Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Vir al die vroue in jou lewe

Ek het verlede week saam met die koskonsultant Heleen Meyer gekook en ons het twee van haar heerlike, gesonde bygeregte gemaak – die geurigste sitruskoolslaai en geroosterde botterskorsie en blomkool met avokado.

Bederf die komende Vrydag, Vrouedag, die vrou in jou lewe daarmee.

Heleen se ma

Terwyl ons besig was, het Heleen my van haar ma, Letteli Nel, vertel: “As kind aanvaar mens mos maklik jou ouers as daardie mense wat vir jou (moet) sorg – en wanneer jy die dag self ’n ma word, besef jy hoeveel liefde en opofferings daarmee gepaardgaan.

“Dan waardeer jy jou eie ouers skielik in ’n totaal ander lig.

“My ma is sonder twyfel ’n baie sterk figuur in my lewe. Ons kan soos vriendinne kuier, maar ondersteun mekaar ook in vele opsigte.

“Tot my groot vreugde, speel my ma ook in my kinders se lewe ’n groot rol. Sy het oneindige geduld, baie wysheid oor die lewe, en haar kinders en kleinkinders is vir haar ongelooflik belangrik.

“Sy verjaar op Vrouedag en sedert dit jare gelede ingestel is, voel dit vir my baie gepas dat haar verjaardag ’n ekstra spesiale dag is – sy verdien dit.”

Gelukkige Vrouedag vir julle almal en baie geluk met jou verjaardag tannie Letteli. Ek hoop die jaar is vol liefde, lekker kos en lag.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@telkomsa.net

NS: Vir nog heerlike resepte besoek www.heleenmeyer.co.za

Heleen Meyer by haar ma, Letteli Nel.

Sitruskoolslaai met dille

Sitruskoolslaai met dille. Foto:

(Resep Heleen Meyer)

Lewer 4–6 porsies

60 ml olyf- of avokado-olie

60 ml appelasyn

10 ml heuning

30 ml gekapte vars dille

sout en peper

½ komkommer, in skyfies gesny

1 klein witkool, gehalveer en in dun wiggies gesny

2 lemoene, in segmente verdeel

1 pienk pomelo, in segmente verdeel

’n groot handvol vars dille

Meng die olie, asyn, heuning en dille in ’n mengbak saam en geur na smaak. Meng die komkommer en kool liggies deur en laat vir 15 minute staan.

Pak die kool en komkommer op ’n slaaibord, met die lemoene, pomelo en kruie tussenin. Giet die slaaisous oor en sit voor.

Geroosterde botter-skorsie en blomkool met avokado

Geroosterde botterskorsie-en-blomkool-slaai.Foto:

Resep uit The Westfalia Recipe Booklet

Lewer 4–6 porsies

45 ml olyf- of avokado-olie

10 ml komynsaad

2 kaneelstokkies, in stukkies gebreek

45 ml rooibostee

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

500 g botterskorsie, in blokkies gesny

300 g blomkool, in blommetjies gesny

125 ml sonneblom- of pampoensade

1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer

1 groot avokado, in blokkies gesny

2 skywe feta, gekrummel

handvol elk vars kruisement en koljanderblare, grof geskeur

Voorverhit oond tot 200 °C en voer ’n bakplaat uit met bakpapier.

Meng olie, komyn, kaneel en tee saam in ’n groot mengbak en geur na smaak. Meng botterskorsie by en meng goed deur. Skep botterskorsie met oliemengsel op bakplaat.

Rooster vir 20 minute of tot die botterskorsie net gaar is.

Voeg die blomkool, sade en kekerertjies by en meng deur die vloeistof in die pan. Rooster vir tien minute of tot die blomkool net gaar is. Skep geroosterde groente en sade in ’n bak en meng die avokado, feta en kruie liggies deur.

Briewehoekie

Dis so lekker om al jul e-posse te kry. Ek dink ek moet my redakteur vra vir ekstra ruimte :-)

Eierwenk

Lochner de Kock laat weet na aanleiding van “Hoe om ’n eier te kook”: Sit ’n paar albasters of ’n teelepel saam in, dan hoor jy as die water begin kook!

Ma Babs se skaapboud

Tienkie Swart: Ek het baie van jou resepte al met groot sukses gemaak! Oor Babs se skaapboud – sou die boud in die helfte gesaag wees, watter tyd/temperatuur sou jy aanraai?

Anél: Tienkie, ek sal die boud teen dieselfde temperatuur bak, maar die tyd met so ¼ verminder. Daarna sal ek dit in foelie toedraai om te rus.

Pastei, tjips en stasiesous

Tonie van Tonder: Ek wil vir Fanie Blignaut en jou vertel van my en my buurman Chris Roodt se gesprek. Ek is 63 jaar oud en Chris 74 jaar. Hy onthou nog die pie en gravy wat ek as kind in die 1960’s by Parkstasie in Johannesburg geëet het wanneer ons die Transkaroo-trein na Hartenbos geneem het. Ons het so lekker daaroor gepraat dat ons later ons lippe begin aflek het. Ons kon nie op die naam van die pie kom nie. Die volgende oggend kom buurman oor die pad gehaas met ’n stukkie papier in sy hand. Hy sê: “Hier is die naam – Perks pie en gravy!” Ek het gelees die gravy kom uit die Tweede Wêreldoorlog. Die Geallieerdes kon nie meer die boeliebief geëet kry nie, toe kry die Amerikaners die idee om dik uiesop te maak om daaroor te gooi vir ’n beter smaak.

Kobus Terblanche: Jou skrywe oor pastei, tjips en sous het my baie ver teruggeneem. Ek het in 1965 by die ou Yskor kom werk. In die werke was daar eetplekkies. As ons laat werk, was dit baie lekker om pastei, tjips en sous te bestel. Ek kan vandag nog die geur van die kos proe.

Fanie Steenkamp: Fanie Blignaut se storie laat ’n mens verlang. Ek het op Tsumeb in Suidwes-Afrika grootgeword. Ek het aan die Hoërskool Upington gematrikuleer. Baie van ons het per trein gereis. Die lekkerste was die eet. Veral op stasies – pie en sous teen ’n halfkroon, dit sluit koffie of melk in. Die sous was heerlik, die pasteie ook!

Leon Ward: Ek het die bruinuiesousresep gemaak en baie geniet saam met tuisgemaakte pastei en tjips. Aangeheg is my spoorwegstasiebruinsousresep wat ek iewers gekry het.

Spoorwegstasie se bruinsous

900 gram ertjiemeel

3 pakkies beesstertsop

500 gram bisto

900 gram koekmeel

bietjie maalvleis (opsioneel)

Sif die bestanddele drie keer saam. Hou dit in ’n houer in die yskas en haal uit wanneer jy dit wil gebruik.

Braai een fyngekapte ui met ’n bietjie maalvleis. Meng 1 koppie van die droë bestanddele met bietjie water en maak ’n pasta. Plaas in die kastrol by die uie en maalvleis en voeg water by om ’n lekker sous te vorm.

Meer oor:  Resepte  |  Vroue  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.