Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Steek jou kop in gisnis

Gefermenteerde kos hou partytjie in jou mond – en is boonop gesond ook

Ek het vir die eerste keer in my lewe my kop in die suur fermentasie-gisnes gesteek en sauerkraut, kimchi (’n gespeseryde Koreaanse bykos) en gefermenteerde tamatiesous gemaak.

Moet nou nie dink ek is besig om in ’n 1970’s-blommekind of in ’n suurknol te verander nie, maar die fermentering van eenvoudige kosse soos kool, wortels, rissies, radyse en tamatiepasta was en is ’n onbeskryflike opwindende proses.

En noudat ek tuisgemaakte gefermenteerde kos geproe het, wonder ek hoe ek daarsonder kon klaarkom. Elke keer as ek ’n happie vat, is daar ’n kospartytjie in my mond en proe ek kos met karakter en ’n uitsonderlike smaak.

Gisting en bakterieë

Stap 2: Masseer die sout in die groente in.

Fermentasie (gisting) is basies die groei van goeie bakterieë (bakterieë wat ons liggaam nodig het) en dit word in die maak van byvoorbeeld jogurt, suurdeegbrood, sauerkraut (suurkool), kimchi en tamatiesous gebruik.

Goeie bakterieë floreer in ’n anaërobiese (geen suurstof) omgewing, terwyl “slegte” bakterieë gewoonlik in ’n aërobiese omgewing groei (waar suurstof geredelik beskikbaar is).

Al klink gegiste groente en kosse dalk nie vir jou te aptytwekkend nie, hou dit baie gesondheidsvoordele in en word beskryf as die natuur se probiotika. As jy elke dag ’n bietjie daarvan eet, kan dit jou maag en dermkanaal gesond hou deur jou “maagflora” in stand te hou.

Stap 3: Pak die bottel styf met ’n sakkie vol water en draai die deksel liggies toe.

Gegiste kosse verdryf ook glo moegheid en gee jou energievlakke ’n hupstoot.

Sauerkraut

Sauerkraut is baie maklik en goedkoop om te maak. Ek het sommer op YouTube gaan kers opsteek en my eie resep ontwikkel. Neem een groot koolkop, sny dit fyn (ek het ’n voedselverwerker gebruik), skil twee groot wortels in dun linte met ’n aartappelskiller, en as jy lief is vir ’n warm dingetjie, sny ’n rissie daarby fyn. Meng al die groente in ’n groot skottel saam met drie eetlepels sout. Masseer die sout vir so tien minute in die groentemengsel in. Die sappe van die kool en die sout vorm ’n natuurlike pekelvloeistof.

Pak nou alles (die groente én vloeistof) styf in ’n gesteriliseerde bottel – die bottel moet amper vol wees.

Om ’n anaërobiese omgewing te skep het ek ’n plastieksakkie bo-op die kool ingepas (met die sakkie wat oor die kant van die bottel hang) en die sakkie met water gevul.

Plaas die bottel op ’n bord en maak dit liggies met die deksel “toe”. Dit verhoed dat die storie in ’n bom verander, want die sauerkraut burp (gasse ontwikkel en moet vrygelaat word) en die water gaan bo uit die sakkie begin loop. Los die sauerkraut op die bord in ’n donker area en vergeet vir so vyf tot sewe dae daarvan.

Tamatiesous met karakter

Gefermenteerde tamatiesous is vir my ’n sensoriese smaakontploffing en ek sal nooit weer in my lewe gewone tamatiesous koop nie. Dié tamatiesous het hope karakter en is nie vol suiker en preserveermiddels soos gekoopte tamatiesous nie. Speel rond met die speserye en maak dit jou eie.

Sover was fermentering my kulinêre hoogtepunt van 2019 (agteros kom ook in die kraal) en ek wil julle regtig aanmoedig om dit te probeer. Dit is spotgoedkoop en baie gesond.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Anél se sauerkraut

1 groot kopkool, fyngesny

2 wortels, in linte geskil met ’n aartappelskiller

1 jalapeño-rissie, fyngesny

3 eetlepels sout

’n groot gesteriliseerde glasbottel

Meng al die bestanddele saam in ’n bak en masseer die groente vir so tien minute goed in met die sout. Pak die mengsel met die sappe baie styf in die bottel in. Om ’n anaërobiese omgewing te skep, plaas ’n paar koolblare bo-op of plaas ’n plastieksakkie met water in bo-op die kool. Draai die deksel liggies op, maar gee spasie om te “burp”. Plaas op bord en laat vyf tot sewe dae fermenteer.

Wie is jou gunsteling?

Restaurantgangers kan tot komende Woensdag 31 Julie 2019, vir hul gunsteling-eetplekke stem om as een van die 2019 Eat Out Mercedes-Benz Beste Alledaagse Eetplekke aangewys te word. Die publiek sal bepaal watter restaurante beoordeel sal word om die kategorie-wenners aan te wys.

Laai die Eat Out-app af of besoek eat­out.co.za om resensies te skryf en sterre toe te ken aan die restaurante wat jy die afgelope jaar besoek het.

Vir elke resensie wat geplaas word, gee Eat Out ’n maaltyd aan ’n honger kind deur middel van Rise Against Hunger.

Die kategorieë vir die 2019 Eat Out Mercedes-Benz Beste Alledaagse Eetplekke is soos volg: Beste Afrika-geïnspireerde eetplek, Beste Asies-geïnspireerde eetplek, Beste bistro, Hellmann’s Beste burgerrestaurant, Beste koffiewinkel, Beste plattelandse-styl restaurant, Beste Indies-geïnspireerde restaurant, Beste Italiaans-geïnspireerde restaurant, Beste seekosrestaurant, Tramontina Beste steak­house, Beste koswaentjie, Beste tapas-eetplek en Beste Mexikaans-geïnspireerde restaurant.

Gefermenteerde tamatiesous

175 ml tamatiepasta

30 ml sauerkraut-vloeistof (koop ’n botteltjie sauerkraut en gebruik die vloeistof of maak eerste my sauerkrautresep)

20 ml water

25 ml heuning

1 knoffelhuisie, gerasper

2,5 ml sout

2,5 ml kaneel

1 groot knypie fyn naeltjies

1 groot knypie rissiepoeier

water

30 ml appelasyn

’n 350 ml glasbottel

Meng al die bestanddele saam behalwe die appelasyn. Proe en geur soos jy daarvan hou. Skep in die glasbottel en gooi die appelasyn versigtig oor. Moet nie roer nie! Maak styf toe en los teen kamertemperatuur in ’n donker plek vir so drie tot vyf dae. Roer asyn by en verdun met water indien dit te dik is. Plaas in yskas.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kostelik  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.