Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Sonder gluten en in seisoen

Dit was so reg in die middel van my oggend toe ek Seisoenskos deurblaai. Ek was toe al douvoordag aan die gang, was reeds baie honger, en soos ek deur die kookboek blaai, het my maag begin honger-gil!

Hulle sê mos jy eet eerste met jou oë. Alles lyk en klink net verruklik lekker. Vat nou maar die stadig geroosterde varklies met laventel-nektariens, garnale met tropiese sous, groentetert met ’n aartappelkors, tarte tatin met witlof, bros baba-aartappels met parmesaankaas, en sjokoladepavlovatert. So grom, grom, grom my maag toe luidkeels.

Seisoenskos, saamgestel deur Aletta Lintveldt, kosredakteur van Weg! Platteland,

Seisoenskos

Seisoenskos, saamgestel deur Aletta Lintveldt, kosredakteur van Weg! Platteland, nooi jou om heeljaar volgens die seisoen te eet. Die voordele is legio: Nie net gaan jou beursie dikker wees nie, maar jy trap ook ligter op moederaarde. En is dit nie wat ons almal tog wil doen nie?

Heerlike glutenvrye resepte

Baie mense probeer deesdae gluten vermy (myse selwers), en ek het twee glutenvrye resepte uit Seisoenskos gekies om vandag te deel. Die sjokoladepavlovatert bevat geen meel nie en het die tekstuur van nougat. Jy kan dit ook die dag voor die tyd maak. Die groentetert het ’n smaaklike kors wat net uit aartappel bestaan. Hoe lekker klink dit nie?

Seisoenskos is ’n pragtige kookboek wat ’n permanente staanplek op my rak gaan kry. En deesdae is ek maar kieskeurig, so dit spreek boekdele.

Groete uit my kombuis. anelpotgieter.com

Sjokoladepavlovatert 

125 g dadels, droë vye of appelkose

150 g okkerneute

6 eierwitte

’n knippie sout

250 g sagte bruinsuiker

¼ koppie (60 ml) donker, onversoete kakaopoeier

gesnyde vrugte en ’n mengsel van roomkaas en geklitste room om voor te sit

Verhit die oond tot 180 °C en spuit ’n 24 cm-losboomkoekpan met kleefwerende kossproei voordat jy dit met bakpapier uitvoer. Indien jy nie die sagte, klam soort vye of appelkose gebruik nie, laat dit vir tien minute in ’n sif oor ’n bak pasgekookte water stoom met die deksel op.

Druk dit droog en kap dit in growwe stukke. Rooster die neute in ’n droë pan en kap grof. Klits die eierwitte en sout totdat dit stywe punte vorm, en klits dan die suiker bietjies-bietjies by. Hou aan klits totdat die suiker opgelos het en die mengsel blink is. Sif die kakaopoeier bo-oor, vou dit saam met die vrugte en neute deur die eiermengsel en skraap dit uit in die voorbereide koekpan.

Maak die beslag bo-op gelyk en bak dit vir 45 tot 55 minute. Die tert is gereed as dit donkerbruin is en droog en ferm voel wanneer jy daarop druk.

Laat die tert in die pan afkoel. Indien jy dit nie binne ’n uur of twee gaan voorsit nie, kan jy dit sommer net so in die koekpan met kleefplastiek toedraai en buite die yskas hou. Sif ’n laag donker kakaopoeier bo-oor net voordat jy dit voorsit met gesnyde vrugte en ’n mengsel van roomkaas en geklopte room.

Groentetert met aartappelkors

Kors:

3 eetlepels (45 ml) botter

1 kg aartappels

1 eetlepel (15 ml) sout

1 teelepel (5 ml) peper

1 eier

2 eetlepels (30 ml) fyngekapte vars roosmarynblaartjies

Vulsel:

500 g elk broccoli en blomkool, in stukke gebreek

2 rooiuie, in agstes gesny

8 heel babawortels

6 knoffelhuisies, ongeskil

6 takkies vars tiemie

olyfolie

sout en varsgemaalde swartpeper

3 groot eiers

1 koppie (250 ml) room

100 g fetakaas, gekrummel

100 g parmesaankaas, gerasper

Verhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n losboomkoekpan (23 cm) met botter en voer die boom en kante met bakpapier uit.

Skil die aartappels en rasper dit grof. Meng die sout, peper, eier en roosmaryn deur die aartappel en druk dan dié mengsel in die koekpan vas sodat dit die boom en kante bedek. Probeer om dit so eweredig as moontlik te kry en maak seker daar is nêrens gate nie. Bak die kors vir 1 uur in die oond.

Sprei die broccoli, blomkool, ui, wortel, knoffelhuisies en tiemietakkies op ’n bakplaat uit. Drup ’n paar eetlepels olyfolie bo-oor, geur dit met sout en peper en sit dit saam met die kors in die oond. Haal die groente ná 30 minute uit en laat dit effens afkoel voordat jy die sagte knoffel uit die skil druk en die tiemieblaartjies afstroop. Gooi die skil en tiemietakkies weg. Meng die eier, room en die helfte van die feta en parmesaan.

Haal die aartappelkors ná ’n uur uit die oond en pak die groente daarin. Gooi die eiermengsel oor en sprinkel die orige feta en parmesaan bo-oor.

Verlaag die oondtemperatuur tot 180 °C en bak die tert vir 30 minute. Laat 15 minute staan voordat jy dit voorsit – of laat dit afkoel en hou dit in die yskas.

’n Vrugtekoek moet klam, ryk en lekker wees – vol heel kersies en neute, en die bestanddele moet van die beste gehalte wees. Mynhardt Joubert se vrugtekoeke is vir my die lekkerste in die hele wye wêreld (jammer, Ma). Dit kos net R300 per koek en hy lewer landwyd af. Ek kan nie eens dink om ’n vrugtekoek van so ’n hoë gehalte vir daardie prys te bak nie. Daar is reeds twee wat in my spens lê en ek dose dit lekker met brandewyn tot Kersfees.

Bestel Mynhardt se vrugtekoeke per e-pos by cakes@mynhardt.co.za, aanlyn by mynhardt.co.za, of skakel 078 800 5155.

Meer oor:  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.