Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Verdicchio: Altyd terug na wenresep

As ’n ding werk, dan karring jy nie daaraan nie. Dít is die algemene uitgangpunt van die restaurant-eienaar Tubby Georghiou van die immergewilde Verdicchio in Montecasino.

En hy is heeltemal reg, daar is ’n baie goeie rede waarom hierdie restaurant al 20 jaar bestaan en die heel oudste eetplek in Montecasino is.

Buiten dat die ligging perfek is, het die restaurant ook ’n lieflike atmosfeer. Dit voel of jy in ’n ouwêreldse wynkelder sit.

Die salm lyk nie net mooi op die bord nie, maar is sappig en geurig. Foto’s: Terésa Coetzee

Volgens Tubby het hulle deur die jare min veranderinge aan die spyskaart aangebring, maar dit beteken hulle weet presies wat werk. Dis ’n feit dat mense keer op keer terugkom omdat hulle weet wat om te verwag. Die kos is heerlik en die jarelange ondervinding van geure en smake word in elke happie geproe.

Ek het die ete met ’n romerige songedroogde tamatiesop afgeskop en die geure van basilie het subtiel deurgekom. Teen R65 was dit baie goeie waarde vir geld.

My tafelmaat het slakke met knoffel in ’n lekker ryk bloukaassousie bestel en dit was net so heerlik, hoewel die brood wat daarmee saam bedien is dalk bietjie varser kon wees.

My hoofgereg was die Noorweegse salm en dit was ’n fantastiese keuse. Die groente daarmee saam was vars en krakerig en die salm geurig en sappig. ’n Mens kon proe die vis is vars. Dit het R245 gekos.

Die romerige songedroogde tamatiesop met ’n geurtjie basilie.

Vir ’n goedkoper keuse sal ek ook die skelvis aanbeveel wat net so geurig voorberei is.

Tipies aan ’n Mediterreense spyskaart is daar ’n groot verskeidenheid disse om van te kies – van vleisgeregte soos beesstert, espetada of lam en daar is ’n hele afdeling vir kalfsvleisliefhebbers.

Daar is ook seekosborde vir een en twee mense wat net so dekadent en lekker gelyk het.

Daar is ’n ook ’n groot verskeidenheid van nagereg om uit te kies, weer eens tradisioneel en heerlik, van malvapoeding, tiramisu en Italiaanse soentjies tot kaaskoek, wat wissel tussen R50 en R60.

Met my volgende besoek aan Verdicchio gaan ek vir seker die romerige pasta probeer wat in ’n massiewe brandende blok parmesaankaas voorberei word.

Tubby het ons spesiaal ’n demonstrasie daarvan gegee en toe huis toe gestuur met ’n bottel wyn met ’n etiket waarop sy beeldskone dogter pronk.

Hoewel daar soveel opsies en keuses as eetplekke by Montecasino is, sal Verdicchio my vir seker gou weer sien.

Die perfekte plek vir ’n romantiese aand vir twee. Foto: Terésa Coetzee
Meer oor:  Montecasino  |  Restuarant  |  Kos En Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.