Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Weskus is Beskus
Bella se gebraaide engelvis is hemels

My visherinneringe het als begin met my Pa Coen wat dit ontsettend geniet het om te gaan visvang wanneer hy kans gekry het.

Ma Babs weer het die grootste gedeelte van sy Vrystaatse karpvangs in kerrievis omskep. Dié kerrievis is dan in canfruit-bottels styf geseël en het trots in gelid in ons spens staanplek gekry.

Ek moet egter bieg, in hierdie tydperk van my lewe, as dit by vis kom, ry ek West Coast Fisheries toe en gaan staan in die ry vir die mees onpretensieuse, maar lekkerste, asynerige hake and chips parcel. Op pad huis toe glip my hand in die slaptjips­pakkie in en sorg dat my 259 000 km oue Jetta se stuurwiel vol oliekolle by ons garagedeur ingekatrol kom. Tot my Ier se groot ontsteltenis!

Anél en Bella.

Isabella Niehaus se Weskus-vis

Wanneer ek aan Weskus-vis dink, dink ek aan my vriendin Isabella Niehaus se gebraaide engelvis wat ek anderdag bevoorreg was om aan te smul.

Dit was sappig, die umami van die soja was subtiel, en die suurlemoen en knoffel het die stukkie vissie laat proe asof dit uit die hemel na ons gestuur is. Perfek voorberei deur die Weskus-visengel wat aan diens was as sjef.

Bella, soos ons haar ken, het tog te heerlik gesels terwyl ons aan ’n glasie yskoue wyn geteug het met ’n uitsig oor die Atlantiese Oseaan.

So vertel sy: “Die manne van Kalkbaai het in ’n braaikompetisie stof in die oë van al die topsjefs geskop met hul voorbereiding van geelstert. Ek was ’n beoordelaar by ’n Sassi-braaikompetisie. Daar was sjefs, braaimeesters en celebrities, en dan natuurlik die vissermanne van Kalkbaai.

“Die deelnemers het ’n uur gehad om ’n hele ete op ’n braai voor te berei. Vir die vissermanne was alles so chilled as kan kom. Ná die skoonmaak van die vis, het dit vir 40 minute in ’n marinade van sojasous, suurlemoensap, olyfolie en knoffel gelê.

“Daarna is dit op die vel neergesit en vir slegs ’n paar minute gebraai. Die geelstert het hulle omgedraai net om dit aan albei kante kleur te gee. Die marinade het natuurlik die werk gedoen om die vis gaar te maak. Die vis was toe amper reeds ’n ceviche. Vir my is dit my gunstelingmanier om vis te marineer en gaar te maak. Net so in ’n pan, of op die vuur.”

Mossels en stampmielies

Bella het my toe ook nog boonop aangenaam verras met haar unieke kombinasie van mossels en stampmielies – en glo my as ek noem dat dit nou ’n regte mond-wakkermaak-lekkerte is.

Die stampmielies het tekstuur aan die gereg gegee en so het dié onpas-tweetjies alte lekker troumakietie aan die Weskus gehou. Al speel die mossels die hoofrol in die ongewone huwelik, is dit die stampmielies wat die Oscar verdien. Maar hulle sê mos in Engels as dit by romanse kom: “Opposites attract”.

Ja nee kyk, Weskus bly maar Beskus, waar mens lekker eet, maar ook ontsnap van elke stresfaktor in ons lewe. Klink inderdaad hemels, nè?

Groete uit my kombuis

Anél Potgieter

anelpot@telkomsa.net

Mossels – die duinmanier

Mossels – die duinmanier
Mossels – die duinmanier

(Resep: Isabella Niehaus)

1 e olie

1 t botter

1 ui, grofgekap

1 knoffelhuisie, grofgekap

4 vars tiemietakkies

5 kg vars mossels, baarde uitgetrek

½ k witwyn

Verhit ’n groot pot op die stoof. Gooi die olie en botter in. Wag tot die botter behoorlik gesmelt is voordat jy die ui, knoffel en tiemietakkies byvoeg. Roer tot die uie so effe deursigtig is. Gooi nou die mossels by en sit die deksel op. Haal die deksel ná omtrent 5 tot 7 minute af. Die meeste mossels behoort nou oop te wees. Voeg die wyn by en kook vir ’n verdere 3 minute.

Haal van die stoof af en bedien so gou moontlik terwyl dit nog warm is. Skep in ’n lekker diep bak en bedien met vetkoek of varsgebakte brood om al die lekker sous mee op te vee.

Witvis met soja-marinade

Witvis met soja-marinade
Witvis met soja-marinade

(Resep: Isabella Niehaus)

4-6 vismote

Marinade

1 k sojasous

½ k suurlemoensap

Gerasperde skil van 1 suurlemoen

½ k olyfolie

2 knoffeltone, fyngedruk

2 e botter

Pak die vismote in ’n glasbak. Meng al die marinadebestanddele saam en gooi oor die vis. Marineer die vis vir een uur of langer. Maak seker dat jy die vis gereeld omdraai, maar wees versigtig. Smelt die botter in ’n baie warm pan. Braai die vis eerste op sy velkant. Jy kan sien hoe dit gaar word. Draai vinnig om.

Gooi die marinade oor die vis en verlaag die hitte. Laat die gebraaide vis voortkook in die marinade. Hou die vis dop. Dit mag nie te gaar kook of braai nie. Sodra dit net-net gaar is, haal uit die pan. Bedien warm op ’n bed groenslaai met gerookte beet. Dis net so lekker as dit effe afgekoel het.

Die wenners van die 2019 Eat Out Mercedes-Benz Best Everyday Eateries is pas bekend gestel en is ’n aanduiding van die beste plaaslike eetplekke in die Wes-Kaap. Ná ’n jaar lange stemperiode en beoordelingsproses tesame met punte van professionele Eat Out-kritici, is die top-eetplekke in elke kategorie aangewys deur middel van die publiek se punte op die Eat Out-app en -webtuiste.

Beste alledaagse eetplekke in W-Kaap

Vanjaar se wenners is:

Beste bistro

Wenner – The Shop Restaurant, Drieankerbaai, Kaapstad

Sterk aanbeveel – Groot Phesantekraal Restaurant, Durbanville

Beste koffiewinkel

Wenner – Pajamas and Jam Eatery, Strand

Sterk aanbeveel – Boston Coffee, Bellville

Beste burgerrestaurant

Wenner – De Vrije Burger, Stellenbosch

Sterk aanbeveel – Gibson’s Gourmet Burgers and Ribs, V&A Waterfront

Beste steakhouse

Wenner– The Fat Butcher, Stellenbosch

Sterk aanbeveel – Rare Grill, Kenilworth

Beste tapas-eetplek

Wenner – ChiCha Wine and Tapas Bar, Seepunt

Beste Asies-geïnspireerde restaurant

Wenner – Tjing Tjing Torii, Kaapstad

Sterk aanbeveel – Bao Down Restaurant, Oranjezicht

Beste Italiaans-geïnspireerde restaurant

Wenner – Scarpetta, Woodstock

Beste country-styl restaurant

Wenner: Karoo Art Hotel Restaurant, Barrydale

Beste Indies-geïnspireerde restaurant:

Wenner – The Indian Chapter with Prim Reddy, Bloubergstrand

Gaan kuier gerus by Isabella Niehaus se Lang­tafeletes op Langebaan.

Volg haar op Facebook: Langtafel op die DUIN

Kontak: 083 265 2147


Meer oor:  Resepte  |  Vis  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.