Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Soete steek

Ma en Pa het altyd skelmpies ons vier kinders se verjaardagkoeke gebak, en dit was waarna ek die heel meeste uitgesien het – behalwe die geskenke natuurlik.

Daardie kinderlike vreugde en opgewondenheid omdat dit die een dag in die jaar was wat jy alleen al die aandag van Pa en Ma gekry het.

Daardie oggend wanneer jy wakker geword het, het jou geskenk op die bed gelê, jou beste maatjies het kom speel en jou droomkoek was spesiaal vir jou gebak.

Daar was nie grênd partytjiepakkies nie – die NikNaks, springmielies en lekkergoed het sommer in groot, gekleurde Tupperware-bakke op die tafel gestaan, terwyl ’n yskoue beker Oros alles in die hoek gade geslaan het.

Wanneer al die maatjies daar was, het Ma en Pa die koek met die brandende kersies ingedra. “Veels geluk, liewe maatjie . . .” Dan was ek trippelend buite myself van opgewondenheid.

Gelukkiger kon dié kinderhart nie wees nie.

My gunsteling was Hompie Kedompie, kiertsregop, spierwit en eierrond met ’n breë glimlag op ’n donkerbruin botterversiersel-baksteen-koekmuur!

Die gras was groen gekleurde klapper en die koning en sy soldate het uit my broers se speelgoedbokse gekom.

Ons het sorgeloos in die tuin baljaar tot skemer. Dit was kinderhemel.

As ek nou as grootmens ’n verjaardagkoek moet kies, sal dit die bienenstich uit Landbou Boerekos wees.

Arina du Plessis

Arina du Plessis, outeur van dié kookboek, vertel: “Regstreeks vertaal beteken bienenstich ‘bysteek’. Dié heerlike Duitse heuning-, amandel-, en bakkersvlakoek verg tyd en moeite om te maak. Maar as jy dit eenmaal geproe het, sal jy dit weer en weer wil eet. Dis terselfdertyd sag en bros, romerig en heuningrig.

“Vir my heeltemal onweerstaanbaar.” Klink vir my na grootmenshemel.

‘Landbou Boerekos’ deur Arina du Plessis

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, skryf: “As plaasmeisie van die Ceresdistrik wat in haar ma se bedrywige kombuis op die familie-vrugteplaas om die kospotte grootgeword het, was daar kwalik iemand beter gekwalifiseerd as Arina om van Boerekos die groot sukses te maak wat dit vandag is.

“Nie net ken sy die ritmes van ’n plaas en sy mense nie, sy het ook van kindsbeen af oor die platteland se ryk kostradisies geleer.

“Dit is presies hierdie intieme insig wat Arina in staat stel om nie net bloot oor kos te skryf nie, maar om eerder die ­geliefde geure en bestanddele van ons ­

kinderdae te herinterpreteer, ’n nuwe baadjie aan te trek, en so deurlopend ’n nuwe, dog bekende, generasie geregte op te tower.

“Geregte wat hul plek met trots kan inneem langs ou geliefdes, soos vetkoek, groenboontjiebredie en oondgebraaide skaapboud.”

As jy dié week verjaar, lekker verjaar, ou maat, en bederf jouself totdat jy weer kinderlik gelukkig voel.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpotgieter.com

anelpot@telkomsa.net

Grootmenshemel: Gaan só te werk

Foto:
Duitse heuning-, amandel-, en bakkersvlakoek (bienenstich)

Vulsel

310 ml volroommelk

½ vanieljepeul, in die lengte deurgesny en

saadjies uitgeskraap

60 ml strooisuiker

3 groot eiergele

15 ml koekmeel

15 ml mielieblom

60 ml ongegeurde roomkaas (opsioneel)

Deeg

60 ml volroommelk

30 ml heuning

190 ml koekmeel

15 ml kitsgis

30 ml strooisuiker

1 ml sout

2 eiers, geklits

125 g sagte botter, in blokkies gesny

Bolaag

60 ml gesmelte botter

60 ml suiker

60 ml heuning

Knippie sout

100 g gevlokte amandels

Maak eers die vulsel: Verhit die melk, vanieljepeul en -saadjies tot net onder kookpunt. Klits die suiker en eiergele goed saam in ’n mengbak. Voeg die meel, mielieblom en ’n paar druppels melk by (genoeg om dit tot ’n gladde pasta te meng). Voeg die warm melk by die eiermengsel, roer tot glad en giet alles terug in die kastrol. Verhit stadig oor lae hitte totdat die mengsel verdik en gaar is. Verwyder dadelik van die hitte en giet in ’n skoon, koel bak. Verwyder die vanieljepeul. Bedek die vulsel met kleefplastiek en laat afkoel tot kamertemperatuur. Verkoel tot benodig.

Vir die deeg: Verhit die melk en heuning tot louwarm. Meng die meel, gis, strooisuiker en sout in ’n mengbak. Voeg die melkmengsel en geklitste eiers by en meng tot ’n deeg. Knie die botter blokkie vir blokkie by. Knie die deeg goed vir sowat tien minute tot elasties. Vorm die deeg in ’n bol, sit in ’n groot bak en bedek losweg. Laat rys op ’n warm plek tot verdubbel in volume. Knie die deeg af en sit dit terug in die bak. Bedek weer en plaas die deeg in die yskas vir ongeveer vier uur. Haal uit die yskas en laat staan die bak deeg op ’n warm plek totdat die deeg in volume verdubbel het. Smeer intussen ’n losboomkoekpan van 24 cm goed met botter. Knie die deeg weer af en druk dit eweredig in die pan. Bedek weer losweg en laat rys die deeg ’n derde keer totdat die pan vol gerys is. Voorverhit die oond tot 180 °C.

Vir die bolaag: Verhit die botter, suiker en heuning saam oor lae hitte totdat die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en prut vir ’n minuut. Verwyder van die hitte en roer die amandels by. Skep die mengsel eweredig oor die deeg. Bak vir 25–30 minute tot die bolaag gekaramelliseer is. Laat vir tien minute in die pan afkoel en haal dit dan uit om heeltemal op ’n draadrak af te koel.

Om af te rond: Sny die koek in twee dunner lae met ’n skerp broodmes. Haal die vulsel uit die yskas en klits deur. As die vulsel te dik is, voeg die roomkaas by en klits tot glad. Smeer die vulsel oor die onderste laag van die koek en sit die boonste laag bo-op. Sit voor met koffie of tee.

  • Uit Landbou Boerekos

Die woord “boerekos” beteken baie dinge vir baie mense. Dit is die term vir van ons tradisionele erfkos soos bobotie, melktert, skuinskoek en waterblommetjiebredie, ja. Dis ook die term vir kos wat mense destyds gemaak het met dít wat op hul lande gewei en in hul akkers gegroei het. Die kos wat jy maak met dit wat jy tot jou beskikking het. Met plaasprodukte. Eenvoudige, goeie kos sonder tierlantyntjies, sê Arina du Plessis.

Arina du Plessis

Dié lesers wen elk ’n eksemplaar van Just Add Rice: Joy Malherbe (die Strand), Sandra Venter (Uitenhage) en Linda Liebenberg (Pretoria).

Landbou Boerekos word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R320. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “boerekos” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 12 Oktober 2018

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.