Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
AAN TAFEL
Weskus op die spyskaart

Met ’n langtafel-ete in Langebaan het Errieda du Toit ’n heerlike seekoservaring geniet.

As ’n entoesias van Weskus-kos het ek grootoog voor die kassie ingeskuif vir ’n episode van die VIA-kookkompetisie Aansit met “Weskus-spore” as spyskaarttema en die seekos-veterane Isabella Niehaus, Rudolph Shepherd en Rihann Brand agter die potte.

As dit so lekker lyk net van sien, hoe lekker proe dit, het ek kwylbek gewonder. Hoe intens sou die smaakervaring nie wees nie, aangevul deur die gesellige rokerigheid van die braaivuur, die sout seelug en gekrys van seevoëls?

Ek het my antwoord gekry toe die drie kokke my genooi het na ’n langtafel-ete geïnspireer deur hul kompetisiegeregte, ’n asemrowende see-uitsig as bonus.

Met haar voorgereg het Isabella net weer bewys dat kontreikos, met respek vernuwe, ’n toonvenster vir plaaslike bestanddele is en ’n ereplek op restauranttafels verdien. Vir die program het sy gerookte-snoek-kaaskoek voorgesit met klein bakkies tuisgemaakte mascarpone, blatjang van geelperske en pruime, groenvyekonfyt en ’n slaaitjie van herebone en gepekelde komkommer.

Weskus-kos op die vuur by Duinhuis in Langebaan.Foto: IAN DU TOIT

Die visserman Rihann van Dwarskersbos se hoofgereg het bevestig dat hy met ’n visstok én braaitang in die hand gebore is. Alles is oor die oop vuur gaargemaak: Die geelbekfilette, die swartmossels in bamboes gestoom en die tamaties vir die pikante sous oor die kole gerooster. Sulke vars bestanddele vra nie tierlantyntjies nie, net bokkombrood en kappertjiebotter.

Vir nagereg het Rudolph tradisionele huiskos-smake gekombineer met gevorderde sjefstegnieke en komplekse geure. Sagopoeding is in klappermelk gekook en koud bedien met kwepers geposjeer in rooibostee met kardemom en kaneel. ’n Jellietrio sorg vir nostalgie, maar kry neutkrakeling, kwepertoffie en tuiles vir kontras.

Die span deel hier ’n resep uit elke gang met Versnit-lesers, aangepas sodat jy ook die Weskus na jou kombuis toe kan bring.

  • Isabella Niehaus bied weer langtafel-etes by haar Duinhuis in Langebaan aan. Dit word gehou op 25 Oktober en 18 en 19 November. Sy bied driegangetes aan op Saterdag 12 en 19 Desember en vyfgangetes op 13 en 20 Desember. Kontak haar per e-pos by bellaniehaus24 @gmail.com of stuur ’n boodskap na 083 265 2147.
Meer oor:  Weskus  |  Spyskaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.