Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Wynmakers wat hul eie ding doen

’n Handjievol wynmakers maak nie net wyn vir die kelder waar hulle werk nie, maar ook onder hul eie handelsmerk. Christine Rudman deel meer oor dié wynmakers.

The Blacksmith Prince of Bones met sy interessante etiket van Tremayne Smith is ’n cinsault-wyn.

Plaas jouself in die skoene van die eienaar of bestuurder van ’n gesogte wynplaas.

Miljoene rande is belê in die infrastruktuur en dit het fokus en deursettingsvermoë geverg om ’n goeie reputasie oor die jare op te bou. Dit gaan goed met die onderneming en die wyne behaal sukses in sowel die plaaslike as in die buitelandse mark. Sake gaan voor die wind.

Dan kom die hoofwynmaker na jou toe en vra of hy sy eie wyn kan maak. Wat sou jou reaksie wees? Ek weet nie hoeveel keer die antwoord hierop ’n nee was nie, want dit word nie sommer bespreek nie, maar daar is goeie voorbeelde van wanneer die antwoord wel ’n ja was.

Die weerstand teen so ’n versoek is grondig: Sal die wynmaker se produk kompetisie wees vir die kelder se eie wyn? Daar is net een oes per jaar; sal die wynmaker se prioriteite op die regte plek wees?

As die wynmaker se private projek ’n groot sukses is, bestaan die gevaar dat hy of sy die kelder kan verlaat om al sy fokus op sy eie wyn te rig.

Neem Miles Mossop as ’n voorbeeld. Mossop was 18 jaar lank die keldermeester by die Tokara-landgoed in Stellenbosch voordat hy bedank het om voltyds op sy eie wyn te fokus.

Yardstick se Raised by Wolves Semillon Groen Druif 2016 is een van die wyne wat Adam Mason maak.

Hy het sedert 2004 sy eie reeks by Tokara begin maak en was slim genoeg om drie wyne te maak wat nie met Tokara se wyne gekompeteer het nie.

Die witwyn is van chenin blanc gemaak en alhoewel hy Bordeaux-kultivars gebruik het vir sy rooiwyne (cabernet sauvignon, merlot en petit verdot), was dit steeds in ’n ander prysklas as Tokara se soortgelyke Director’s Reserve.

Drie ander voorbeelde waar hierdie parallelle wynmaakpatrone steeds voorkom (en glo my, daar is baie), is Adam Mason by Mulderbosch in Stellenbosch, Franco Lourens by Alheit Vine­yards in Hemel-en-Aarde sowel as Tremayne Smith by Fable Mountain Vineyards in Tulbagh.

Op hul eie maak hul so

In Adam Mason se geval was dit ’n maklike besluit. Mulderbosch het ingestem dat hy sy private projek kan aanpak, maar dat hulle ook ’n gelyke vennoot word. Mason gaan soek druiwe van wingerde wat hom beïndruk en maak die wyn dan by Mulderbosch waar hy die maatskappy se infrastruktuur gebruik om die wyne te verkoop. Al die wins word gedeel en hy het sy private etiket

Franco Lourens se Piekenierskloof Skuinskap Steen 2017. Hy het veral ’n passie vir chenin blanc.

Dit word Yardstick-wyne genoem met die hoofreeks genaamd Raised by Wolves. Die meeste van die druiwe word van individuele wingerde verkry wat in die wyn se naam vereer word, soos die La Colline Semillon van ’n Franschhoek-wingerd wat dateer van die 1930’s. Daar is 11 wyne in totaal, waarvan die Driehoek Chenin Blanc ongelukkig nou sy laaste buiging maak omdat die wingerd sedertdien uitgetrek moes word.

Soos wat ’n mens kon verwag, kan die wynmaker se persoonlikheid duidelik in sy eie wyne gesien word, soos dié van Franco Lourens (Lourens Family Wines). Twee van sy wyne is na familielede vernoem: sy pa, Howard John, en sy vrou, Lindi Carien.

Hy soek wyd na druiwe om te gebruik vir sy vier wyne. Drie van die wyne is chenin of chenin-versnitte en dit is duidelik ’n druif waarmee hy sy passie kan uitdruk. Hy gee Chris Alheit die volle erkenning vir sy kennis en vaardigheid, ook vir die hulp as mentor om twee van die wingerde vir hom te kon opspoor. En hy het toegang tot Alheit se invoerders.

Die meeste van Alheit se wyne word ook van chenin gemaak en die druiwe word van verskillende bronne aangekoop. In sommige gevalle gebruik hulle ook dieselfde wingerde. Lourens se sakeonderneming is nog in sy babaskoene en het eers in 2016 die lig gesien toe hy, op Alheit se uitnodiging, as assistentwynmakers by Alheit Vineyards aangesluit het.

Soos in Mason se geval, gebruik hy ook enkeldruifsoort wingerde wat hy in sy aanslag en manier van wynmaak wil laat deurskemer. Daar is geen botsende belange nie en goeie che­nins word van albei kante aan die wêreld bekendgestel.

Tremayne Smith, sedert 2016 die wynmaker by Fable Mountain Vineyards in Tulbagh, maak al sy eie wyn sedert 2014 wat hy onder die handelsmerk The Blacksmith bemark het. Dit het begin toe hy nog by Mullineux in die Swartland gewerk het. Dít is ook waar hy meer oor die potensiaal van enkelwingerdwyne in daai omgewing geleer het. Met die hulp van sy wingerdboukundige konsultant, Jaco Engelbrecht, kry hy steeds wonderlike druiwe van hier af. Sy reeks is divers en klink groot met 12 verskillende wyne, maar sommige hiervan is net in baie klein hoeveelhede beskikbaar.

Hy huur die ruimte by Fable en vra verlof wanneer hy sy eie wyne moet bemark. Met sy fokus op cinsaut, grenache en chenin, kompeteer hy ook nie met Fable se Tulbagh- en shiraz-dominante reeks nie. Soos in Lourens se geval, voer Smith ook van sy wyne uit en deel ’n Amerikaanse uitvoerder met Fable. Weer eens is daar ’n wen-wen-situasie vir die eienaar én die wynmaker.

Ek haal my hoed af vir die volwasse benadering van die kelder-bestuurspanne. Hulle moedig die jonger wynmakers aan om spesiale wingerde te benut, daaruit te leer en ook hul eie reeks op te bou.

Uiteindelik dra al hierdie diversiteit by om verder te slyp aan Suid-Afrika se positiewe en kreatiewe reputasie in die wêreld daar buite.

Meer oor:  Wynmakers  |  Wyn  |  Handelsnaam  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.