Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Fynproe:
Wat ná engele se deel oorbly

Daar is drie goed wat jou enkelmout-whisky se smaak bepaal: die water, die vormvan die ketel en die vaatjie. Alet Wichmann het met ’n whiskymeester gesels.

Stewart Mackenzie Buchanan, ervare whiskymeester en handelsmerkambassadeur vir GlenDronach Whisky in die oostelike Skotse Hoogland, verduidelik wat dit is wat die eindresultaat van ’n enkelmout-whisky bepaal, terwyl hy elke paar minute afwisselend aan ’n glasie GlenDronach 12, 18 of 21 jaar snuif:

Water wat ’n hoë konsentrasie minerale bevat, reageer gedurende die fermentasieproses met die gis en lewer meer esters as resultaat. Hierdie esters is die “parfuum” wat sorg vir tropiese vrugte, appels en pere op die neus. As daar min minerale in die water is, is die resultaat donker note, soos swart- en bloubessies en speserye. GlenDronach gebruik laasgenoemde, sê Stewart.

Die ketel waarin whisky gestook word kan vet of maer, groot of klein met ’n kort of lang tuit wees. Watter vorm die stoker kies, het ’n invloed op die eindresultaat. ’n Kort tuit sorg byvoorbeeld vir ’n swaarder, robuuste whisky, aangesien die vloeistof dan makliker en vinniger uit die ketel verdamp, terwyl die vloeistof meer kere terugvloei tot in die boepens van die ketel en dan wéér moet verdamp as die tuit langer is. Dié whisky se smaak is dan ligter en suiwerder. Dis egter ononderhandelbaar dat die ketel van koper gemaak moet wees. Die koper veroorsaak ’n chemiese reaksie wat sulfate elimineer, verduidelik Stewart.

Die vate wat gebruik word om die whisky in te verouder sorg weer op hul beurt vir unieke note. ’n Ligte, suiwer whisky sal ’n mens byvoorbeeld nie in ou sjerrie-vate verouder nie omdat dit die note wat reeds ontwikkel is, heeltemal sal oorskadu. ’n Donker, robuuste whisky kan egter 40 jaar in sjerrie-vate lê sonder dat die oorspronklike geure oorskadu sal word, sê Stewart. By GlenDronach gebruik hulle ’n kombinasie van ou Pedro Ximénez- en Oloroso-sjerrie-vate.

Whisky as belegging

Whisky kan ’n finansiële belegging wees, maar dan moet jy weet wat jy doen, sê Stewart MacKenzie Buchanan. Volgens hom sien hy veral dat Oosterlinge op hierdie manier belê.

Hier is van die aspekte wat jy in ag moet neem:

  • Die vaatjie en die bottel moet ’n datum op hê.
  • Die bottel moet genommer wees, wat beteken daar is net ’n beperkte aantal bottels wat uit daardie spesifieke vat geskink is. Sjerrie-vate lewer sowat 400 bottels, terwyl Amerikaanse eikehoutvate net sowat 200 bottels kan hou. ’n Whisky wat langer verouder is, sal ook minder bottels lewer, aangesien die “engele se deel” (die whisky wat verdamp het) groter sal wees. Hoe minder bottels van die spesifieke whisky, hoe beter is jou kans om ’n belegging te koop.
  • Kyk uit vir whisky wat op die tradisionele manier gestook is. Daar is al hoe meer outomatisering by distilleerderye – en die whisky wat nog op die ou manier gemaak is, sal in die toekoms meer werd wees, sê Stewart.
  • Kies ’n whisky wat seldsaam is. In die 1970’s en ’80’s het baie whiskyhuise finansieel ondergegaan en is die distilleerderye se deure gesluit. Baie daarvan het weer begin stook, maar daar is ’n beperkte voorraad van hul ou bottels. Weer eens, omdat daar minder van hierdie whiskies in die mark is, is dit meer werd.
  • Whiskies met ’n hoër alkoholinhoud sal waardevoller wees, sê Stewart.
  • Kies bottels uit die 1960’s. “Jy sal ’n redelike kapitaalbelegging moet maak, maar jou geld sal maklik oor ’n jaar verdrievoudig. As jy jonger whisky aanskaf, vat jy ’n groter kans om te sien of die spesifieke whisky in waarde gaan groei.”

Het jy geweet?

Die whiskymeester sal eers aan die einde van die proses besluit wat die perfekte alkoholpersentasie vir sy whisky is deur water by te voeg. GlenDronach se whiskies wissel van 43% tot 48%.

Meer oor:  Whisky
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.