Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Tjop-tjop!

Ek het ’n rowwe week agter die rug, maar elke keer wanneer ek voor my rekenaar sit en briewe van julle in my inboks sien, skyn my sterretjie weer helder. Ek waardeer en geniet elke brief wat ek kry. Baie dankie aan almal wat vir my skryf, raad vra, resepte deel en my ook somtyds op die vingers tik.

Kasslertjops vir die skrywer Dolf van Niekerk

Rita van Niekerk (Dolf van Niekerk se vrou) skryf: My dierbare man glo aan jou resepte vandat ons gereeld jou beesstertpot maak (Anél: Voel ek nou soos ’n celeb). Nou neul hy al weke dat ek jou moet vra vir ’n resep om kasslersnitte gaar te maak.

Ons snitte, wat ons in die pan braai, is altyd taai en hard. Ag help tog. Hy is al 90 jaar oud, maar vol lewe en liefde. Hy het ongelukkig onlangs geval en sy bekken gebreek. Ná weke van pyn vir ons altwee, is hy weer flink aan die loop met ’n kruk. Baie groete van hom.

Anél skryf terug: Liewe Rita en Dolf. Dit is altyd lekker om van julle te hoor. Kasslertjoppies is gerook (cured) en het nie baie kookwerk nodig nie. Jy kan dit maklik té gaar maak en dan word dit droog. Dit kan in die oond onder die element gerooster word of vinnig in die pan of oor die kole gebraai word. Die gaarmaakproses is baie vinnig, aangesien die rookproses die vleis alreeds tot ’n groot mate gaarmaak. Ek het by my Facebook-vriende gaan kers opsteek en ek plaas ’n paar voorstelle vir julle, asook my eie resep. Dolf, ek is so bly jy het weer ’n huppel in jou stap – hou die blink kant bo en skryf weer vir my.

Wat my Facebook-vriende sê

My vriend die sjef Louis Verwey van Spanje skryf: Goeiemôre vriendin! Ons kry kasslertjops hier by ons en dit is heerlik. Ek stoom myne vir so vyf minute; dis die beste manier om dit nie uit te droog nie. Dan maak ek ’n mengsel van heuning en mosterd en verf dit oor die tjops waarna ek dit drie minute onder die roosterelement rooster.

Doreen Seaborne van Port Elizabeth laat weet: Anél, ek marineer die tjoppies in heuning, gemmer en ’n bietjie sojasous en rooster dit in die oond. Dis lekker saam met kapokaartappels en sauerkraut.

Elmarie Ward van Bathurst deel twee gaarmaakprosesse: Ek gebruik twee maniere. Marineer die kasslers in mosterd (of gemmer) en heuning. Dan smelt ek varkvet in ’n pan en stowe dit stadig met die deksel op vir so 20 minute terwyl ek dit vier keer omdraai. Of ek pak die gemarineerde kass­lers in ’n oondbak saam met die sousie en bak dit dan teen 160 °C vir 20 minute.

Anél se kasslertjop-resep

Weeksaande is ek ’n regte lui makoti (lui huisvrou), so die kos moenie langer as 20 minute neem om voor te berei nie. Vir kass­lers meng ek drie eetlepels sterk Mrs Balls-blatjang met ’n opgehoopte teelepel sterk mosterd (nie poeier nie) en verf dit oor die tjoppies. Dit word dan onder my klein roosterelement (wat sommer so bo-op my kombuiskas staan) vir drie minute aan elke kant gerooster. Ek sit dit voor met mosterdkorrel-kapokaartappels en suurkoolslaai.

My Ier kan nie genoeg kry nie, so ek hoop jy geniet dit, Dolf.

Aspersie-quiche van Pennsilvanië

Carol van Vuuren van George het my vraag oor aspersiequiche gesien en die volgende gestuur:Dankie vir jou weeklikse rubriek. Dis altyd lekker om te lees en daar is dikwels ’n resep wat ek net móét probeer. Ek stuur ’n resep vir aspersie-quiche. Miskien nie wat jy soek nie, maar heerlik.

Ek het ’n jaar gelede in ’n bed-en-ontbyt, die Lafayette Inn, in Easton, Pennsilvanië, oornag. Die volgende oggend het hulle dié heerlike quiche bedien en natuurlik het ek die resep gevra.

Anél skryf terug: Dankie Carol. Die resep lyk lekker en baie maklik om te maak.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Anél se kasslertjops

Kasslertjops is vooraf gerook en jy moet dus pasop om dit té lank te braai, want dit droog maklik uit. Foto: iStock

4 kasslertjops

50 ml Mrs Balls-blatjang (sterk)

5 ml sterk mosterd (nie poeier nie)

Vars suurkoolslaai

½ klein kool, fyngesny

5 ml sout (of na smaak, maar dit moet genoeg sout kry)

2,5 ml komynsaad (as jy nie van komynsaad hou nie gebruik vinkelsaad)

30-45 ml wit asyn (begin met 30 ml en proe of jy meer surigheid soek)

30 ml olyfolie

Mosterdkorrel-kapokaartappels

Maak jou gunsteling-kapokaartappels en roer 1-2 teelepels korrelmosterd by.

Kasslertjops: Meng die blatjang en mosterd saam. Verf oor die tjops. Rooster onder ’n roosterelement vir drie minute aan elke kant of tot gaar (hang van die dikte van die tjops af). Verf weer voor bediening liggies met die blatjang-en-mosterdmengsel.

Suurkoolslaai vul soeterige kasslertjops goed aan.

Suurkoolslaai: Meng al die bestanddele goed saam.

Bedien: Bedien kasslertjops met mosterdkorrelkapokaartappels en suurkoolslaai

Aspersie-quiche van Pennsilvanië

’n Resep vir aspersietert wat Carol van Vuuren in Amerika gebedel het.

(Resep van Carol van Vuuren)

10-15 vars aspersies

olyfolie

1 koppie gerookte gouda, gerasper*

6 eiers

1 koppie dik room

½ koppie maaskaas

½ t sout

Voorverhit die oond tot 180 °C. Sprinkel ’n bietjie olyfolie oor die aspersies en rooster in die oond tot sag. Sny in stukkies en plaas in ’n 22 cm-oondbak. Strooi kaas oor aspersies. Klits die eiers, room, maaskaas en sout saam. Giet oor die aspersies en kaas en bak vir 25-30 minute tot geset en ligbruin.

* Anél skryf: Jy kan enige ander gerookte kaas gebruik. En as jy nie gerookte kaas het nie, gooi ’n knippie gerookte paprika by die eiermengsel.

Meer oor:  Kos  |  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.