Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Wynroete: Deur McGregor in styl

Dit is beslis ’n lekker ervaring om wynplase te besoek as jy nie self agter die wiel is nie, skryf Suzaan Potgieter.

Skink ’n glasie borrels by Paul René MCC en geniet die stories oor die wyn, familie en plaasgeskiedenis.Foto’s: VERSKAF

Dit is soveel makliker om deesdae wyntoere te geniet, want soveel plekke bied bussies, trokkies en ander maniere van vervoer om jou veilig na en van jou bestemming te neem.

Nou is dit ook moontlik om een van die land se grootste wynroetes op dié manier te geniet met die Wine Valley Safari in die Robertson-wynvallei.

Die roete na McGregor is ’n heerlike bederf gevul met wyn, grappa, vrye tyd in die dorp én ’n toer deur die vallei terwyl jy agteroorsit en dit net geniet.

Borrel-borrel deur die vallei

Die plek op die roete waar jy móét stop vir Méthode Cap Classique, is beslis Paul René MCC.

Dié kelder fokus slegs op MCC, maar die aandag aan detail is oral sigbaar.

In die proelokaal word borrels uitgebeeld; die etikette en bottels se verpakking is só mooi dat jy dit net so kan gee as geskenke – sonder om dit toe te draai – en baie aandag word geskenk daaraan om die finale produk in die bottel lekker te maak.

Die Brut 2016 met sy vars, ligte geure en die Brut Rosé 2015, wat ’n tikkie pienk en mooi balans toon (albei R210), is twee gunstelinge. Dit spog met elegante borreltjies wat op jou tong dans.

Proeë is slegs van Maandae tot Vrydae per afspraak en is gevul met staaltjies en meer oor die plaas se geskiedenis.

Hou hul sosiale media dop vir die jaarlikse borrelfees einde vanjaar.

Kuier by Lord’s net buite McGregor en geniet ’n wynproe met iets om aan te peusel.

Jou kontak: 023 626 2212

Motorhuis se moses

As jy nog onbekend is met garagiste-wyn moet jy ’n draai by Bemind gaan maak.

Garagiste, die sogenaamde motorhuiswynmakers, is wyn­makers wat kleinskaals werk en minder as 12 000 liter per oesjaar in hul huise/motorhuise maak.

Ilse Schutte van Bemind maak in ’n huis in die hartjie van McGregor haar wyne en dis beslis ’n bederf.

Die Cinsault 2018 (R143) is ’n wenner. Dit spog met bessie­reuke en speserygeure met ’n goeie struktuur.

Probeer gerus ook die Sauvignon Blanc 2018 (R98) en Shiraz 2017 (R170).

Die proelokaal is Woensdae en Saterdae oop vir wynproeë. Dit kos R30 per persoon.

Jou kontak: 083 380 1648

Reis veilig tussen die wynplase danksy die Wine Valley Safari.

Ver weg in vrede

Daar is niks soos stilte, ’n uitsig en ’n bottel wyn om jou beter te laat voel nie – presies wat Lord’s jou bied.

Dié kelder is ’n entjie uit die dorp, maar iets wat jy móét sien, met uitsigte oor groen grasperke, ’n dam, die berge en vele meer.

Skop jou kuier hier af met ’n glasie van hul MCC, wat uit ’n brut of brut rosé bestaan (albei R179). Daarna beweeg jy aan na die reeks wyne.

Uitstaanwyne in die reeks is beslis die ligte en romerige Chardonnay 2016 en Pinot Noir 2017 met sy mooi geure (albei R150). Hulle bied ook twee ongelooflike shiraz­wyne: die Shiraz 2016 (R120) en Three Barrel Shiraz 2012 (R300) – laasgenoemde ’n ware bederf.

Lord’s bied ook ligte maaltye om aan te peusel in die proe­lokaal, soos ’n soutbord met kaas en vleis (R150), ’n kaasbord (R75) of ’n burger-en-tjips (R85).

Lord’s is Maandae tot Sondae oop en bied ook keldertoere.

Jou kontak: 023 625 1265

’n Plek vir die familie

Met groot groen grasperke en sitplek buite is McGregor Wines net die plek vir ’n lekker kuier.

Boonop kan die kinders buite baljaar terwyl die grootmense ’n ogie oor hulle hou.

Wat hul wyne lekker maak, is die feit dat dit gemaak is om geniet te word deur enigiemand op enige tyd of geleentheid.

Hulle het ook onlangs ’n nuwe kleurvolle reeks by hul portefeulje gevoeg wat spog met blomme en plante op die etikette – maklik sigbaar by enige plek.

Hop op en hop af vir jou wynsafari

Wyntoere in die Robertson-wynvallei is nou baie makliker (en veiliger) danksy die Wine Valley Safari.

Dié trokkie neem jou na verskillende kelders as deel van wyntoere en jy het nooit nodig om self agter die stuur in te klim nie.

Een opsie is die McGregor-toer, maar daar is ook vele ander opsies om van te kies. Benewens die veiligheidsaspek verbonde aan die gebruik van dié vervoer, is dit ook lekker om ’n kundige gids te hê wat jou kan help as jy nie bekend is met die omgewing nie. Besoek www.winevalleysafari.com vir al die opsies en pryse.

Jou kontak: info@winevalley­safari.com of 081 740 0145

Dié reeks is ligte wyne teen sakpas pryse wat by enige geleentheid (om die vuur of tydens ’n verjaardagpartytjie) geniet kan word. Dit sluit in ’n chardonnay, witversnit, rosé, shiraz en rooiversnit teen tussen R56 en R66 per bottel.

McGregor Wines het ook ander wit- én rooiwyne om van te kies en keur en onder meer ’n wit en rooi muskadel vir die wat hou van soetwyne.

Die proelokaal is Maandae tot Saterdae oop.

Jou kontak: 023 625 1741

Ietsie anders vir die keel

Benewens wyne, bied Tanagra vir besoekers ook ’n heel ander ervaring van spiritus.

Dit is grappa-hemel vir enige liefhebber van dié spiritus met ’n wye reeks verskillende geure.

Van die grappa word gemaak met onder meer hanepoot, sauvignon blanc en cabernet sauvignon, terwyl ander met plaaslike vrugte soos appelkose, perskes en suur­lemoene gemaak word. Dit kos tussen R220 en R300 per bottel.

’n Persoonlike gunsteling in die reeks is die liplekker lemoen­likeur (R220) wat propvol lemoensmake en -reuke is met ’n soet element – lekker vir net so drink of in enige nagereg.

Tanagra maak ook wyn, en as jy besoek aflê, moet jy hul besonderse Cabernet Franc 2015 (R140) en Cabernet Sauvignon 2016 (R115) probeer.

Die eienaars bied self die proeë aan en dit kos R40 per persoon.

Proeë word heel week aangebied, maar jy word sterk aangeraai om vooraf te bespreek.

Jou kontak: 076 112 5490

Meer oor:  Doendinge  |  Kos En Wyn  |  Wynroete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.