Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Veganis-wyne ’n 1ste ter wêreld vir Spier

Die bekende Stellenbosse landgoed Spier is geen vreemdeling as dit kom by innovasie, volhoubare praktyke en ’n groener leefstyl nie. Daarom is hul nuwe veganis-wyne geen verrassing nie.

Hulle het onlangs die eerste kelder in die wêreld geword om Control Union Vegan Standard-sertifisering by die Control Union te kry.

Voortaan sal die Spier Seaward-, Creative Block-, 21 Gables- en Frans K Smit-reeks dié unie se veganis-vriendelike seël dra. Vir die witwyne sal dit vanaf die 2019-oesjaar wees en vir die rooiwyne van die 2018-oesjaar af. In die toekoms sal al ses Spier-reekse akkreditering hiervoor kry.

“Die veganis-sertifisering bewys nie net ons verbintenis tot ’n groener, dierevriendelike toekoms nie. Dit beteken ook dat veganis-drinkers ook nou ons wyne kan geniet,” sê Frans Smit, Spier se keldermeester.

Hy benadruk dat dit glad nie die smaak van hul wyne affekteer nie en dat die plaas beoog om die res van hul wynreekse in die volgende paar jaar ook veganis-vriendelik te maak.

“Betroubaarheid en geloofwaardigheid van sekere aansprake – veganisme in hierdie geval – deur onafhanklike ouditering en sertifisering is van uiterse belang,” sê Jordi Meijer, die besturende direkteur (Suid-Afrika) van Control Union, ’n internasionale sertifisering-en-inspeksie-maatskappy wat in meer as 70 lande werk.

Volgens Meijer kan veganiste wat die Control Union Vegan Standard-seël sien, verseker wees dat hulle iets koop wat in lyn is met hul ideale.

Wat behels veganis-wyne?

Net oor die wyne nou veganis-vriendelik is, beteken dit geensins dat die smaak geaffekteer word nie. Inteendeel – dit is steeds dieselfde gehalte en smaak wat jy van Spier ken en verwag.

Die Creative Block 2 2019 (’n versnit van sauvignon blanc en sémillon) is beslis ’n persoonlike gunsteling met tropiese kenmerke van die sauvignon blanc, mineraliteit vanaf die kusdruiwe, en diepte en karakter vanaf die sémillon.

Probeer ook die Seaward Chardonnay 2019 wat dieselfde romerige eienskappe en ’n tikkie vars sitrus bevat.

Die enigste rede waarom wyne nie veganis-vriendelik is nie, is oor baie kelders van diereprodukte gebruik maak om wyne helder te maak. Van die produkte sluit in kaseïen (’n melk-proteïene), albumien (eierwit), gelatien (dierproteïene) en vislym (visproteïene).

Tydens die wynmaakproses is daar onskadelike organiese partikels wat die wyn troebel maak (insluitende proteïene en gis-molekules) en vassit aan die breimiddels (wat dit suiwer maak) en sink. Dit maak dit maklik om dit te verwyder en om die wyn helder te maak.

Baie klein hoeveelhede van hierdie breimiddels kan deur die wyn geabsorbeer word en indien hierdie breimiddels van diereprodukte gemaak word, is die wyn dus nie veganis-vriendelik nie.

Daar is gelukkig nie-diereprodukte wat as alternatiewe gebruik kan word, soos geaktiveerde houtskool, bentoniet of klei-gebaseerde breimiddels.

Bykomend gebruik Spier ook slegs veganis-vriendelike bymiddels en skoonmaakmiddels.

  • Die 2019-oesjaar van Spier Seaward en Spier Creative Block sal binnekort in drankwinkels landwyd beskikbaar wees.
Meer oor:  Spier  |  Wynbedryf  |  Veganis-Wyne  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.