Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
100-jarige lees steeds graag koerant, kyk nuus op TV

’n Getroue leser van Die Burger en inwoner van die Nazareth House-sorgsentrum in Vredehoek het Vrydag haar 100ste verjaarsdag gevier.

Donie Arends is op 16 Oktober 1920 op Carnavon in die Noord-Kaap gebore. Sy is in 1948 met Nicholas P. (Barnie) Arends getroud.

“Dit was nog altyd my ouma se wens om in die koerant te wees,” het die oudjoernalis Nicolette Arends oor haar ouma se besondere mylpaal gesê.

Spesiale reëlings is rondom die Covid-19-maatreëls getref sodat die familie haar met haar verjaarsdag kon gelukwens.

Sy het ook blomme gekry van die VGK in George waar sy jare gelede die debutante-koningin was toe sy die meeste geld ingesamel het.

Arends is nog gesond en haar geheue is vlymskerp. Sy gesels gemaklik saam oor aktuele sake, is dol oor krieket, en sy onthou die verjaarsdae en huweliksherdenkings van ál die familielede. Sy kyk elke aand die nuus in Afrikaans op televisie, haar radio is ingeskakel op RSG en sy is ’n getroue leser van Die Burger en Rapport. Sy gesels ook gereeld met Nicolette op haar selfoon.

Donie Arends Vrydag op haar 100ste verjaarsdag.
Ballonne en blomme vir Donie Arends wat Vrydag haar 100ste verjaarsdag gevier het.

Arends is ook bekend om haar bak- en kookvernuf. Tussen 1960 en 1986 het sy en haar man in Bellville-Suid gewoon waar talle studente van die Universiteit van Wes-Kaapland by hulle gewoon het. Tot vandag toe onthou die studente en baie ander mense haar “tjoklit-koek”, melktert (met die spesiale kors), karringmelkbeskuit, en wortelkoek.

Volgens inligting het haar man 37 jaar lank by die Amatola-museum in King William’s Town gewerk en was die eerste bruin taksidermis in Suid-Afrika. Hy was verantwoordelik vir die afslag en opstop van die wêreldberoemde seekoei, Huberta, wat in die laat 1920’s drie jaar lank langs die Natalse en Oos-Kus geswerf het. Hy het baie jagekspedisies in Suider- en Sentraal-Afrika onderneem. Baie van dié ervaringe het hy in sy boek, Trapping Safaris, opgeteken. (Die boek is later as voorgeskrewe werk in hoërskole gebruik.)

Later jare het hy gewerk in die laboratorium van die departement van dierkunde aan die destydse Universiteitskollege van Wes-Kaapland. Hy was sewe tale magtig, ’n vredesregter en daar is ’n straat in Bellville-Suid (én ’n mol!) na hom genoem. Hy is in 1975 dood.

Twee kinders is uit die huwelik gebore. Daar is ook vier kleinkinders en twee agterkleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.