Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Waterbewaker met groot visie

Candice Jansen is Suid-Afrika se eerste gesertifiseerde watersommelier en een van net sowat 150 ter wêreld. Foto’s: Deon Raath
Water het smaak, sê Candice Jansen, Suid-Afrika se eerste watersommelier aan Riana de Lange wat saam met haar water geproe het.

In die Noorse dorpie Longyearbyen bekend vir die noorderlig, word Svalbarði-ysbergwater met ’n uiters lae mineraalinhoud gebottel. Dit is die verste noord ter wêreld waar fynproewer-water gebottel word.

Die Duitse Nevas Water Cuvée, ’n premium tafelwater, is weer ’n kombinasie van water uit twee natuurlike fonteine vir ’n unieke smaak en mineraalinhoud. Dit het natuurlike borrels en is bekend as die sjampanje van water. Selfs die bottel herinner aan vonkelwyn.

Vandat ek kan onthou, kan ek nie ’n druppende kraan verdra wat water vermors nie.

Dít is van die fassinerende inligting oor uitsoekwater wat Candice Jansen (33), Suid-Afrika se eerste gesertifiseerde watersommelier en een van net sowat 150 ter wêreld, opgewonde maak. Sy beskryf haarself as ’n watersommelier, -entoesias en selfaangestelde waterbewaker vir ’n toekoms met watersekerheid.

Sy’t in Sun City grootgeword waar haar ouers in die gasvryheidsbedryf gewerk het. Candice het vroeg in haar lewe besef water is die waardevolste natuurlike hulpbron wat ons het, maar dis skaars.

“Vandat ek kan onthou, kan ek nie ’n druppende kraan verdra wat water vermors nie.”

Dít was die begin van ’n reis om bewustheid te bevorder oor hoe waardevol water en natuurlike waterbronne is, oor die gesondheidsvoordele en waarom jy moet weet wat is in die water wat jy drink.

As haar loopbaan, stel Candice water-spyskaarte vir hotelle en restaurante saam, gebruik waterproegeleenthede as ’n instrument om bewustheid oor water te bevorder, en sy open binnekort ’n akademie in Johannesburg waar belangstellendes kursusse sal kan volg.

Deur haar verspreidingsmaatskappy OriginFloe bemark en versprei sy fynproewerswater (fine water) uit verskeie wêrelddele.

Elkeen van hierdie gebottelde waters het sy eie karaktereienskappe.
’n Water vir elke smaak

Candice het onlangs die restaurant Aubergine in Kaapstad se waterspyskaart saamgestel. Dit is een van net 24 restaurante wêreldwyd met ’n waterspyskaart.

’n Paar jaar gelede was die restaurant Ray’s and Stark Bar in Los Angeles, Amerika, in die nuus vir sy waterspyskaart van 25 bladsye en ’n keuse van 20 verskillende soorte gebottelde water.

Candice glo elke restaurant moet ’n waterspyskaart hê: dit moet iets vir elke smaak bied, sal help met die bewustheid oor water én die regte waterpassing vul goeie wyn en kos aan.

Hoewel seldsamer produkte tot R1 500 per bottel kan kos in ’n restaurant, is daar genoeg bekostigbare opsies.

In uitsoekrestaurante word verskillende water bedien saam met elke wyn en gang van die ete. Candice beveel stil water aan saam met wyn, want water bied die platform vir wyn om tot sy reg te kom. Water met borrels werk goed saam met ’n dessertwyn.

Fynproewerswater is ideaal vir skemer- en mengeldrankies, in whisky en is lekker saam met sjokolade.

Candice sê as meer restaurante ’n waterspyskaart het, sal dit alle plaaslike handelsname help met ’n groter markaandeel en blootstelling.

Natuurlik en gesog

Candice het haar sertifisering deur die Fine Water Academy in Amerika gekry, maar sê mens leer baie van die basiese beginsels in die bedryf deur ondervinding.

Volgens haar kom van die wêreld se gesogste water uit fonteine, artesiese bronne (ondergrondse water wat opspuit as dit oopgeboor word), gletsers, waterkuile of van reënwater.

Daar is stil water, water wat natuurlik bruis en water met borrels (sparkling) – met sekere fonteine wat water natuurlik karboneer. Daar is ook ’n verskil tussen fynproewerswater en premium water.

Eersgenoemde het ’n storie en terroir – die invloed wat die spesifieke natuurlike omgewing soos grondsamestelling en klimaat waar die waterbron is, op die karaktereienskappe van die water het. Dit word by die bron gebottel.

Premium water is water uit ’n natuurlike bron.

Candice verduidelik water se smaak word bepaal deur die terroir en mineralesamestelling, uitgedruk as die TDS (total dissolved solids).

Die TDS-telling verskyn op die waterbottel se etiket. Water met ’n lae TDS-telling het ’n ligter smaak, terwyl meer minerale in die water en ’n hoër TDS-telling ’n swaarder smaak gee.

Van die water wat OriginFloe bemark, sluit in:

* Svalbarði, ysbergwater in ’n elegante glasbottel al die pad van die Noordpool.

Die water bevat geen nitrate of besoedelingstowwe nie en is ’n ligte, stil water met ’n soeter smaak.

Water van ysberge is van die seldsaamste ter wêreld omdat dit baie moeilik is om te versamel. Volgens Candice kom dit van stukkies ysberg wat vanself afgebreek het en geen ysberge word in die proses beskadig nie.

* Perlage, natuurlike mineraalwater wat by die bron in Pole gebottel word. Danksy die unieke botteleringsproses is die natuurlike borrels in die water baie klein en word dit stadig vrygestel. Dit het ’n delikate borreling en is soortgelyk aan vonkelwyn van hoë gehalte.

* Iskilde kom van ’n artesiese fontein (vryvloeiende water wat vanself na die oppervlak bruis) in Denemarke. Die water is suurstofhoudend (oxygenated) en ’n goeie pasmaat vir whisky en wyn.

Three Bays uit die Mornington-skiereiland in Australië kom uit een van die diepste en oudste akwifers wat ooit ontdek is. Die water bevat 23 van die 24 minerale wat noodsaaklik is vir goeie gesondheid.

Lofoten Arctic Water is ’n premium handelsnaam vir water uit Noorweë. Geniet dit saam met soesji, oesters en slaaie.

Sommige mense beskuldig watersommeliers soos Candice daarvan dat hulle water in ’n kommoditeit verander, maar sy verduidelik water­sommeliers gebruik water as ’n instrument om bewustheid en die gesprek oor water en waterbewaring te bevorder.

Candice benadruk water van ’n hoë gehalte en uitsonderlike wêrelddele is nié net vir die elite en spoggeriges nie.

“Die reg tot water en watertoegang is ’n basiese mensereg, maar miljoene mense op aarde het nie toegang tot skoon drinkwater nie. Daarom moet ons die gesprek aan die gang kry om dié krisis op te los.”

Hoe kies ek?

  • Stil water of water met borrels? Dit hang af van jou smaak en waarvoor jy lus is, net soos wanneer jy wyn kies.
  • Met of sonder ys? Verkieslik sonder ys, tensy die ys van dieselfde bron as die gebottelde water kom.
  • Koud of kamertemperatuur? Kamertemperatuur, want ys kan jou smaak verdoof.
  • Gegeurde of ongegeurde water? Gegeurde water is nie meer water nie. Baie mense verkies dit, maar dit kan nie water genoem word nie.
  • Gesuiwer of gefiltreer? Wees versigtig, want suiwering beteken alles is uit die water gehaal, ook die gesonde minerale. Dieselfde kan met gefiltreerde water gebeur. Maak dus seker die filtrering laat steeds die gesonde elemente deur.
Meer oor:  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.