Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Só werk wynbeoordeling gedurende Covid-19

Dit is nou amptelik wynkompetisie-seisoen in Suid-Afrika en dit is die tweede jaar agtereenvolgens wat ons onder die druk van die Covid-19-pandemie staan – so ook as dit kom by die kompetisie se beoordeling.

Daar is natuurlik verskillende soorte kompetisies – dié wat net een druifsoort of een wynstyl op ’n slag beoordeel, soos sauvignon blanc, pinotage, shiraz (enkeldruifsoorte), of die wynstyle soos rosé, Cap Classique of pinotage-versnitte (Kaapse versnitte).

Dan is daar kompetisies wat die hele spektrum van wyn en wynprodukte (soos brandewyn) beoordeel, soos Veritas, die SA Jongwynskou en die Michelangelo- internasionale wyn-en-spiritualieë­kompetisie. In hierdie kompeti­sies word alle kategorieë indivi­dueel deur panele met dié kundig­heid beoordeel.

Om as ’n kompetisie-beoordelaar te dien, is ’n baie bevoorregte posisie.

Daar is ’n paar redes daarvoor: Nie net omdat jy een van ’n klein groepie is wat vertrou word om die wyne op die eerlikste moontlike en verantwoordelikste manier te beoordeel nie; dis ook ’n goeie tyd om te netwerk met ander beoordelaars – kollegas en vriende wat jy dalk lank laas gesien het, of nuwe vriende, veral met internasionale kompetisies of internasionale beoordelaars wat vir kompetisies na Suid-Afrika genooi word.

Maar wat nou gemaak met al die beperkings van een en ’n half meter uitmekaar, maskers, sanitasie en dies meer tydens die pandemie? Dit het voorwaar vir kompetisie-organiseerders baie meer werk en verantwoordelikheid gegee om te verseker dat almal tydens beoordeling veilig kan voel.

Veiligheid gewaarborg

Verlede jaar het Elsabe Ferreira, eienaar van Elpro en bestuurder van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), aangekondig dat hulle die eerste organiseerder van wynkompetisies is wat wêreldwyd die leiding neem met die implementering van ontsmettingstelsels vir wynbeoordeling tydens die Covid-19-pandemie. Dit is in samewerking met Tharo Wine,’n Stellenbosse kuipery en ontsmettingsdiens-spesialis met sy UV-verwante Uvozone-stelsel, ’n eerste vir die wynbedryf.

Dié stelsel het die sanitêre standaarde van wynkompetisies tot ’n nuwe vlak geneem, met die gebruik van ultraviolet en osoon-lug-en-oppervlak-sanitasietegnologie. Dieselfde stelsel sal vir die 2021-kompetisies gebruik word.

Wynand Hamman, algemene bestuurder van Tharo Wine, wat die sanitasietoerusting verskaf, sê: “Dit is ’n groot voorreg om ons tegniese kennis en UV- en osoon-tegnologie aan SANWSV beskikbaar te stel vir die wynskoue.”

Hamman beklemtoon dat die daaglikse Uvozone-ontsmetting elke vierkante sentimeter van die perseel dek – elke tafel, stoel, venster, bottel en proeglas – in die nag voor elke dag se beoordeling. Verder sal elke beoordelaar daagliks ’n elektroniese keuringsvorm ontvang om inligting omtrent hul gesondheidstoestand in te vul alvorens hulle die huis verlaat.

Die Uvozone-stelsel is oor 15 jaar deur Tharo Wine ontwikkel – aanvanklik gefokus op eikehoutvat- en wyntenk-sterilisasie, maar dit word deesdae ook ingespan vir die lug-sterilisering van koelkamers, wynkelders en stoorgeriewe, kantore en vele meer.

Hierdie stelsel gebruik UV-C-ultravioletlampe en UV-lampe wat osoon produseer. Die UV-C-lig, verduidelik hulle, is kiemdodend en deaktiveer die DNS van bakterieë, virusse en ander patogene en vernietig daardeur hul vermoë om te vermenigvuldig en siekte te veroorsaak.

UV-C-lig beskadig die nukleïensuur van mikro-organismes deur kovalente verbindings van aanliggende basisse in die DNS te vorm. Sulke verbintenisse verhoed DNS om ontsluit te word vir replikasie en die organismes kan dan nie reproduseer nie.

Die osoon-produserende lampe word vir twee uur gedurende die vroeë aand aangeskakel en die lugversorgingstelsel versprei die osoongas deur die perseel. Daarna word die kiemdodende UV-lampe (wat skadelik vir die menslike vel en oë is) op hul beurt geaktiveer en help tot vier uur lank om die oorblywende osoon in die lokaal op te breek en dit veilig vir menslike toegang te maak.

Tharo beskik oor die nodige metingstoerusting om UV-bestraling- en osoonvlakke te meet en te verseker dat die perseel veilig is vir mense.

Dís hoe beoordeling verloop

Elpro en AgriExpo, bestuurders van die verskeie kompetisies, gebruik die volgende maatreëls deurgaans:

  • Aanlyn vorm vir keuring wat daagliks deur almal voltooi word voordat hulle na die beoordelingslokaal vertrek.
  • Temperatuur-keuring en handontsmetting met aankoms.
  • Verpligte maskers en die handhawing van ’n veilige afstand van 2 m tussen beoordelaars.
  •  Slegs een hanteerder van glase wat op skinkborde geplaas word, skoon glase vir elke rondte wyn en een hanteerder van skinkborde per paneel.
  • Alle glase en koffiebekers word in ’n spesiale skottelgoedwasser teen 80 °C gewas.
  • Maskers moet te alle tye gedra word wanneer rondbeweeg word, asook wanneer die skinkbord met glase tussen evalueringsrondes neergesit of verwyder word.
  • Maskers word gedra wanneer paneellede kleedkamer toe gaan en hul hande word weer ontsmet wanneer hulle na hul sitplekke terugkeer.
  • By elke werkstasie word ontsmette papier en skryfbehoeftes, handontsmettingsmiddel, verpakte beskuitjies en gebottelde water geplaas. Wanneer die papierwerk ingeneem word, ontsmet die kollekteerder eers sy of haar hande.
  • Ná elke dag se proesessie word die spoegbakke behoorlik skoongemaak, drooggemaak en met ontsmetmiddel gespuit.
  • Die plastiek-uitgevoerde vullisdromme word elke dag vervang en alle gebruikte servette en sneesdoekies moet dadelik in die vullisdrom geplaas word.
    Meer oor:  Wyn  |  Wynkompetisie  |  Wen
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.