Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Vier Sauvignon Blanc-dag!

Op Vrydag 7 Mei word Internasionale Sauvignon Blanc-dag wêreldwyd gevier en Sauvignon Blanc Suid-Afrika en sy lede gaan gróót om die ophef te maak wat dié trefferwyn verdien.

sauvignon blanc dag
Internasionale Sauvignon Blanc-dag word wêreldwyd gevier.

Vanjaar word hierdie dag in Suid-Afrika nie net vir een dag gevier nie, maar sommer vir die hele naweek.

Van 7 tot 9 Mei gaan verskeie lede van Sauvignon Blanc SA spesiale aanbiedinge op sauvignon blanc hê óf spesiale aanbiedinge, heerlike kos- en wynproeë, asook interessante aktiwiteite aanbied. Van die deelnemende kelders gaan onder meer sauvignon blanc-meesterklasse, ’n pretdraf in die wingerde, wynproe met oesters, etes en verskeie proeë bied wat deur besoekers geniet kan word.

Kitsfeite:
  • Die naam sauvignon blanc beteken “wilde wit”.
  • Frankryk is die grootste produsent in die wêreld.
  • In Bordeaux word dit meestal gebruik in versnitte met semillon en muscadelle bekend as wit Bordeaux-versnitte.
  • In die Loire-vallei word sauvignon blanc geproduseer as droë, enkeldruifsoort wyne bekend as sancerre en pouilly-fumé.
  • Dit is een van die ouers van cabernet sauvignon.
  • Daar is 92 sinonieme vir sauvignon blanc.
  • Die oudste produserende sauvignon blanc-wingerd in Suid-Afrika (geplant in 1965) is in die Swartland en behoort aan Charles
  • Back (Fairview/Spice Route).
  • Daar is tans 9 831 ha sauvignon blanc-wingerde in Suid-Afrika.
  • Dit is die grootste enkeldruifsoort verpakte wynkategorie in Suid-Afrika.
  • Die duurste bottel in die wêreld is die Screaming Eagle Sauvignon Blanc van Oakville in die VSA en kos gemiddeld R94 759 per bottel.
  • Besoek sauvignonblanc.com/sauv-blanc-day vir meer inligting oor Sauvignon Blanc SA, asook die aanbiedinge en vieringe wat van die kelders aanbied.
  • Of jy hierdie naweek by ’n kelder is of net ’n glasie by die huis geniet, gebruik die hutsmerk #SauvBlancDay om saam te vier. Volg ook Sauvignon Blanc SA op Twitter as @SauvignonSA en op Facebook en Instagram as @sauvignonblancsa.
WEN!
Om Sauvignon Blanc-dag te vier, is twee kiste met ses bottels elk van die Sauvignon Blanc SA Top 10-wenner Cilmor Wines se Limited Edition Sauvignon Blanc 2019 te wen. Een kis vir ’n gelukkige Versnit-leser en een kis vir ’n besoeker aan Die Burger Versnit se Facebook-blad. 
Dié veelbekroonde wyn spog met geure van granadilla, vlierbessie, appelliefie en swartbessie. ’n Wenner saam met ’n romerige sampioen-risotto, geelstert, hoender-pesto-pasta en ’n ricottakaaskoek.
Om in te skryf: Stuur ’n e-pos aan versnit@dieburger.com met jou kontakbesonderhede en die antwoord op die vraag. Kompetisie sluit 7 Mei. Besoek Versnit se Facebook-blad vir die ander kompetisie.
Vraag: Waar is Cilmor geleë?


Geborg deur:

Vier die hele naweek sauvignon blanc

Diemersdal

Diemersdal
Diemersdal se wynmaakspan is van links Juandre Bruwer, Janeke Beck, Mari Branders en Thys Louw.

Die tuiste van sauvignon blanc in die Kaap is Diemersdal-landgoed in Durbanville, daarom dat Internasionale Sauvignon Blanc-dag behoorlik gevier word op hierdie wynplaas wie se geskiedenis terugstrek tot 1698.

Hoewel daar al vir meer as 300 jaar op Diemersdal wyn gemaak word, het hierdie landgoed veral bekendheid verwerf oor die afgelope 15 jaar vir die toonaangewende sauvignon blanc-wyne wat gemaak word onder leiding van Thys Louw. Thys is die sesde geslag Louw wat die rol van eienaar-wynmaker op Diemersdal vervul, en is sedert so lank terug as wat hy kan onthou, betower deur die sauvignon blanc-druif.

Vandat Louw in 2005 hom by die plaas se kelder- en wingerdaktiwiteite aangesluit het, het Diemersdal plaaslike en internasionale bekendheid verwerf vir sauvignon blanc – nie net in terme van gehalte nie, maar ook vir die diverse wynstyle wat Diemersdal uit hierdie druif maak.

Onder die bekendstes is die Eight Rows Sauvignon Blanc, gemaak van druiwe afkomstig uit agt rye in een wingerd op die plaas – die eerste druiwe wat Thys toegelaat is om te gebruik toe hy op Diemersdal onder die wakende oog van sy pa, Tienie, kom werk het. Dan is daar die bekende Diemersdal Winter Ferment, ’n revolusionêre wyn wat gemaak word uit sauvignon blanc-sap wat net na die pars in Februarie gevries en dan in Julie gegis is om ’n wyn van uitsonderlike karakter te skep.

The Journal Sauvignon Blanc is weer gemaak in die klassieke styl van Sancerre in Frankryk, tuiste van sauvignon blanc. Dié wyn is in eikehout verouder en bied die kompleksiteit en karakter wat bevestig dat sauvignon blanc een van die wêreld se beste wyndruiwe is. Wynliefhebbers van oral kan dit hoor: betreffende sauvignon blanc, lei alle paaie na Diemersdal. Vir meer inligting oor Diemersdal se aanbiedinge oor die komende naweek besoek www.diemersdal.co.za.

Wildeberg

Wildeberg
Wildeberg se wyne neem jou op ’n reis deur die wingerd.

Teen die hange van die Franschhoekberge lê ’n stukkie wingerd, omring met fynbos, bergstroompies en ’n uitsig van die Franschhoekvallei.

Dis hier waar die wynmaakspan van Wildeberg hul passie uitleef om wyne te maak wat jou op ’n wingerdreis van tekstuur en geur neem, eie aan Wildeberg, met ’n getuigskrif,  die talle toekennings wat hulle reeds ontvang het.

Wyn- en natuurliefhebbers word verwelkom by Wildeberg om te kan deel in dit wat die wynplaas anders en spesiaal maak.

Stuur gerus e-pos aan Lin-Mari Viljoen na Lin-Mari@wildeberg.co.za om meer uit te vind oor besprekings vir wynproe, verblyf en onthale. 

Durbanville-wynvallei

Durbanville-wynvallei
Skaf hierdie versameling uit die Durbanville-wynvallei aan.

Die Durbanville-wynvallei is sinoniem met bekroonde sauvignon blanc en bied van 3 tot 16 Mei ’n spesiale versameling met 18 bottels van hierdie variëteit aan, ter viering van Internasionale Sauvignon Blanc-dag. Die versameling sluit wyn van die meerderheid produsente in en vertoon dié gebied se diverse terroir en uitstaande gehalte.

Dié koelklimaatstreek palm jaarliks toekennings in, en nie net vir sauvignon blanc nie. Een van Suid-Afrika se ikoniese wyne, die 1960’s George Spies Cabernet Sauvignon, het sy geboorteplek hier.

Die streek is ook gewild as kuierplek vir lekkerbekke en buitelug-liefhebbers.

’n Varswaterfontein het destyds die vallei ’n gewilde vertoefplek gemaak. Vandag is dit steeds bekend vir plattelandse gasvryheid, voorslag-restaurante asook fietsry- en staproetes.

Die sauvignon blanc-versameling asook meer inligting oor die vallei is beskikbaar by www.durbanvillewine.co.za.

Tokara

Tokara
Kom proe Tokara se veelsydige sauvignon blanc.

Sauvignon blanc is ’n verkleurmannetjie. Dit groei goed in verskeie soorte grond op Tokara – die baie koel Elgin-terroir sowel as die matig warm Stellenbosch-hange sorg vir verrassend goeie wyne.

Tokara se sauvignon blanc staan goed op hul eie, soos gesien kan word in hul Premium- en Elgin Reserve-wyne. Dit werk egter ook goed as versnitdruif. Hul sauvignon blanc is uitsonderlik in suiwerheid wanneer dit ongehout is, maar spreek van krag en kompleksiteit wanneer dit in die vaat verouder word. Tokara se vlagskip Directors Reserve-witwyn is ’n sprekende voorbeeld hiervan.

Die veelsydigheid van dié druif is duidelik in die wye reeks wyne wat Tokara daarvan maak – van droog en vrugtig tot vaatverouderde kompleksiteit en natuurlik heerlike soet edellaatoeswyne.

Besoek Tokara se proelokaal en beloon jouself met een van hul bekroonde wêreldklas-wyne of koop dit aanlyn op www.tokara.com om tuis te geniet.

Strandveld Wingerde

Strandveld
Proe die Strandveld Pofadderbos Sauvignon Blanc.

’n Paar jaar gelede het wêreldbekende wynskrywer en Britse wynmeester Jancis Robinson geskryf: “Die bepaald koel Elim naby Kaap Agulhas is duidelik in staat om besondere goeie sauvignon blanc te maak.” Hierdie stelling is beslis versterk deur die puik sauvignon blanc van Afrika se mees suidelike wynlandgoed, Strandveld Wingerde, slegs 9 km vanaf die see tussen Elim en Kaap Agulhas.

Die Elim-gebied is van die begin af geteiken vir die maak van sauvignon blanc as gevolg van die koel seebries wat dit so naby aan die see kry. “Die terroir in Elim is so eiesoortig. Dit dwing die wingerd tot sy uiterste, wat lei tot ’n kleiner opbrengs met meer gekonsentreerde smake,” sê Conrad Vlok, sedert 2005 Strandveld se wynmaker.

Strandveld Wingerde maak drie uitsonderlike wyne van hul sauvignon blanc-druiwe: die gewilde First Sighting Sauvignon Blanc, die Strandveld Pofadderbos Sauvignon Blanc (wat al twee keer vyf sterre in die Platter-gids gekry het), en die hoogs bekroonde Strandveld Adamastor, ’n versnit van sauvignon blanc en semillon.

Vir meer inligting of om ’n bestelling te plaas, besoek gerus www.strandveld.co.za.

Glen Carlou

Glen Carlou
Glen Carlou Sauvignon Blanc 2020
Glen Carlou
Glen Carlou Collection Sauvignon Blanc 2019

Ter viering van Internasionale Sauvignon Blanc-dag bied Glen Carlou ’n uitsonderlike ervaring deur ’n eiesoortige Deens-Suid- Afri­kaanse kombinasie.

Die Deense komponent is Lakrids deur Bülow – bekend as die wêreld se lekkerste drop. Saam met Glen Carlou se besonderse sauvignon blancs (die Suid-Afrikaanse komponent) bied dit ’n fantasmagoriese wynparing en sensoriese ondervinding.

Glen Carlou Sauvignon Blanc 2020 word gepaar met ’n witsjokolade-Lakrids met ’n krakerige grenadellasuikerdoppie. Die balans tussen die suurheid in die wyn en die soetsuur grenadella lei tot ’n smaakontploffing in jou mond.

Glen Carlou Collection Sauvignon Blanc 2019 word gepaar met die sagte, romerige dulce-sjokolade van Lakrids Crispy Caramel. Klein vlokkies growwe seesout en ’n blywende nasmaak rond dié onvergeetlike smaak af.

Kan jy aan ’n beter manier dink om vyfster-sauvignon blanc te vier?

Bespreek jou besonderse wynparing deur 021 875 5528 te skakel, stuur e-pos na tas­tingroom@glencarlou.co.za of besoek glencarlou.com/shop/wine.

Elgin Vintners

Elgin Vintners
Dié naweek vier Elgin Vintners alles sauvignon blanc!

Hierdie naweek, op Saterdag 8 en Sondag 9 Mei, is Elgin Vintners die plek om te wees vir wyngevulde dae waar sauvignon blanc in al sy verskeie fasette en vorms gevier word.

Saterdag is daar ’n Sauvignon-meesterklasproe, paring van oesters en sauvignon blanc, en ’n 5 km-pretdraf deur die sauvignon blanc-wingerde. Sondag kan jy uitsien na ’n Moedersdag-ontbyt, gevolg deur ’n aanbieding van eksotiese orgideë.

Op albei dae sal daar ook musiekoptredes, verskeie sauvignon blanc-proeë en ontbyt by die Elgin Vintners Country House wees.

Vir meer inligting besoek www.elginvintners.co.za of bel vir Casper van der Merwe by 072 548 2462. Sien hul advertensie op bl. 3 van Versnit vir meer besonderhede oor die program.

Meer oor:  Wynbedryf  |  Sauvignon Blanc-Dag  |  Vinpro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.