Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Stellenbosch: Familiepret en ’n tikkie Rusland

Of jy nou soek na ’n rustige piekniek saam met jou gesin op ’n Saterdag, ’n teepartytjie saam met vriendinne of ’n aand van pizza en bier – Hazendal se verskeidenheid van aanbiedinge bied iets vir almal.

Hierdie wynplaas is gedurig aan die verander en uitbrei. Tussen my vorige besoek ’n jaar gelede en nou is daar ’n nuwe biertuin aangebring en die teetuin is na binne geskuif om dié ervaring heeljaar te bied. Dit is net twee goed van vele!

Dié wynplaas op die Bottelary-pad is beslis ’n volle bestemming: jy kan wynproe, eet, bergfietsry, stap én daar is ’n plek waar die kinders kan ontspan.

Nie net is daar verskillende kulinêre opsies en baie wyn om van te kies en keur nie, maar die hele atmosfeer hier is rustig en jy voel of jy nie eens meer in Stellenbosch is tydens jou besoek nie – eerder ver weg.

Wonderdal is die plaas se binnenshuise kinderspeelplek wat fokus op interaktiewe onderrig-vermaak. Hier kan kinders tussen vyf en 13 meer ontdek oor wetenskap, voedingkunde en die natuur tydens verskeie aktiwiteite. Daar is opgeleide personeel wat na die kinders omsien en hulle help. Dit kos tussen R125 en R190 vir twee uur, meer as genoeg tyd vir jou om te ontspan sonder om oor jou kinders te kommer.

’n Piekniek by Hazendal is die lekkerste manier om warmer dae in Stellenbosch te geniet.Foto: RIEHAN BAKKES

Wat om te geniet

Op die warmer dae wat voorlê, is ’n piekniek altyd ’n goeie idee. Die piekniek hier word gereeld aangepas en verander afhangend van watter vars produkte op die plaas beskikbaar is. Met jou mandjie lekkernye kan jy enige plek op die landgoed gaan sit op die piekniekkombers wat jy kry en ’n glasie wyn geniet terwyl jy peusel (R300 vir volwassenes en R140 vir kinders). Bespreek vooraf.

Vir iets om ná werk te doen, is die Pivnushka-biertuin ’n moet. Hier kan jy ’n bier, wyn of mengeldrankie geniet saam met jou vriende of kollegas, want die biertuin is tot laat saans oop.

Met die kombuis wat ook eers 21:00 toemaak, kan jy laataand ’n pizza, ’n peuselbord, of selfs ’n steak, burger en ribbetjies geniet. Dit is van Woensdae tot Sondae oop.

Vir ’n vinnige happie of selfs ’n heerlike sny koek is daar ook die Babushka-deli. Ontbyt word heeldag bedien en daar is ligte middagetes, toebroodjies en peuselborde om te geniet. Die deli is van Dinsdae tot Sondae oop.

Moet ook nie vergeet van die Russiese teeseremonie wat van Dinsdae tot Sondae aangebied word nie. Dit bied ’n ervaring waar jy meer oor die Russe se manier van teedrink kan leer.

  • Besoek www.hazendal.co.za vir meer inligting of om te bespreek.
  • Die plaas bied van 25 November weer hul Jazz-reeks teen R195 in die wynproelokaal aan.
  • Die Pivnushka-biertuin het ook ’n spesiale aanbieding op Woensdae en Donderdae van 16:00 tot 19:00 waar jy een bier koop en een gratis kry óf halfprys betaal vir mengeldrankies.
Meer oor:  Stellenbosch  |  Wynplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.