Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Wyne vir die Kerskous of vrolike feestyd-samesyn

Ná ’n rowwe jaar verdien almal ’n bederf van goeie wyn. Winnie Bowman deel haar keuses van Kerswyne en wynmakers se feesplanne.

Wat ’n jaar was 2020 nie. Wie sou verlede jaar hierdie tyd kon dink hoe dit sou verloop? Nou staan ons aan die begin van die feestyd en wat is beter as om hierdie kosbare tyd van die jaar met families en geliefdes deur te bring?

Kobie Viljoen van Villion druk dit so mooi uit: “As ek nou mooi sit en dink, die herinneringe van Kersfees, en die komende Kersfees waarna ons uitsien, is oorwegend sensories van aard. Nes ’n besonderse wyn. Die kleur is helder sonskyn, blou seewater en die wit skuim van die branders en die hemelblou lig en snags die skitter van sterre teen die diepdonker agtergrond. Die helder kleure van die baai-kostuums en sambrele en die potpourri van eetgoed en drankies. Die rokerige en gebraaide-vet-geur van braaivleis, die klappergeur van sonbrandolie en die vrolike parfuum wat die vroue hulself mee besprinkel.

“Die smake van vroegoggendkoffie of -tee, die sout van die seewater in jou mond, die vla en jellie in die meringuetert en die waatlemoensap wat oor jou ken loop.

“Die gevoel van die sand onder jou voete en die son teen jou lyf, die sandpapier van die soutkristalle wat teen jou slape droog word.”

Morne Vrey van Delaire Graff sê: “Oor die Kersfeesseisoen probeer ek soveel moontlik gehaltetyd met die familie deurbring. Dit is die perfekte tyd om asem te skep ná ’n jaar en bietjie in jou kop voorbereiding te doen vir die pars wat voorlê. Ons geniet gewoonlik die see en om soveel seekos as moontlik te eet (met lekker wyn natuurlik)!”

“Kersfees is altyd ’n baie spesiale tyd,” sê Donovan Ackerman van Rickety Bridge. “Daar is altyd baie besoekers, almal is vrolik en in ligte luim, die son skyn en geniet die gasvryheid wat Rickety Bridge bied. Die wingerde is dan op hulle mooiste en die druiwetrosse loer agter die groen blare uit, net voor hulle gepluk en in heerlike wyne omskep word. Ons bring gewoonlik die vakansie by die see deur – ek en my vrou het albei groot families, so die Kersete is gewoonlik ’n groot affêre! Al die niggies en tannies is in die kombuis besig, terwyl die mans die braai aandurf. Dis natuurlik terwyl ons ’n heerlike glas Rickety Bridge Pinotage geniet – perfek vir ons tradisionele Kerslamsrib en -beesfilet.”

Vir Marinda Kruger-Claasen van Elgin Vintners is Kersfees “stilword”-tyd vir haar gees. “Ek hou verskriklik baie van Kersfees en nee, dit gaan geensins vir my oor geskenke nie, maar oor saamwees. Niemand moet alleen wees hierdie tyd van die jaar nie. Dit is vir my ook kuiertyd en daarom is familie en vriende welkom, my huis se deur staan wawyd oop – the more the merrier!

“Op die plaas is ’n tasbare feesgevoel duidelik: almal is ligter. Ons is gedurende die feesdae baie bedrywig. Ons dae en vroegaande is so mooi, so ons kuier heerlik op die dek by ons proelokaal.”

Elunda Basson van Steenberg is skoon opgewonde oor die feestyd wat voorlê: “Kersfees by die Bassons is altyd son, see en kamp! Ons kamp elke Desember langs die Weskus en vier Kersfees op ’n baie intieme en informele manier. Ná ’n jaar soos 2020 is Kersfees ’n spesiale geleentheid om dankbaar te wees vir die gawes en gesondheid wat ons steeds geniet en die geliefdes om ons te waardeer met goeie wyn en spesiale kos.”

Vir Justin van Wyk van Constantia Glen gaan Kersfees net oor die kinders, en veral sy twee dogters: “Kersfees is altyd ’n opwindende tyd in ons huis, veral wanneer die geskenkelys deur hulle geskryf word! Ons Kersboom maak op 1 Desember sy verskyning en die feesvier begin op Oukersaand met ’n feestelike maaltyd – natuurlik met Constantia Glen-wyne en die hele familie teenwoordig. En daar word melk en koekies vir Kersvader onder die boom gesit!”

Bernhard Veller van Nitida raak nostalgies: “Dis ongelooflik hoe 2020 na sy einde storm – dis net ongelooflik hoe elke jaar net korter en korter voel vir so baie van ons. Hierdie tyd van die jaar dink ek terug oor alles wat deur die jaar gebeur het, en ek moet sê, 2020 was een van die malstes!

“Kerstyd is ook ’n tyd waar ons dink aan geliefdes wat ons hierdie jaar verloor het, en die herinneringe te koester. Dit is ook ’n tyd vir vakansie en feesvier saam met familie en vriende.”

Winnie se feestyd-keuses

  • Elgin Vintners Fynbos Premium White (R42): Sauvignon blanc, chardonnay (gehout), viognier en chenin blanc in ’n gesofistikeerde versnit en perfek vir pieknieks, geurig en ’n lae alkohol wyn vir die warm somersdae. (300 ml blikkies.)
  • Paul Cluver Riesling 2018 (R110):Smaaklik en geurig, met bywas, groen appel en lietsjie, elegante suur struktuur en ongelooflike balans – vir enige Kersvoorgereg.
  • Kleine Zalze Vineyard Selection Chenin Blanc 2019 (R114): Vrugteslaai in ’n glas! Hierdie heerlike en vars tropiese vrugte verlei jou elke keer. Gebalanseerd en ’n vyfster-winskopie!
  • Delaire Graff Cabernet Franc Rosé 2020 (R130):Sysagte pienk met vars gekneusde sagte kruie en rooibessie-vrugtegeure. Hierdie is lig en net die pasmaat vir soel somersdae by die see, of sonsondergang op die stoep saam met vriende.
  • Nitida Coronata Integration 2018 (R140):Durbanville op sy beste! Uitstekende versnit van sauvignon blanc en vatverouderde semillon wat tropiese vrugte, lemmetjie en sagte klapper op die palet laat speel.
  • Villion Blanc de l’Atlantique 2017 (R150):Hierdie is ’n ontploffing van geure – lemoenbloeisels, heuning, perske, appelkoos en jasmyn, maar heerlik droog. Van viognier, chardonnay en chenin blanc.
  • Groot Constantia Sauvignon Blanc 2019 (R174):Hierdie wyn het so pas met die titel vir die beste sauvignon blanc in die wêreld by die International Wine Challenge weggestap! Propvol tropiese geure, uitstekende balans en net reg vir die feestyd.
  • Spookfontein Pinot Noir 2017 (R175): Woudgeure meng met swart kersie en swart bessies in hierdie satynsagte wyn. Intense aardse nasmaak – geniet saam met sampioenrisotto.
  • Wade Bales Regional Series Breedekloof Chenin Blanc 2019 (R195): Hierdie uitstaande wyn is die breinkind van Wade Bales: vyf Breedekloof-wynmakers het bygedra tot hierdie bekroonde vyfster-bottel wat uit sy nate bars met perske, appel, spesery en eksotiese vanielje.
  • Stark Condé The Field Blend 2019 (R225): Hierdie is ’n versnit van roussanne, chenin blanc, verdelho en viognier en laat ’n mens aan ’n vroegoggenddraf deur die vrugteboord dink! Douvars tropiese vrugte gemeng met ryp perske, appelkoos en ’n geurige parfuum.
  • Cederberg Ghost Corner The Bowline 2018 (R230): Eksoties en vernoem na “Die Koning van Knope” en verbind ’n verruklike versnit tussen sauvignon blanc en semillon. Van die koel Elim-omgewing en ’n mondvol lemmetjie, heuning en perfekte balans – nommerpas vir vars seekos.
  • Steenberg 1682 Pinot Noir Cap Classique (R245): Pragtig in pienk met sagte bessie-borreltjies. Vars en vrolike framboos-, kersie- en aarbeismake op die tong!
  • Boplaas Cape Vintage Re­serve 2017 (R295):Vyf sterre in die 2021 Platter’s-wyngids en perfek vir die Kerspoeding met diep geure van vrugtekoek, tabak, fynbos, pruim en bessies. Kry sommer genoeg vir volgende jaar ook!
  • Creation Reserve Chardonnay 2019 (R320): Hierdie besonderse wyn van ’n enkelwingerd is sitrus-, appel- en bottergeure en -smake op steroïede! Vars, elegant en perfek vir daardie geroosterde Kersfeeseend.
  • Pieter Ferreira Blanc de Blancs 2013 (R410):Cap Clas­sique op sy beste. Van 100% chardonnay met gekonsentreerde appel, lemmetjiesmeer, vanieljebeskuitjies en ’n lang heuningagtige nasmaak.
  • The High Road Directors Reserve 2017 (R470):Dié Bordeaux-styl wyn bekoor met donker bessie, nuwe-leer-parfuum, vanielje en sysagte tanniene. Vol in die mond en rond. Nóg ’n vyfsterwyn vir die Kersmaal.
  • Constantia Glen Five 2017 (R490): Uitstekende Bordeaux-styl- versnit van koel Constantia. Diep en geurig met donker bessie, warm spesery en fynbesnaarde tannienstruktuur.
  • Quoin Rock Shiraz 2015 (R600): 100% shiraz van die Simonsberg in Stellenbosch is ryk en vol met pikdonker vrugte, droë kruie en ’n uitstekende balans – die tanniene is ferm en sal nog jare se plesier gee.
  • Rickety Bridge The Bridge 2017 (R650): Gemaak van 100% bosstok-cabernet sauvignon van Dassenberg in Franschhoek is volrond met fluweelsagte tanniene wat die kruisement, donker bessies en speserye in die mond laat kerjakker! Hou ’n paar vir volgende jaar.
  • Klein Constantia Vin deConstance 2017 (R1 250): Een van ons beroemdste wyne en soet hemel in jou glas – van 100% muskaatdruiwe met intense marmelade, lentebloeisels, pasgeroosterde amandels en nimmereindigende nasmaak.
    Meer oor:  Feestyd  |  Wyne
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.