Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Syrah, shiraz en pure lekkerte

Daar is geen tekort aan goeie shiraz in Suid-Afrika nie en van die wynmakers doen dit só goed dat hulle vanjaar sommer meer as een trofee in die Shiraz-uitdaging ingepalm het.

Hierdie uitdaging se uitslae is verlede Donderdag vir die tweede agtereenvolgende jaar op ’n aanlyn seremonie aangekondig. Die opname is in die Paarl gemaak met die televisieaanbieder Marciel Hopkins as die seremoniemeester en die sangeres Karen Zoid wat die eregas was en die wenners aangekondig het. Vinventions, internasionale voorsiener van sluitmiddels vir wynbottels, was weer die hoofborg.

Hier is die top-12 wyne van 2021 se Shiraz-uitdaging.Foto’s: VERSKAF

Benewens die groot hoogtepunt van die top-12-shiraz/syrah-wyne, is daar ook ’n shiraz-rosé en drie shiraz-versnitwyne aangewys as die wenners van hierdie twee afdelings.

Boonop was die aankondiging ekstra spesiaal vir drie manne wat elk twee shiraz-wyne as wenners in die top-12 gehad het. Iets wat beslis nie elke jaar gebeur nie!

David Nieuwoudt, keldermeester by Cederberg en wynmaker vir Driehoek, het vir elkeen van die handelsmerke ’n trofee gekry. Die Cederberg Shiraz 2018 het ook pas ’n goue medalje by die Decanter-wêreldwynpryse gekry (lees meer op bl. 3), asook by die Syrah du Monde.

Nog ’n wynmaker wat twee trofeë vir verskillende kelders gekry het, is Dewaldt Heyns wat Saronsberg én Koelfontein Landgoed se wynmaker is. Hy het in 2020 en weer vanjaar ’n tweekuns behaal. Vanjaar het hy trofeë vir die Saronsberg Shiraz 2019 en die Koelfontein Shiraz 2019 gekry.

Derdens is daar Kleine Zalze se keldermeester RJ Botha, wie se Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2017 en Kleine Zalze Vineyard Selection Shiraz 2018 albei onder die top-12 is.

Vanjaar se drie shiraz-versnitwenners is wyne vanaf Anura, Stellenzicht en Roodeberg.

Só is wenners gekies

Dr. Andy Roediger, wat ’n Kaapse Wynmeester is, het vir die negende jaar die beoordelaars as paneelvoorsitter gelei. Hy is bygestaan deur Frans Smit (Spier-keldermeester), Elzette du Preez (wynmaker en lid van die bestuurskomitee van Shiraz SA), Richard Kershaw (Britse Wynmeester en eienaar/wynmaker van Richard Kershaw Wines) en Paul Benadé (Kaapse Wynmeester).

“Die gehalte van shiraz-wyne verbeter jaar ná jaar en dit maak dit uiters moeilik om wenners uit te sonder, want daar is soveel uitstekende wyne wat op die hoogste vlak meeding.

“ ’n Tendens wat hierdie jaar kop uitgesteek het, is wyne wat heelwat meer vruggedrewe is. Die gevolg is dat daar ’n duidelike onderskeiding van wyne van die Ou Wêreld en ander lande was. Die kenmerkende kruidagtigheid van Ouwêreldse wyne is dikwels oorskadu deur geurige aromas, maar met nog steeds ’n stewige, volronde mondgevoel. Die spesery-karakter was beslis waarneembaar maar in my persoonlike opinie was daar minder van daardie peperagtige ondertone.

“Laer alkoholvlakke het ook uitgestaan. Dus, om op te som, die styl van shiraz-wyne wat ons nou sien, is wyne wat baie vroër drinkbaar is as in die verlede,” sê Roediger oor die beoordeling.

Die groep beoordelaars het ’n proestelsel gevolg wat saam met die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is en in 2018 geïmplimenteer is. Met die stelsel proe elke beoordelaar die wyne in sy/haar eie volgorde en geen gesprekke oor die wyne vind plaas nie.

Wine MS, sagteware-en-ondersteuningsverskaffer, het die beoordelaars bygestaan met hul aanlyn app vir die proe en beoordeling van wyn. Laastens het die ouditeursmaatskappy Exceed Group die proses vir beoordeling gemonitor en die uitslae gekontroleer.

  • Besoek www.shirazsa.co.za vir al die uitslae en meer inligting.
Die shiraz-roséwenner: Villion Family Wines Rosa Rabbedoe Rosé 2021
Karen Zoid se Sy Raas Shiraz 2020 is tydens de geleentheid gedrink en sy is ook aangestel as die Minister van Shiraz.

    Vanjaar se top-12-shiraz

    • Cederberg Shiraz 2018
    • Driehoek Syrah 2019
    • Flagstone Dark Horse Shiraz 2017
    • Glen Carlou Syrah 2019
    • Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2017
    • Kleine Zalze Vineyard Selection Shiraz 2018
    • Koelfontein Shiraz 2019
    • Landskroon Paul de Villiers Shiraz 2019
    • Neil Ellis Groenekloof Syrah 2019
    • Rooiberg Winery Shiraz Reserve 2019
    • Saronsberg Shiraz 2019
    • Stellenbosch Vineyards Credo Shiraz 2018

    Shiraz-versnitwenners

    • Anura SMG Reserve 2018
    • KWV Roodeberg Dr Charles Niehaus 2018
    • Stellenzicht Acheu­lean Red 2018

    Shiraz-roséwenner

    • Villion Family Wines Rosa Rabbedoe Rosé 2021
    'n Nuwe borg

    Die Shiraz-uitdaging het vanjaar vir Lebone Paarl Labels verwelkom as die nuwe borg van die wenwyne se bottelseëls. Lebone maak gebruik van die nuutste tegnologie vir die druk van wynetikette.

    “Dit is vir Lebone Paarl Labels ’n voorreg om deel te wees van hierdie spoggeleentheid en betrokke te wees by Shiraz SA. Ons hartlike gelukwense aan 2021 se wenners,” sê Henk Jacobs, Lebone se algemene bestuurder.


    'n Dag vir Shiraz

    Tydens vanjaar se seremonie is daar ook aangekondig dat Shiraz SA besluit het om Suid-Afrika se eie Shiraz-dag te begin.

    “Internasionale Shiraz-dag is 16 Februarie en dis ’n datum wat gekies is vir die Noordelike Halfrond se winter. Dis egter nie ideaal vir Suid-Afrika nie, want Februarie is hoogsomer. Augustus is die perfekte tyd vir shiraz en dit sluit ook mooi aan by die jaarlikse Seven Days of Shiraz & Venison,” sê Edmund Terblanche, Shiraz SA se voorsitter.

    Nasionale Shiraz-dag sal van vanjaar af elke jaar op 21 Augustus gevier word. Die spesifieke datum is volgens hom gekies nadat hulle navorsing oor Bernard J Podlashuk, die “Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”, gedoen het.

    “Daar was egter bitter min inligting beskikbaar en met dit wat ons kon uitsnuffel, was 21 Augustus die beste opsie.”


    Meer oor:  Shiraz  |  Wyn  |  Versnit
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.