Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Wyn met min kalorieë: Gier of plesier?

Februarie is verby. Wie hou nog by sy of haar Nuwejaarsvoorneme om ’n gesonder lewenstyl te handhaaf? Wel, wyn met min kalorieë sal dit dalk makliker maak, paai Winifred Bowman, ’n Kaapse wynmeester.

Wie kan Suid-Afrika se eerste wyn met ’n lae alkoholinhoud onthou? Dit was die ikoniese T.J. Light – Twee Jonge Gezellen van Tulbagh.

Navorsing toon dat ’n toenemende aantal verbruikers se aankopebesluite deur hul lewenstyl bepaal word. Dit sluit gesonder kos en wyn met min alkohol in. Dit is ’n wêreldwye tendens.

Wyne met min kalorieë én min alkohol word beskou as een van die terreine in die dranksektor wat die vinnigste groei toon – sowat 30% per jaar. Dit is nie moeilik om die rede daarvoor te verstaan nie: Verbruikers raak al hoe meer bewus van die kalorie­-inhoud van wyn. Elke 100 ml witwyn teen 13% alkohol bevat om en by 91 kalorieë, in teenstelling met wyn teen 9,5% alkohol teen min of meer 67 kalorieë!

Natuurlik het die beweging na dié soort wyne ook te doen met die nuwe padwette en die veranderinge in eetgewoontes soos (ondanks die banting-aanhangers) minder vleis en meer vis en groente. Ligter kos.

Ook die hoër aksyns­belasting op wyne met meer alkohol speel ’n rol.

Die alkoholinhoud van wyne het die laaste paar jaar stadig maar seker gestyg – deels as gevolg van aardverwarming, maar ook weens die “status” wat groot, stewige wyne in kompetisies het. Daar is dikwels die gerug dat wynbeoordelaars, soos Robert Parker, meer aanklank vind by sulke wyne.

Tog beoog een van die toonaangewende supermarkte in Brittanje, Waitrose, om voortaan minstens die helfte van sy rakke te vul met wyn met min alkohol.

Hoe word dié styl wyne gemaak?

Daar is baie maniere om die alkohol- en kalorie-inhoud van wyne te verminder. Druiwe kan onder meer vroeër geoes word wanneer die suikerinhoud minder is en dit dan die finale alkoholinhoud min sal hou. Hierdie styl wyne word egter deur kenners gekritiseer as “dun en min”.

Volgens die wynbeoordelaar en dosent Charl Theron kan wynmakers ’n strategie toepas om gebalanseerde wyne wat ook smaaklik is op die mark te kry. In die wingerd kan druifsoorte soos riesling en malvasia bianca gebruik word – hulle ontwikkel hul kenmerkende geure teen ’n baie laer suiker- en alkoholinhoud as byvoorbeeld chardonnay.

Daar is ook tegnieke wat in die wingerd toegepas kan word om dié doel te bereik.

Wat die wynmaak betref, kan gisting teen ’n hoër temperatuur die alkoholinhoud met tot 1% verlaag, sonder om gehalte in te boet. Gisting kan ook gestop word om nie heeltemal droog te gis nie, wat dan die wyn se balans meer oemf sal gee ten spyte van ’n laer alkoholinhoud.

Dan is daar die nuwe soorte gis wat sorg vir wyn met ’n laer alkoholinhoud.

Wyne met min kalorieë is ’n belangrike navorsingsprojek van die New Zealand Winegrowers, waar die regering en 17 produsente ’n lewenstylprogram van sewe jaar begin het om gehaltewyne met ’n laer alkohol- en kalorie-inhoud te produseer. ’n Reusebedrag van amper R96 miljoen word op hierdie projek gespandeer.

Een van die deelnemende produsente, John Forrest van Forrest Wines in die Marlborough-streek van Nieu-Seeland, is een van die voorste navorsers. Dié molekulêre bioloog werk al jare aan sy projek om gehaltewyne te produseer. Sy riesling- en sauvignon blanc-wyne onder die Doctor-etikette het onlangs goue medaljes by die Air New Zealand-wyntoekennings ontvang. Dít is ’n uitmuntende uitslag vir dié wynstyl. Dié sukses spoor hom en sy vrou, ’n mediese dokter, net meer aan om die projek wêreldwyd bekend te maak.

In Suid-Afrika is ons ook gereed om dié wyn te aanvaar – veral met ons lang somers, buite-wees en ontspanne lewenstyl. Selfs die dokter beveel dit dan aan. Gier of plesier? Besluit self!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.