Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Superhelde in jou spens
Illustrasie: iStock

As kos strokiesprente was, sou dié kosse Superman en Hulk wees.

Sekere kosse beskik oor spesiale kwaliteite as dit kom by voedingswaarde. Sluit gereeld dié superkosse in as deel van ’n gesonde, gebalanseerde dieet.

Broccoli

Broccoli staan bekend as die heel kragtigste wapen teen kanker, veral long-, maag-, kolon- en rektumkanker. Dit gee ook die immuunsisteem ’n hupstoot, verminder die kanse om ’n katarak te kry, bevorder kardiovaskulêre gesondheid, bou bene en verminder die kanse op geboortedefekte. Dit bied geweldige hoë voedingswaarde teen min kilojoules.

Broccoli is boonop ’n groot bron van yster en vitamiene C en A. Vitamien C is ’n antioksidant wat jou help om vinniger gesond te word as jy siek is. Broccoli is een van die rykste bronne van chroom. Een koppie broccoli lewer tien maal die hoeveelheid chroom as dié wat groenboontjies en lemoene lewer.

Broccoli is die gesondste as dit rou is of gestoom word. Breek dit in klein blommetjies en eet dit met ’n doopsousie.

Appels

Die gesegde dat ’n appel ’n dag die dokter laat wag, is inderdaad waar. Appels is propvol antioksidante, veral vitamien C wat verantwoordelik is vir gesonde vel en tandvleis. Een appel gee jou ’n kwart van die hoeveelheid vitamien C wat jy daagliks nodig het. Dit bevat ook ’n vorm van oplosbare vesel genaamd pektien, ’n kragtige antioksidant wat help om jou cholesterolvlakke te verlaag en dit hou jou spysverteringstelsel gesond. Studies het selfs getoon dat volwassenes wat twee appels per dag eet, se cholesterolvlakke met 10% daal. ’n Appel is ook ’n koolhidraat met ’n lae glukemiese indeks (GI), wat beteken dat dit stadig verteer word en geleidelik deur die bloedstroom as glukose geabsorbeer word. Dit hou dus bloedsuikervlakke reëlmatig.

Dit is ryk aan minerale soos kalsium en magnesium en het viruswerende eienskappe. Appels is die gesondste as dit met die skil aan geëet word omdat die meeste van die vesel en antioksidante in die skil sit.

Eiers

Eiers word as ’n superkos gesien omdat dit jou algemene gesondheid so ’n groot hupstoot gee. Voedingskundiges gaan deesdae so ver as om te sê dat jy veronderstel is om elke dag ’n eier te eet.

Hoewel dit laag is in kilojoules, is eiers een van die beste bronne van proteïen, yster en ander minerale, vitamiene A, D, B2, B3, B5 en B12, en foliensuur. Dit bevat ook selenium en cholien. Vitamien B3 is noodsaaklik vir die afbreek van koolhidrate, proteïen en vet. Dit is ook nodig vir die vervaardiging van rooibloedliggaampies. Die proteïen wat in eiers voorkom, is per gram selfs meer as dié in vleis en vis.

Omdat daar so baie antioksidante in eiers is, help dit veroudering en degenerasie bekamp.

Die kleur van die eierdop dui geensins op die gehalte, voedingswaarde of smaak van die eier nie. Eiers met wit doppe word gelê deur henne met wit vere en wit oorlobbe en eiers met bruin doppe word gelê deur henne met rooi vere en rooi oorlobbe. Die hoenders wat bruin eiers lê, is gewoonlik groter en moet meer kos inneem, en dís die rede waarom bruin eiers gewoonlik duurder is as wittes. Kyk uit vir omega 3-eiers – die hoenders wat dié eiers gelê het, is met kos gevoer wat ryk is aan omega 3 en daarom is hul eiers ryk aan dié noodsaaklike vetsuur.

Bessies

Navorsing het gewys dat bessies een van die vrugtesoorte is wat die heel meeste antioksidante bevat en dit is ook baie goeie kankerweerders.

Aarbeie is byvoorbeeld baie ryk aan vitamien C en ook ’n goeie bron van vitamien A en kalsium. Dit bevat ook yster, foliensuur en kalium en bestry hoë bloeddruk en is goed vir bloedsomloopprobleme. Agt aarbeie bevat meer vitamien C as ’n mediumgrootte lemoen.

Swartaalbessies bevat meer vitamien C as enige ander vrug.

Bessies help ook hartsiektes en ouderdomsverwante oogsiektes voorkom.

Jogurt

Jogurt, veral onversoet, is een van die items wat jy maar altyd op jou inkopielys kan hou omdat dit ryk is aan goeie bakterie soos Lactobacillus bulgaricus wat die bakteriese balans in jou maag gesond hou. Jogurt verteer baie makliker as melk, maar bevat net soveel kalsium.

Quinoa

Een van die kossoorte wat onlangs eers by die lysie van superkosse gevoeg is, is quinoa. Dit is glutenvry, ’n baie goeie bron van proteïene en bevat boonop al nege noodsaaklike aminosure. Die veselinhoud van quinoa is hoog en dit bevat ook magnesium, die B-groep vitamienes, yster, kalium, kalsium, fosfor, vitamien E en antioksidante.

Sade

Sade soos sonneblom, hennep, pampoen, sesam, vlas en saffloer bevat ’n hoë konsentrasie vitamiene en minerale. Dis ’n ryk bron van omega 6-vetsure en pampoensade is ook ’n ryk bron van omega 3-vetsure. Dit bevat boonop groot hoeveelhede sink, magnesium en kalsium. Sesamsaad is besonder ryk aan proteïen, minerale soos kalsium, noodsaaklike vetsure en vitamien E, terwyl sonneblomsade weer baie ryk is aan vitamien E, die B-groep vitamiene en verskeie minerale.

Piesangs

Al ooit gewonder hoekom atlete altyd voor, tydens of ná ’n resies piesangs eet? Dis omdat piesangs hope energie verskaf en met net twee piesangs in jou lyf kan jy sowat 90 minute straf oefen (mits jy fiks is natuurlik.) Piesangs is ’n goeie bron van die B-groep vitamiene en vitamiene A en C, sowel as kalium, fosfor, sink, yster en kalsium. Dit word aanbeveel vir hardlywigheid én diarree, verminder sekere allergiesimptome en verhoog gesonde ingewandsbakterieë. Kalium is noodsaaklik vir gesonde senuwee- en spierfunksie. Dit bevat ook yster en stimuleer die produksie van hemoglobien in die bloed en help só met bloedarmoede.

Pampoen

Hoewel dit tot 94% water is, is pampoen propvol antioksidante, vitamien C en kalium. Een koppie gekookte pampoen bevat slegs 205 kilojoules, maar 245% van die aanbevole daaglikse hoeveelheid vitamien A.

Dis goed vir jou hartgesondheid. Navorsing wys mense wat genoeg kalium inneem, het laer bloeddruk en ’n laer kans op beroertes.

Wortels

Wortels laat jou inderdaad beter sien, soos ons ouers geglo het. Een middelslag-wortel bevat genoeg betakaroteen om aan ’n volwassene se daaglikse behoefte van vitamien A te voldoen. Betakaroteen is die plantpigment wat wortels hul oranje kleur gee en word in die liggaam omgeskakel na vitamien A. Dit bevat ook vitamiene C, E, K, B1, B3 en minerale soos kalium en magnesium.

Wortels help verder om bloedsuikervlakke te reguleer, wat veral goeie nuus is vir diabete en omdat ’n koppie wortels maar so min as 52 tot 53 kalorieë bevat.

Perspektief

Sommige kosse is gesonder as ander, maar dit beteken nie jy gaan 130 jaar oud word as jy elke dag net broccoli en wortels eet nie. Balans bly steeds die wagwoord, sê Omy Naidoo, ’n dieetkundige van Newtricion Wellness Dieticians (praktyke in KwaZulu-Natal).

“Daar is nie een spesifieke kos wat gaan keer dat jy siek word of jou op sy eie gesond gaan maak nie, maar deur ’n gesonde, gebalanseerde dieet te volg (wat superkosse insluit), kan jy die nodige vitamienes en minerale inneem wat jou liggaam benodig om op sy beste te funksioneer. So het jy die beste kans om siektes te beveg.”

Hy sê ’n Mediterreense dieet, wat baie groente en vrugte, olierige vis en vesel insluit en so min as moontlik verfynde suiker, is ’n baie gesonde, volhoubare dieet - en dis veral belangrik om so te probeer eet tydens die pandemie.

“Oefening, minstens 20-30 minute drie keer per week, is ook noodsaaklik vir ’n gesonde immuunstelsel.”

  • Bronne: What Should I Feed my Baby deur Suzannah Olivier (Weidenfeld & Nicolson), Healthline, Die Gesin se Gids tot Natuurlike Gesondheid deur Janet Maccaro (Struik Christelike Boeke).
Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Superhelde  |  Kos  |  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.