Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Sondagmaal: See maak Seychelle ’n kosparadys
Vars vissies op die mark. Foto:
Broodvrug word soos aartappels voorberei. Hier is byvoorbeeld diepgebraaide broodvrug-skyfies.
Dié heerlike visslaai word gemaak van gerookte marlyn (ek sal die marlyn met gerookte tuna vervang), rooi uie, rooi soetrissies, tamaties, sprietuie, diepgebraaide kerrieblare, sout, witpeper, olyfolie en lemmetjiesap (of suurlemoensap met lemoensap

Ek was bevoorreg om onlangs die tropiese eilandgroep die Seychelle te besoek om saam met van hul topsjefs te kook en sodoende te leer wat die plaaslike inwoners eet en hoe hulle dit gaarmaak.

Die kos (nie die gemors wat jy by baie hotelle kry nie) is uniek aan die Seychelle en is ’n samesmelting van Franse, Chinese, Indiese, Engelse en Afrika-geure met ’n groot verskeidenheid kombinasies van suur, soet en spesery.

Twee geregte wat my asem weggeslaan het, was die betowerende seekatkerrie en verfrissende gerookte marlynslaai.

Seekos en vleis

Vis- en hoenderkerrie is stapelvoedsel in die Seychelle en word gemaak met masala, baie branderige rissies en kokosneutmelk. Die Seychellese eet elke weekdag vis wat vars by die markte verkoop word. Dit word gekerrie, gerook, gesout, rou geëet (ceviche) of gebraai. Vir ’n visbraai sny hulle kepe in die heel vis, vryf dit in met knoffel, gemmer en rissies en dan word dit oor medium kole gebraai.

Vark en hoender word veral naweke geëet en word gemarineer in sojasous, gemmer, knoffel en tiemie en dan gebraai.

Seekat is duurder as vis en word net met spesiale geleenthede in heerlike slaaie en kerries omskep. Seekatslaai is ’n kombinasie van gekookte seekat, rooi uie, bilimbi (’n suur vruggie wat in visgeregte en slaaie gebruik word), rooi soetrissies, tamaties met ’n goeie skeut limon (’n klein, baie suur lemmetjie met ’n heerlike smaak van lemmetjie, lemoen en suurlemoen).

Bloedwors en vlermuiskerrie

Ek was baie verbaas om te sien dat die Seychellese baie bloedwors eet. Seker jare gelede by die Engelse geleer.

En dan was ek dapper en het ’n porsie vlermuiskerrie geëet.

Ek weet dit is erg! Maar ons lewe net een keer en ek is ’n foodie, so ek móés. Die grillerige gediertetjie is baie ryk en die tekstuur, baie beentjies en smaak laat my aan ’n kwartel dink, maar met ’n wilder smaak. Hoe dan anders? Mnr. Vlermuis ís mos wild!

Sal ek dit weer eet? Nee, net die gedagte maak my naar!

Groente en vrugte

Daar is ’n groot verskeidenheid tropiese vrugte in die Seychelle en van net piesang is daar 23 variëteite.

Die inwoners eet seisoenaal, en toe ek daar was, was die mark vol avokado’s, eiervrug, komkommers, pampoene, margoz (stekelagtige groente wat in soutwater geweek word en in slaaie gebruik word), kassawe, broodvrug (dit word soos ’n aartappel gaar gemaak), jams (’n soort patat, wat veral in kokosneutmelk gekook en as nagereg voorgesit word), rissies, bilimbi’s, pynappels, mango’s, spanspekke, piesangs, kokosneute en limons.

Rys

Basmati-rys word daagliks geëet en elke huishouding het ’n ryskoker. Dit word net so geëet of met komyn en diepgebraaide kerrieblare gegeur.

Kruie en speserye

Die Seychellese is baie lief vir tiemie en dit word gebruik in omtrent in elke gereg (kerries, gebraaide kosse, slaaie, ensovoorts). Kerrieblare, kaneelblare, witpeper, naeltjies, borrie en ’n verskeidenheid kerriepoeiers word ook algemeen gebruik.

Baie, baie dankie

Ek wil baie dankie sê vir al die sjefs wat tyd vir my gemaak het en vir Ash en sy span by die Coco de Mer-hotel vir hul gasvryheid.

Groete uit my kombuis,

Anél

lifeisazoobiscuit.com

anelpot@gmail.com

Seekatkerrie Foto’s: Anél Potgieter

Seekatkerrie
  • 2 kg seekat
  • 1 vanieljeteesakkie (ek sal dit met ’n sakkie rooibostee vervang)
  • 1 kaneelstokkie
  • 5 ml suiker
  • 30 ml olie
  • ½ rooi ui, gesny
  • 5 ml komyn
  • 10 ml gemmer, gerasper
  • 10 ml knoffel, gerasper
  • 30 ml kerriepoeier (medium)
  • 3 kaneelblare (gebruik een klein kaneelstokkie)
  • 10 kerrieblare
  • 4 naeltjies
  • 5 ml borrie
  • 2 baie sterk rissies
  • 1 l kokosneutmelk
  • 5 ml sout of na smaak
  • 10 ml suurlemoensap

Só maak ’n mens:

1. Sny seekat in stukke, bedek met water, voeg teesakkie, kaneelstokkie en suiker by. Kook vir twee uur. Haal van stoof en plaas in yswater tot afgekoel. Dreineer.

2. Verhit olie in ’n groot pot en braai uie tot deurskynend. Voeg komyn, gemmer, knoffel, kerriepoeier, kaneelstokkie, kerrieblare, naeltjies, borrie en rissies by. Braai alles vir twee minute.

3. Voeg die seekat by en roer totdat al die seekatstukke met die speserymengsel bedek is. Braai vir so 2 minute terwyl jy aanhoudend roer.

4. Roer die kokosneutmelk en sout by en kook vir omtrent 45 minute op lae hitte totdat die kokosneutmelk dik en romerig is. Proe vir sout. Gooi laastens die suurlemoensap by.

Vir meer inligting: seychelles.travel

Akkommodasie: cocodemer.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.