Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Sy bydrae het die wynbedryf verander

Prof. Piet Goussard het al baie diep spore in die wingerdbedryf getrap, wat gelei het tot sy mees onlangse toekenning.

Prof. Piet Goussard met sy 1659-erepenning. Foto: NATALIE GABRIELS PHOTOGRAPHY

Goussard, voorheen verbonde van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement wingerd-en-wynkunde, is verlede Donderdagaand by die Wynoesherdenkingsgeleentheid op die Groot Constantia-landgoed as die ontvanger van die 1659-erepenning aangewys.

Die erepenning word jaarliks aan ’n wynikoon of -instansie gegee wat diep spore in die bedryf getrap het. Die persoon moes ’n wesenlike bydrae tot die bedryf gelewer het waarvan daar ook genoegsame bewyse moet wees. Die bedryf, of ’n spesifieke aspek van die bedryf, moes positief daardeur beïnvloed word.

Die bydrae moet ’n blywende uitwerking hê en aanduidings toon van ’n besondere nalatenskap in die bedryf.

Goussard is die tweede wingerdboukundige wat dié erepenning ontvang sedert die eerste ontvanger in 1974 gekies is.

Sy navorsing en onderrig maak ’n verskil

Goussard is oorspronklik afkomstig van Prieska, maar het later in die Agter-Paarl gewoon, waar sy pa die skoolhoof van ’n plaasskool was.

Hy het ná skool by die US se departement wingerd-en-wynkunde begin studeer met ’n beurs van die KWV. By die einste departement het hy later sy honneurs- én doktorsgraad ontvang.

Dis ook die plek waar hy sy loopbaan as dosent begin en later as professor geëindig het. Hy was 14 jaar lank die departementshoof.

Reeds vroeg in sy studies is sy passie en liefde vir die wingerdbou raakgesien deur sy professor en ander dosente.

In sy jare by die universiteit het hy ’n groot rol gespeel in die onderrig, navorsing en tegnologieoordrag in wingerdkunde.

Goussard se navorsing was baie kenmerkend van sy loopbaan en word vandag steeds in die kwekerybedryf gebruik om goeiegehalteplantmateriaal te verseker.

Een van sy groot belangstellings was om virusvrye voorplantingsmateriaal te verseker en hy het later in sy loopbaan gefokus daarop om virusse deur middel van in vitro-metodes te verwyder.

Hy het onder meer verskeie artikels gepubliseer en toekennings ontvang, soos die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging (Sasev) se prys vir navorsing en innovasie.

Hy was ook ’n raadslid van Sasev en 15 jaar lank die redakteur van die vereniging se joernaal, die South African Journal of Enology and Viti­culture.

Behalwe al sy belangstellings, het Goussard ook ’n passie vir fotografie, wat hy gebruik het om onder meer mee te onderrig.

Hy het ’n portefeulje van foto’s wat die wingerdstokke, druiwe en wingerdblokke vasvang wat hy gebruik het om die “storie” van die druiwe en wingerd te vertel.

Dié foto’s is gebruik gedurende sy klasse om fotografiese voorbeelde vir studente te gee – hetsy van die perfekte wingerde of van dié wat foute het.

Goussard het bekend gestaan as die “walking viticulture en­cyclopedia” en het hierdie kennis van hom vasgevang in die drie boeke wat hy die afgelope agt jaar gepubliseer het.

“Met die koms van digitale fotografie was dit makliker om voorbeelde oor ’n wye spektrum aan studente voor te hou, en kon sodanige informasie in boekformaat aan die bedryf en studente oorgedra word,” sê hy.

Sy passie vir fotografie het gehelp dat hy studente kon onderrig deur middel van foto’s van voorbeelde van wingerde.Foto: VERSKAF
Dankbare ontvangs

Volgens Goussard is hy dankbaar vir die krag en gesondheid wat hy deur die jare gehad het om sy passie vir die wingerdstok en sy produkte ten volle te kon uitleef.

Hy was laas Donderdagaand ook dankbaar vir die eer om die gesogte toekenning te ontvang.

“Wanneer die lys van name beskou word wat reeds hierdie prys ontvang het, voel ’n mens maar klein,” sê hy.

Vir hom was dit ’n voorreg om kultivarkunde aan studente te kon oordra en dit was vir hom verstommend om te sien hoe opgewonde hulle kan raak wanneer hulle druifsoorte volgens blaarvoorbeelde kon identifiseer.

“My allerbeste wense vir die toekoms van die bedryf as groot familie – mag alle uitdagings vorentoe op só ’n wyse hanteer word om in seëvierende hoogtepunte omskep te word.”

Prof se lewe in die bedryf

1965 – Sluit by die US se departement wingerd-en-wynkunde as voorgraadse student aan

1969 – Ontvang sy honneursgraad

1970 – Word as vakkundige beampte by Nietvoorbij gestasioneer

1971 – Sy loopbaan aan die US begin as dosent by die departement wingerd-en-wynkunde

1984 – Voltooi sy PhD (Agric)

2001 – Ontvang die merietemedalje van Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging (Sasev).

2008 – Word erelid van Sasev

2009 – Publiseer sy eerste boek

2014 – Tree af as professor in wingerdkunde by die US

Baie dankie, prof!

Prof. Piet Goussard het ’n verskil in baie se lewe gemaak. Dít is wat mense oor hom sê.

Nico Spreeth (Vititec se uitvoerende hoof):

“Hy het die eerste tegnieke ontwikkel om plante van virusse te reinig en tans het ons meer as 800 verskillende kultivars en klone in Suid-Afrika skoongemaak van skadelike virusse. Hy het diep spore getrap in die wynbedryf en het finansieel en tegnologies vir ons in ’n baie goeie posisie geplaas.”

Prof. Melane Visser (professor aan die US):

“Hy is absoluut passievol oor sy vak. Hy was passievol oor klasgee en om kennis oor te dra.

“Ek het geweldige waardering vir prof. Goussard, want hy was altyd ondersteunend. Hy het die soort werk ondersteun en hy het my ondersteun.”

Johan Wiese (mede-eienaar van Voor-Groenberg Kwekery):

“Piet het baie goeie navorsing gedoen oor die beworteling en hoe om plante aan die gang te kry van baie klein mikroweefselkultuur tot dit ’n volwaardige plant is.

“Hy is ’n nederige ou. Hy het werk van wêreldgehalte gedoen en dit nooit êrens aan ’n groot klok gehang nie.”

Kobus Goussard (broer):

“By hom is ’n ding nie 100% reg nie, dis 110% reg. Daar was nie ’n grysgebied nie – dis reg of verkeerd. Die erkenning wat hy nou kry, is iets wat hy verdien. Nie oor wie hy is nie, maar wat hy gedoen het vir die bedryf.”

Vaatjie Jacobs (voormalige kollega by die US):

“As ’n mens oor enige ouddosent praat en jy wil weet hoe geliefd hy was, vra vir sy studente. Hy het nie altyd die erkenning gekry nie. Party mense soek vir erkenning en party doen net die werk – Piet is een van hulle.”

Aidan Fry (voormalige student en tans plaas- en wingerdbestuurder by Libertas Vineyards and Estates):

“Hy is ’n baie stil mens, maar hy het geweet wat hy praat, maar wat vir my uitgestaan het is dat hy vir ons ook baie lewenslesse in die klas gegee het.

“Ons kan net vir hom dankie sê vir wat hy vir die bedryf gedoen het.”

Yvonne Lester (voormalige student en tans hoofwynmaker by Rupert & Rothschild):

“Wat ’n legende in die wynbedryf. Dit wat hy gedoen het vir die studente, vir die universiteit en die hele bedryf is ongelooflik en so na aan my hart.

“Hy is plat op die aarde, met integriteit, eerlik, opreg en hy het die geduld van Job.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.