Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik
Vriend vir die winter

Net die gedagte aan ’n bord stomende sop verdryf die koue...

Maak soos Khaleesi en ‘ride it likea dragon’

Die winter in die Vrystaat was en is steeds ongenaakbaar koud. Wanneer die sneeu op die toppe van die Malutiberge hul wit nessie geskrop het en die ryp spierwit elke oggend op ons gras gekuier het, was al ons waterpype die volgende oggend gevries en moes ons kindergesiggies tevrede wees met ’n spatseltjie yskoue water.

Net die gedagte aan ’n bak stomende sop en ’n snytjie varsgebakte brood kon die winterkoue se kake verdryf.

My vriendin Errieda du Toit haal Judith Martin, Amerikaanse rubriekskrywer van ouds, aan op haar blog, Huiskok: “Is daar ’n gawer, meer aanpasbare vriend as sop? Is daar enigiemand wat verder uit sy pad sal gaan sodat jy heilsaam kan eet, maar ook op die oorvloedigste tafel sy man sal staan en die puntenerigste gas tevrede stel?”

Sop doen altyd sy lojale bes, dit maak nie saak watter onwaardige bestanddele jy daarop afdwing nie.

En dan vra Judith tereg: “Het ’n steak al ooit aan jou deur kom klop as jy platsak is of siek in die kooi lê?”

Boontjiesop

Vir my was en is die lekkerste sop Ma se dik, ryk boontjiesop met baie spek in. Pa Coen het altyd sy sop met worcestersous gedokter – ’n gewoonte wat ek by hom aangeleer het en vandag nog doen.

Dan het hy skaapwagter-snye witbrood met ’n ongesonde hoeveelheid sonneblomgeel plaasbotter daarop gesmeer deur die sop getrek. Lekker!

Tom yum-hoendersop

Dis amper winter in die Kaap en die mense by die werk word een ná die ander platgetrek deur griep. Ek was ook dié week ’n pasiënt en moes net vasbyt en werk.

My lieflike moederhen-vriendin by die werk, Helena Lombard, het my een kyk gegee en my gedokter met ’n bakkie Thaise tom yum-sop van ’n restaurant in Seepunt. Die eerste happie het my asem in alle opsigte weggeslaan – die geur en rissie-hitte. Al wat ek kon uitkry was: “Ha! Jô! Sjoe dis lekker!” . . . en toe hoes ek soos dit my keel kielie en my sinusse oopslaan. Haar woorde was: “Anélla, dit is net wat jy nodig het.

“Ride it like a dragon!”

Wat is tom yum-sop?

Pa Coen sou gesê het: “Tom yum wat? Van watter vreemde gebroedsel praat jy nou, my kind? Dit klink boheems en sommer goddelooslik ook. Nee, magtig man, praat Afrikaans!”

Wel, tom yum-sop is ’n tradisionele sout-suur Thaise sop wat met groente, hoender, garnale of vis gemaak kan word.

Ek het geleer om outentieke tom yum te maak by die Blue Elephant-kookskool in Bangkok, Thailand.

Eers maak jy ’n pasta van salotte, rissies, galangal (’n soort gemmer), knoffel, koljanderwortels en garnaalpasta met jou stamper en vysel. Dan word sitroenkruid (lemon grass) gekneus en saam met die pasta in ’n pot hoenderaftreksel gekook.

Jy kan dan garnale, hoender, groente of vis byvoeg. Dit word gegeur met vissous, lemmetjiesap en afgerond met vars gekapte koljander en grasuie (spring onions).

Thaise kookkuns het wonderlike gesondheidsvoordele en navorsing het bewys dit gee onder meer jou immuunstelsel ’n hupstoot. Dit bevat ook amper geen vet of olie nie – en is dus ook goed vir jou figuur.

Anél se japtrap- Oosterse hoendersop

My japtrap- tom yum-sop gaan jou nie eens tien minute vat om te maak nie en proe nes daardie soppie wat ek in Bangkok onder die oog van ’n Thaise sjef gemaak het.

Die enigste bestanddeel wat jy wel by ’n Oosterse kruidenierswinkel moet gaan koop is die tom yum-pasta. Koop ’n botteltjie, dit is goedkoop en gaan jou lank hou.

Gooi een hoenderaftrekselblokkie, 500 ml water en 15 ml tom yum-pasta in ’n kastrol. Bring tot kookpunt. Sny een hoenderborsie en een groot sampioen in happie-grootte stukkies en voeg by. Roer nou ’n stukkie fyngesnyde gemmer, 5 ml vissous en 10 ml lemmetjiesap by en prut vir net vyf minute. Bedien met vars koljanderblare en gekapte grasuie. As jy lus is vir nog rissies, moenie skaam wees nie – maak dan soos Khaleesi en “ride it like a dragon”.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Lekker dik boontjiesop

(Babs Potgieter se resep)

500 ml droëbone van jou keuse

30 ml olie

750 g sopbene, met vleis aan of stowebeesvleis met bene, in stukkies gesny

250 g spek, in stukkies gesny

3 uie geskil, gekap

4 wortels, gekap

2 aartappels, in blokkies gesny

2 tamaties, gekap of 30 ml tamatiepasta

200 g murgpampoentjies (opsioneel, ek het in my yskas gehad en bygevoeg. Jy kan groenboontjies of ander groente ook gebruik)

2 naeltjies

5-10 heel peperkorrels

15 ml sout

2,5 liter kookwater of beesvleisaftreksel (indien jy aftreksel gebruik, wees net versigtig met die hoeveelheid sout wat jy byvoeg, want die blokkies bevat ’n taamlike hoeveelheid sout – gebruik dan net 5 ml sout en proe en voeg meer sout by indien nodig).

15 ml suurlemoensap

Vir bediening

15 ml botter of olyfolie

gekapte pietersielie

ekstra gebraaide spek vir bediening (opsioneel, maar lekker!)

Was die bone en week oornag in koue water. Braai die sopbene en spek stadig tot bruin en geurig. Voeg die res van die bestanddele by en laat vir 2-3 uur prut totdat die bone en vleis sag is. Vul aan met water indien nodig.

Skep die vleis en al die bene uit en sny die vleis in kleiner stukkies indien so verkies. Hou eenkant.

Skep ’n deel van die mengsel uit en verpulp met ’n voedselverwerker of staafmenger. Giet terug in kastrol. Gooi bene en vleis ook terug in die kastrol.

Proe vir sout en peper en roer ’n eetlepel botter of olyfolie deur.

Bedien met ekstra gebraaide spek, bietjie worcestersous langs die kant en dik snye brood en botter.

Anél se vinnige Oosterse hoendersop  (tom yum-sop)

500 ml kookwater

1 hoenderaftrekselblokkie

15 ml tom yum-pasta

1 hoenderborsie, in happiegroottes gesny

1-2 sampioene, in happiegroottes gesny

1 klein duim vars gemmer, in dun vuurhoutjiestokkie-stukkies gesny

5 ml vissous

1 lemmetjie

1 grasui, gesny

’n handvol vars koljander, gekap

Al die bestanddele wat jy nodig het om Anél se tom yum-sop te maak. Foto’s: Anél Potgieter

Gooi die kookwater, hoenderaftrekselblokkie en tom yum-pasta in ’n kastrol. Bring tot kookpunt.

Voeg nou die hoenderstukke en sampioenstukkies by. Roer die fyngesnyde gemmer, vissous en lemmetjiesap by en prut vir net vyf minute.

Die hoender sal gaar wees en die sampioene moet nog effens halfgaar wees.

Bedien met vars koljanderblare en gekapte grasuie.

Meer oor:  Koue  |  Resepte  |  Winter  |  Sop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.