou blykbaar gereelder as ooit gaan wees!

Groete uit my kombuis

Anél

anelpotgieter.com

Bros mikrogolfsjokoladestafies

Maak 16

Sjokoladestafies

180 g (180 ml) gesoute botter teen kamertemperatuur

45 g (250 ml) graanvlokkies van jou keuse

100 g (250 ml) droë klapper

160 g (200 ml) strooisuiker

135 g (250 ml) bruismeel

12 g (30 ml) kakaopoeier

Sjokoladebolaag

200 g donker- of melksjokolade, in klein stukkies opgekap

Plaas die botter in ’n 20 x 20 cm vierkantige mikrogolfbak. Mikrogolf op volle krag tot gesmelt. Voeg die graanvlokkies, klapper, suiker, meel en kakaopoeier by en roer tot goed gemeng. Druk die mengsel stewig in die bak vas. Mikrogolf op hoog vir 5 minute.

Haal uit die mikrogolfoond en strooi die gekapte sjokolade oor die gebak terwyl dit nog warm is. Sodra die sjokolade gesmelt het, vat ’n mes en versprei dit eweredig. Sny in stafies en bedien.

WENK: As jy nie sjokolade het nie, sif 260 g (500 ml) versiersuiker en 25 g (60 ml) kakaopoeier saam en meng dan 15-30 ml (1-2 eetlepels) kookwater goed by. Smeer dit oor die stafies.

Einde-van-die-maand-truffels

Maak 20

300 g van jou gunstelingbeskuitjies (wat jy in die kas het)

40 g (125 ml) klapper, gerooster

1 x 385 g blikkie kondensmelk

200 g goeiegehalte-sjokolade, gesmelt

5 ml (1 t) kokosneutolie, gesmelt

Plaas die koekies en klapper in ’n voedselverwerker en verwerk tot fyn. Voeg die kondensmelk by en meng goed. Rol opgehoopte teelepels van die mengsel in balletjies en plaas dit op ’n uitgevoerde bakplaat. Verkoel tot ferm (sowat 10 minute).

Meng die gesmelte sjokolade en klapperolie goed saam. Plaas ’n klein bietjie gesmelte sjokolade in die palm van jou hand, rol dan elke truffel in die sjokolade in jou hand. Pak op ’n uitgevoerde bakplaat en laat dit afkoel. Herhaal met die oorblywende beskuitjiemengsel en gesmelte sjokolade. Stoor tot twee weke op ’n koel plek in ’n lugdigte houer.

Donkersjokolade­mousse

(Met water, sonder room)

180 ml (¾ koppie) water

230 g donkersjokolade (70% kakao), fyngekap – gebruik die beste sjokolade wat jy kan bekostig.

Plaas die water en donkersjokolade in ’n kastrol en verhit liggies terwyl jy aanhoudend roer tot die sjokolade gesmelt het. Gooi in ’n metaal- of glasbak wat in ’n ander bak pas. Vul die onderste bak met ysblokkies en plaas die een met die sjokolade daarin bo-op. Met ’n elektriese handmenger, klits die mengsel totdat dit begin verdik en sagte punte vorm. Plaas die mousse onmiddellik in ’n opdienbak of individuele glase en plaas in yskas om af te koel. Bedien met vars bessies of ander vrugte.

WEN: Chocolate word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R380. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “chocolate” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 15 Februarie 2019.

Meer oor:  Sjokolade  |  Valentynsdag  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.