Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
2 bedelaars raak harte op verskillende maniere

Twee bedelaars het in die harde tyd van die inperking verbygangers herinner aan die broosheid van die lewe; een met sy deernis vir ander honger mense, omdat hyself hongerte verstaan, en ’n ander een met sy inisiatief.

Robert du Preez het ’n plan gemaak met ’n margarien-bakkie en ’n stok om van ’n veilige afstand af geld by ’n verkeerslig in Villieria, Pretoria, te vra. Foto: Christiaan Kotze

Dit is onbekend hoe ene Sipho in Benoni, en Robert du Preez in Villieria, Pretoria, op straat beland het. Dis wel duidelik dat ook hulle die ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie voel, sê Christiaan Kotze, ’n fotograaf, en Hercules Viljoen, ’n kunstenaar, wat die twee op afsonderlike tye teëgekom het.

Kotze het onlangs in Pretoria gery toe hy vir Du Preez sien.

“Hy het by ’n verkeerslig gestaan met ’n margarien-bakkie vooraan ’n lang stok vasgemaak en met ’n masker op sodat hy geld kan vra en steeds by die gesondheidsreëls kan hou,” sê Kotze.

Hy het met die man gepraat.

“Sy unieke aanslag het my aandag getrek. Ek dink die bedelaars sukkel deesdae nog meer as voorheen, en motoriste skram verder weg van hulle omdat almal ’n veilige afstand moet handhaaf,” sê Kotze.

Die man het hom voorgestel as Robert du Preez en trots bygevoeg, ja, dit is dieselfde naam as die voormalige Springbok-skrumskakel.

Met die Covid-19-pandemie moes mense soos Robert du Preez ’n ander plan maak om geld te vra sonder om te naby aan motoriste te kom. Foto: Christiaan Kotze

“Hy was so vriendelik. Jy kan sien hy ken swaarkry, maar as hy praat is alles ‘ja, oom’ en ‘dankie, oom’,” sê Kotze.

Hy het foto’s van Du Preez se “unieke plan” geneem en dit op sy Facebook-blad geplaas.

’n Vriendin en oud-Suid-Afrikaner uit Australië, Carol Barry, het dit gesien en laat weet die rou emosie van iemand wat niks het nie, maar steeds probeer plan maak, het haar hart so geraak dat sy sommer deur die foto haar hand deur die “karvenster” wou steek en help.

Robert du Preez staan by ’n verkeerslig in Villieria, Pretoria. Foto: Christiaan Kotze

“Toe plaas sy uit Australië geld in my rekening oor vir Robert,” sê Kotze.

Hy en sy vrou het daarmee koopbewyse by ’n supermark gekoop waarmee Du Preez vir hom en sy ma kan kos koop.

Viljoen sê op sy beurt dat hy voor die inperking betrokke was by ’n organisasie wat kos aan hawelose mense en behoeftige bejaardes uitgedeel het.

Sipho was een van hulle.

“Weens die inperking kon ons egter nie saans buite beweeg nie, en ons het nie ’n permit gehad om kos uit te deel nie, so ek weet nie vir hoe lank van die mense al sonder kos is nie,” sê Viljoen.

Robert du Preez hou by die voorgeskrewe gesondheidsmaatreëls terwyl hy vra vir kosgeld. Foto: Christiaan Kotze
Dié jong man, net bekend as Sipho, deel by ’n verkeerslig in Benoni sy stukkie brood met straatduiwe. Foto: Hercules Viljoen

Toe ry hy onlangs in Great North-weg, Benoni, en herken vir Sipho waar hy op die middelmannetjie by ’n verkeerslig sit.

Daar was ’n stukkie brood in sy hand, wat hy so half op sy skoot gehou het.

“Daar was nie ’n hele brood naby hom nie, so hy moes iewers ’n snytjie of toebroodjie gekry het.

“En toe kom ’n klomp duiwe, spring op sy skoot en pik saam aan die stukkie brood.

“Sipho het hulle nie verjaag nie. Hy het hulle laat eet, so amper asof hy weet hoe moeilik dit is om kos in die hande te kry.

“Dit is ’n harde lewe op straat en steeds het hy die bietjie wat hy gehad het, gedeel,” sê Viljoen.

Meer oor:  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.