Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
15 vuurwaens bring paartjie na matriekafskeid
Matthew Vercuiel en sy vriendin, Rebecca Quinton, kyk verbaas na die Lexus IS250C-motor, een van 15 Lexus-motors wat Saterdagmiddag gereed gestaan het om hulle na hul matriekafskeid te bring. Foto: Jay Jay Redelinghuys

Die meeste matrikulante word gewoonlik in ’n spoggerige motor na hul matriekafskeid vergesel, maar een matrikulant van die Wes-Kaap het sommer met 15 motors by sy matriekafskeid opgedaag.

’n Konvooi van 15 luukse Lexus-motors het Saterdagaand met brullende enjins vir Matthew Vercuiel en sy vriendin, Rebecca Quinton, van die Hoërskool Brackenfell by die matriekafskeid op die Skilpadvlei-wynlandgoed afgelaai.

Die saamtrek volg nadat die Rowdy Tribe-motorklub en Lexus Owners Club Cape Town saamgespan het om die gesin te help wat weens die gevolge van die Covid-19-inperking finansieel swaar getref is.

Dylan Cox, ’n buurman van die Vercuiel-gesin, het onlangs die Rowdy Tribe-motorklub gestig en gevolglik was eksotiese voertuie en motors met groot enjins gereeld by sy huis te sien.

Nadat Derrick, Matthew se pa, tydens die inperking sy werk by ’n koerierdienstemaatskappy verloor het, en sy ma, Sue-Anne, ook in dié tydperk swaar trek, het Derrick vir Cox genader om ’n motor teen R500 vir die matriekafskeid te huur, maar het later besef hy sal dit nie kan bekostig nie.

Cox, wat intussen reeds sy motorklub hieroor genader het, sê Faizal Rajie, wat ook by die Lexus Owners Club Cape Town betrokke is, het gesê hy sou in elk geval nie die geld aanvaar het van ’n man in Derrick se posisie nie en het aangebied om die paartjie in sy Lexus IS250C na die matriekafskeid te bring.

Maar Cox en Rajie het selfs ’n stap verder gegaan en nog 14 Lexus-motors gekry om die matriekafskeid nog meer spesiaal te maak.

Teen Saterdagmiddag om 16:00 het die konvooi so stil as moontlik voor die niksvermoedende Matthew se huis stilgehou, waarna hy en sy vriendin geblinddoek na buite gelei is. Hier het die V6- en V8-enjins luid gebrul voordat almal saam tot by Skilpadvlei gery het.

“Dit was ’n wonderlike, opwindende oomblik, wat deur sulke ongelooflike mense gereël is. Matthew se gesigsuitdrukking het dit alles gesê, dit het gelyk of hy wil huil toe hy al die motors sien,” het Sue-Anne gesê.

Met die enjinkap van die Lexus-motor oop, poseer Matthew Vercuiel en sy vriendin, Rebecca Quinton, vir ’n foto. Foto: Jay Jay Redelinghuys
Die konvooi Lexus-motors onderweg na die matriekafskeid. Foto: Jay Jay Redelinghuys

Matthew is volgens haar versot op motors en beskryf hierdie as ’n wonderlike oomblik ná ’n uiters uitdagende jaar.

“Dit was ’n oomblik wat hy, en waarskynlik die hele buurt, nie sal vergeet nie.”

Sy erken dié matriekafskeid het ook ongetwyfeld die standaard van verwagtinge verhoog vir die vier jonger kinders wie se matriekafskeid nog voorlê.

Cox het die oomblik as onvergeetlik en trots beskryf, aangesien hy meen die meeste mense beskou die lede van motorklubs as roekeloos en jaagduiwels, “terwyl ons eintlik net in ’n konvooi wil ry en mekaar se geselskap en motors wil geniet, aangesien ons dieselfde belangstelling deel”.

In ’n poging om dié negatiewe stigma van motorklubs te verbeter, hoop Cox om meer soortgelyke saamtrekke te hou.

Cox nooi mense uit om hom by instagram@rowdytribe te kontak.


Meer oor:  Kaapstad  |  Brackenfell  |  Matriekafskeid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.