Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Veganis-wyne: Só werk dit

Baie mense wat vir die eerste keer van veganis-wyne hoor, sal dadelik sê dat hulle nooit eens bewus was dat wyne nié veganis-vriendelik is nie. Dit is egter glad nie so nie.

“Wyne word dan van druiwe gemaak” is altyd die eerste reaksie van mense. Inderdaad, maar wat in die kelder plaasvind is ’n ander storie.

Waarom is wyne nie veganis-vriendelik nie?

Verskeie prosesse in ’n kelder word gebruik wat wyne nie-veganisties maak.

Om wyne suiwer en gereed vir bottelering te maak is een van die belangrikste prosesse in die kelder. Daar word dikwels van diereprodukte gebruik gemaak om die wyne helder te maak. Van die produkte sluit in kaseïen (’n melkproteïen), albumien (eierwit), gelatien (dierproteïen) en vislym (visproteïen).

Veganis-wyne word met ope arms in die wynbedryf verwelkom aangesien dit geensins die smaak en kwaliteit van die wyne affekteer nie.Foto: iSTOCK

In die wynmaakproses is daar onskadelike organiese partikels wat die wyn troebel maak (insluitende proteïene en gismolekules). Breimiddels word dan gebruik sodat dié partikels daaraan vassit, na die bodem sink en verwyder kan word. Dit maak dit maklik om dit te verwyder en om die wyn helder te maak.

Baie klein hoeveelhede van hierdie breimiddels kan deur die wyn geabsorbeer word en indien hierdie breimiddels van diereprodukte gemaak word, is die wyn dus nie veganis-vriendelik nie.

Daar is gelukkig nie-diereprodukte wat as alternatiewe gebruik kan word, soos geaktiveerde houtskool, bentoniet of klei-gebaseerde breimiddels.

Daar is ook skoonmaakmiddels wat in kelders gebruik word wat ook nie veganis-vriendelik is nie.

Beïnvloed veganis-produkte die smaak?

Die voordeel van veganis-wyne is dat die alternatiewe produkte glad nie die smaak van die wyne affekteer nie.

Aangesien die produkte slegs gebruik word om die wyne te suiwer en die toerusting (soos tenke) skoon te maak, het dit geen invloed op die eindproduk se smaak nie.

Baie handelsmerke wat hul wyne veganis-vriendelik gemaak het, se oesjare voor en ná die verandering proe presies dieselfde: die kenmerke, vrug, aroma en geure van die wyne bly dieselfde.

Die wynmaakproses bly steeds onveranderd met dieselfde druiwe wat gebruik word en dieselfde prosesse wat gevolg word.

Flagstone maak die veganis-skuif

Vanjaar het die Stellenbosse kelder Flagstone nie net hul 21ste bestaansjaar gevier nie, maar ook bekend gemaak dat al hul wyne van nou af veganis-vriendelik sal wees.

Hulle het verlede jaar begin om breimiddels met diereprodukte te verwyder van onder meer hul Free Run Sauvignon Blanc, Tributary Chenin Blanc, Treaty Tree Cab Malbec / Merlot, Truth Tree Pinotage en die Free Run Reserve Sauvignon Blanc. Hulle het ook ’n splinternuwe wyn bekend gestel, die Paradigm Chenin Blanc 2020, wat ook veganis-vriendelik is.

Nóg kelders wat veganis-wyne maak

Buiten vir Flagstone, het baie ander kelders al die skuif gemaak om veganis-wyne te maak.

Spier in Stellenbosch het verlede jaar die eerste kelder in die wêreld geword om Control Union Vegan Standard-sertifisering by die Control Union te kry. Hul Spier Seaward-, Creative Block-, 21 Gables- en Frans K Smit-reekse dra dus nou dié unie se veganis-vriendelike seël. Vir die witwyne sal dit vanaf die 2019-oesjaar wees en vir die rooiwyne van die 2018-oesjaar af. Hulle beplan ook om vir al ses Spier-reekse akkreditering hiervoor kry.

Haute Cabrière in Franschhoek gebruik ook al vir die afgelope vyf jaar breimiddels wat nie diereprodukte bevat nie

Al die kelder se wyne, wat die Pierre Jourdan- en Haute Cabrière-reekse insluit, is dus 100% veganis-vriendelik. So, geniet gerus die verfrissende Chardonnay Pinot Noir 2019 en Pinot Noir Rosé 2020 hierdie somer.

By Perdeberg is al die rooiwyne ook veganis-vriendelik nadat hulle die gebruik van diereprodukte in die wynmaakproses gestaak het.

Jy kan dus die rooiwyne vanuit die Perderberg-reeks, soos die cabernet sauvignon en merlot, asook die Vineyard-reeks én die Dry Land Collection se pinotage en ander rooiwyne geniet.

Meer oor:  Wyn  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.