Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Wees waaksaam, selfs langs die braai!

Met alles wat 2020 al na ons kant toe gegooi het, is dit eintlik ’n ongelooflike groot voorreg om vanjaar Erfenisdag (of Braaidag) saam met ons dierbares te kan vier, skryf Adele Myburgh. Onthou tog net dat Covid-19 steeds met ons is – tref dus die nodige voorsorg om almal veilig en gesond te hou. 

Covid-19 het vanjaar groot planne in die wiele gery. Van troues, verjaardagpartytjies en vakansies tot gewilde feeste en groot sportgeleenthede moes in 2020 die knie buig voor dié onsigbare onding en meegaande inperkingsmaatreëls wat deur die regering ingestel is om ons daarteen te help beskerm.

Vir maande het ons soos verskrikte meerkatte met bottels handreiniger onder die arm in ons gate weggekruip, amper te bang om ons neuse by die deur uit te steek, want wat as ek dit kry of iemand aansteek?

Niks keer jou om vanjaar Erfenisdag saam met jou vriende of familie te vier nie. Onthou net om waar moontlik jou masker te dra, hande te was of ontsmet en nie op ander mense te hoes of nies nie. Foto: iStock

Die “nuwe normaal” was ’n bitter pil om te sluk, al het selfs die gehardste rebelle goed besef dis vir ons eie beswil. Want mense is tog inherent sosiale wesens wat aan die einde van die dag nie sonder interaksie met mekaar kan of wil klaarkom nie.

Kantoorlessenaars is met die eetkamertafel by die huis vervang. Skole is gesluit en ouers het uit tuisonderrig geleer hoe kosbaar en onmisbaar ons land se onderwysers regtig is. Kuiermense was skielik iets om te vrees, restaurante en kuierplekke ’n sosiale taboe en die eens verwelkomende sirkel om ’n braaivleisvuur of etenstafel net vir die lede van daardie spesifieke huishouding beskore.

Video-oproepe op Skype, Zoom en Whatsapp is goed en wel om kontak te behou, maar dit voel tog so onpersoonlik. ’n Mens mis daardie gevoel van gemeensaamheid, ’n vriendelike drukkie of die deel van ’n lekker pot bredie of bottel Kaapse wyn.

Ondanks die feit dat Suid-Afrika in ’n stadium op die ranglys van topvyf-lande met die meeste Covid-19-infeksies gaan draai het, blyk daar nou uiteindelik ’n straaltjie lig aan die einde van die tonnel te wees. Die getal nuwe infeksies daal daagliks, veral hier in die Wes-Kaap. Dit, tesame met verskeie sosio-ekonomiese redes, het gemaak dat ons na vlak 2 van die inperking kon skuif.

Die goeie nuus vir mense wat Nasionale Erfenisdag met ’n braai wil vier, is dat jy en jou hartsmense in vlak 2 nou weer by mekaar se huise kan gaan kuier – mits daar nie meer as tien mense bymekaar is nie. Volgens die vlak 2-regulasies moet jy ook voor 22:00 by die huis wees, want die aanklokreël geld steeds tussen 04:00 en 22:00.

Dink dus daaraan om jou Braaidag-vieringe eerder buite te hou en gooi jou huis se vensters en deure wyd oop.

Dit beteken egter nie dat jy nou kan slaplê wat gesondheidsmaatreëls betref nie. Die slegte nuus is dat daar nog nie ’n entstof teen die Covid-19-virus hier beskikbaar is nie en ’n tweede vlaag infeksies ’n groot moontlikheid is indien mense te vinnig gerus raak, maan kenners.

Prof. Lucille Blumberg, adjunk-direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, sê op die department van gesondheid se aanlyn- Covid-19-portaal daar is nog ’n hoë vlak van oordrag binne baie gemeenskappe en dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om die verspreiding van die virus te help bekamp.

Buiten die dra van gesigmaskers, reken sy goeie ventilasie is ook baie belangrik wanneer mense in groepe bymekaar kom. Dink dus daaraan om jou Braaidag-vieringe eerder buite te hou en gooi jou huis se vensters en deure wyd oop.

Nog goeie raad is om nie te na aan die ander gaste te staan of sit (behou ’n afstand van 1,5 m) of aan hulle te raak nie. Groet maar met ’n stampie teen die elmboog, eerder as om blad te skud. Plaas stoele lekker ver uitmekaar om die braaivuur.

Gebruik altyd ’n sakdoek of snesie as jy nies of hoes en sorg dat jy jou hande gereeld was of ontsmet. Dit kan ook nie skade doen om oppervlakke waaraan mense gereeld vat, soos in die kombuis en badkamer, te ontsmet nie. Jy kan dieselfde met eetgerei en glase doen.

Dra ook jou masker wanneer jy met kos werk en sorg dat jou hande silwerskoon is.

Met die nodige voorsorgmaatreëls in plek behoort jy en jou gaste ons reënboognasie se erfenis met ’n geruste hart te kan vier. Wees veilig en onthou, saam kan ons berge versit!

GEBORG

Van die plaaslike Braaidag-verskaffers wat jy kan ondersteun is:

  • Allesverloren, vir rooi- en witwyne uit die hartjie van die Swartland-streek.
  • Fitch & Leedes, vir hul spesiale Heritage Indian Tonic wat slegs in September vir Erfenismaand beskikbaar is om jou Braaidag-drankie mee aan te vul.
  • Jimmy’s Sauces, vir watertandlekker marinades en souse wat enige braaivleis sal opkikker.

Meer oor:  Erfenisdag  |  Erfenis  |  Braaidag2020  |  Braaidag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.