Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
2 SA meisies gekroon in skoonheid-kompetisie in VSA
Deanté Swart (15) en Jeaneigh Borghesi (7) in hul nasionale kostuums waarmee hulle Suid-Afrika verteenwoordig het. Foto: Verskaf

Twee meisies van Suid-Afrika is Saterdagaand in Orlando, in die Amerikaanse deelstaat Florida, op ’n glansgeleentheid as skoonheidskoninginne gekroon in die onderskeie afdelings waaraan hulle aan die Royal International Miss-kompetisie deelgeneem het.

Jeaneigh Borghesi (7), van Upington in die Noord-Kaap, en Deanté Swart (15), van Greytown in KwaZulu-Natal, het albei vir die rolmodel-afdeling ingeskryf en met die krone weggestap.

Benewens dié merkwaardige prestasie is Jeaneigh as algehele wenner in die afdeling vir die Royal International Junior Miss Princess-kompetisie gekroon.

Sy is die eerste Suid-Afrikaanse deelnemer wat dit kon vermag om met albei titels weg te stap.

Die trane het geloop toe Jeaneigh Borghesi (7) van Upington tot die algehele wenner in die Mini Miss Royal International Miss gekroon is. Foto: Verskaf

Deanté en Jeaneigh het tussen meer as 300 deelnemers uitgeblink.

Albei die meisies is deur Valerie Begbie van Vogue Catwalk Models in Pretoria vir die strawwe kompetisie opgelei.

“Hoe sê ’n mens dit in woorde wat ’n wonderlike gevoel dit is om twee jong meisies te sien wat met soveel passie die wêreld aanvat,” het ’n trots en emosionele Begbie Saterdagaand op Facebook geskryf.

Deanté Swart (15), van Greytown in KwaZulu-Natal, in haar balrok waarin sy as die Miss Junior Teen Royal International Miss gekroon is. Foto: Verskaf

Jeaneigh se ma, Jeannette, sê sy was stomgeslaan.

“Dit was die laaste ding wat ons verwag het dat sy met al twee titels sal wegstap. Ek is steeds oorweldig en kan dit nie glo nie.”

Jeaneigh se pa, Riccardo, wat in Suid-Afrika agtergebly het om na haar sibbe, Enricco (6), Luca (4) en babasussie, Romay (7 maande), om te sien, sê hy het nog nooit so hoog gespring van pure trots toe sy meisiekind gekroon is nie.

Die meisies het ook ’n rits pryse in verskeie ander afdelings van die kompetisie ingeryg en het in die afdeling vir nasionale kostuums pragtige ontwerpersuitrustings wat Suid-Afrika voorgestel het, gedra.

Deanté Swart (15) was Sondagoggend vroeg al uit die vere om haar boodskap vir Mandeladag te deel. Foto: Verskaf

Jeaneigh se kostuum was ’n ontwerp met pienk proteas, terwyl Deanté ’n luiperdpatroon-uitrusting gedra het wat die Zoeloe-kultuur geëer het.

Deané, wat ook ’n model vir Mr Price is, se ouers, Niandre en Dederick, sê hulle is bitter trots op hul dogter, wat as rolmodel hard gewerk het om gedurende die Covid-19-pandemie verligting aan gemeenskappe in KwaZulu-Natal te bring.

Nie net het dié lewenslustige en passievolle tiener klere en kos vir minderbevoorregtes ingesamel nie, sy het ook haar eie projek, The Nelson Mandela Jars of Hope-projek, gestig.

So slaap 'n nuut gekroonde skoonheidskoningin. Jeaneigh Borghesi (7) van Upington was oorweldig nadat sy die ‘groot prys’ gewen het. Foto: Verskaf

Met dié projek het sy genoeg ingesamel om meer as 2 100 mense vir ’n maand van kos te voorsien.

Deanté was ook al Sondagoggend vroeg uit die vere om in haar nuwe rol as Role Model Royal International Miss haar deel vir Mandeladag te doen.

In ’n inskrywing op haar Facebook-blad, saam met ’n aanhaling van oudpres. Mandela dat dinge altyd onmoontlik voel totdat dit gedoen is, het sy die volgende boodskap gedeel: “Mag dit waar wees, veral gedurende hierdie onsekere tye in ons pragtige land. Mag ons hoop vind in dit wat moontlik is. Mag ons vertroue hê in ons land en sy mense. Ons is Suid-Afrikaners, ons is veerkragtig, ons is sterker saam en saam kan ons die verandering wees!”

Die meisies sal vir die volgende jaar aan verskeie liefdadigheidsgeleenthede deelneem en is ook na die New York-modeweek genooi om op die loopplank hul passies te kom wys.

Meer oor:  Greytown  |  Noord-Kaap  |  Vsa  |  Kwazulu-Natal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.