Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Van hawemeester se huis tot bistro
Shamrock hou ’n wakende oog oor die Bistro en die nabye omgewing. Foto’s: willemien green tensy anders vermeld

Wie sou kon dink dat die ou historiese Shamrock-huis wat onder andere die hawemeester se woning, die kantoor van Pieter Rademeyer, een van Port Elizabeth se voormalige burgemeesters, was en wat die verwoestende vloed in 1968 deurstaan het, nou een van die gewildste Bistro’s in die Baai sou word.

Will Marais en Johan de Jager is vennote van dié gesellige kuierplek waar jy liewers moet bespreek as jy in die aand daar wil gaan eet.

“Vandat ons die Bistro gekoop het, probeer ons soveel moontlik van die gebied en die ou huis te wete kom,” sê Will.

“Daar was selfs voorheen branderplanke hier vervaardig en in die kelder is daar nog van die oorskot van die smeltproses teen die ou klipmure te sien.”

Aan die oorspronklike struktuur van dié ou huis het die twee vennote nie veel verander nie.

Baakens Bistro regs bo tydens die vloed in 1968. Foto: VERSKAF

Net die kelder is as ’n funksionele kombuis ingerig met ’n gesellige en knus kuierspasie daarnaas wat veral geskik is vir meer private partytjies.

“Al lyk dit miskien soos ’n regte man cave met die gemaklike rusbanke, lae plafon en houtbalke, is dit eerder die vroumense wat hier al so lekker gekuier het dat die ander gaste daar bo al kliphard gewonder het wat nou eintlik in die kelder aan die gebeur was,” sê Johan.

Dis is ook in die kelder waar die mure gedeeltelik ontbloot is waar ’n mens behoorlik ’n indruk kan kry van hoe stewig die ou huis toentertyd gebou is.

“Hier kan jy gerus teen geen ekstra koste jou eie wyn- of jenewerproe reël of selfs ’n pokeraand hou, soos ’n groep manne so rukkie gelede,” verduidelik hy.

“Solank die gaste net van die Bistro se spyskaart gebruik maak.”

Op die boonste verdieping is die dekor ’n vermenging van antiek-modern met groot vensters en ’n skuifdeur wat hope vars lug inlaat – net die regte ding om jou aptyt aan te wakker!

Pas net op dat jy nie te groot skrik as jy dalk van buite af verby die oop venster aan straatkant verby loop nie, want daar sit Shamrock, ’n yslike groot porseleinbrak wat ’n ogie oor die Bistro en die omgewing hou. Dié woef word ook dikwels ingespan om die Bistro se bedrywighede op sosiale media te adverteer.

Die hoenderlewertjies word hoogs aanbeveel.

Volgens Will is die Bistro bedags redelik bedrywig, maar dit is veral saans wat dit sommer gou-gou besig raak. Dan is die atmosfeer werklik iets besonders in dié ou geboutjie.

Die Bistro se spyskaart wat deur ’n kundige saamgestel is, bied ook, behalwe vir die groot verskeidenheid disse om van te kies, interessante leesstof.

Daar pryk verskeie ou foto’s van die gebied in, sommige nog voordat die Groepsgebiedewet destyds ingestel was en baie van die huise nog nie gesloop is nie, elk met ’n kort beskrywing daarby.

Ontbyt word heeldag bedien met interessante keuses soos die Turkish Eggs wat met twee geposeerde eiers op flatbread met songedroogde tamaties, basiliekruid en dubbelroomjogurt be­dien word.

Daar is ook verskeie voorgeregte wat as ’n ligte middagete bestel kan word, soos die aubergine, parmesan-gebak met hope gesmelte Mozzarella- en parmesaan-kaas wat veral op ’n koue of reënerige dag jou binneste sommer heerlik sal verhit!

Volgens Wil is die steaks natuurlik baie gewild en daar is dikwels specials beskikbaar wat dan op ’n swartbord teen die muur geadverteer word.

Moet ook nie die beskeie hoenderlewertjies op sy baadjie trakteer nie.

Dié romerige porsie vol geur en smaak word met twee snytjies ciabata-brood bedien en word definitief aanbeveel.

Die Bistro bedien ook hulle eie koffiemengsel wat deur Masterton’s-koffie vir hulle gemeng word. Dit word gepas Shamrock-koffie genoem en is net so kragtig soos die ou gebou wat al dekades in wind en weer oorleef.

Meer oor:  Pe  |  Bistro  |  Kos  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.