Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Resepte vir platsak Januarie

Haal die worrie uit Januarie met hierdie ligte, maklike en goedkoop resepte van Errieda du Toit.

kos
Goed eet kan ook goedkoop eet wees.

Januarie is almal platsak, uitgeëet, voos gefees, maar vol voornemens om iets prys te gee om in die nuwe jaar ’n beter lewe te lei. Daar’s mense wat vleisloos, drankloos en suikerloos wil lewe, ander detoks, beproef veganisme en vas selfs.

Wat ek nie bereid is om prys te gee nie, is die saamkuier aan tafel. Dit, eerder as eet-regimes en onthouding is die sleutel tot welstand en ’n manier om die sorgvryheid van die somervakansie te laat voortleef. Dit verg eenvoudige bakkies sondeurdrenkte kos met kruie, olyfolie en suurlemoene as smaakhoekstene. En warm brood!

Met Mediterreense en Midde-Oosterse smake vir oemf hoef Januarie-kos nie rondom vleis te sentreer nie. Eiervrugskywe gemarineer in olyfolie, suurlemoen, knoffel, koljander en komyn oor die kole kan ’n stukkie steak aanvul wat jy in dun repe sny om saam met okkerneut-tzatziki, skordalia en olyf-tapenade met platbrood te geniet.

Dis ook hierdie tyd van die jaar wanneer die glasfles vol droë kekerertjies op my spens­rak vir balila, ’n tradisionele straatkos van die Levant, ingespan word. Die geurige warm slaai van sagte kekerertjies swem in goeie olyfolie, rokerige komyn en ’n vae suspisie van knoffel wat saamgesnoer word deur suurlemoensap, opgekapte suurlemoensegmente en ’n ruim handgekapte pietersielie.

Dit kan gemaalde brandrissie of vars kruisement bykry, maar eintlik geld die beginsel van eenvoud sodat die olyfolie, komyn, pietersielie en suurlemoen hul vennootskap met die kekerertjies kan vier.

Ek kook sommer by voorbaat ’n pot vol kekerertjies en vries die helfte: Dis aansienlik meer ekonomies en baie handig om die slaai in ’n japtrap te maak. Geblikte kekerertjies kan gerieflikheidshalwe gebruik word.

Balila word tradisioneel voorgesit met markoek, ’n papierdun Libanese platbrood wat buite my bekwaamheidsveld val. Pita is ’n opsie, maar lekker uitgerus ná die vakansie, is ek vol geesdrif vir die tuisgemaakte, soos die gietysterpan-roerbrood waarvoor ek die resep gee.

Hierdie drie resepte kan saam met warm brood of ’n pita op ’n peuselbord voorgesit word. Foto: Samarie Smith

Maak 'n peuselbord

Skordalia (bysous vanknoffelkapokaartappels)

Skordalia is ’n Januarie-ster wat bult van smaak en sag is op die beursie.

Wat jy benodig

  • 2 snye dag oue witbrood,korsies afgesny
  • 2 groot aartappels (gekook,afgeskil en fyngemaak)
  • 4-6 knoffelhuisies, fyngekap
  • 60 ml olyfolie, gemeng met

30 ml suurlemoensap

  • sout en peper

Maak dan só

Week die snye brood ligweg in koue water en druk die water uit. Meng die kapokaartappels goed met die brood. Verwerk die aartappel-en-broodmengsel saam met knoffel in ’n versapper tot glad en fyn. Giet die olyfolie-en-suurlemoenmengsel stadig by terwyl die versapper aan die gang is om ’n emulsie te vorm. Geur met sout en peper.

Olyf-en-vy-tapenade

Mop die volbloed- Mediterreense smaakontploffing op met brood, of verdun dit met olyfolie vir ’n slaaisous. Roer wat oorbly deur pasta.

Plaas 500 ml ontpitte swart olywe in ’n versapper met twee opgekapte smirna-vye, 60 ml kappertjiesaad, 1 knoffeltoontjie, 30 ml gekapte ansjovissies, 15 ml Dijon-mosterd en ’n drukkie suurlemoensap. Verwerk tot matig fyn, maar nie ’n pappery nie. Roer 250 ml goeie olyfolie by. Verdun met water as dit te dik is. Skep dit in ’n fles en hou in yskas.

Okkerneut-tzatziki

Sit dit voor saam met warm brood of pita by vis, vars groente of braaivleis.

Meng een huisie fyngekapte knoffel met ’n hand vol (60 ml) gekapte okkerneute.

Roer dit by 310 ml volroom­jogurt, een komkommer wat in blokkies gekap is en 5 ml suurlemoensap. Geur dit met sout en peper.

Wenk: Die komkommer kan deur 250 ml fyngekerfte seldery vervang word.

Meer oor:  Resepte  |  Peuselbord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.