Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
2 SA skoonhede in voorste linie teen Covid-19
Thato Mosehle van Klerksdorp in Noordwes is ’n dokter by die Klerksdorp Tshepong-hospitaal waar sy haar internskap voltooi.

Twee van die Mej. SA top-15 semifinaliste is dokters wat tans aan die voorpunt staan van die stryd teen die Covid-19-pandemie.

Karishma Ramdev en Thato Mosehle (albei 25) werk bykans elke dag met pasiënte wat met die koronavirus besmet is.

Ramdev is oorspronklik van Chatsworth in KwaZulu-Natal en woon tans in Johannesburg. Sy is in die eerste jaar van haar mediese internskap by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. Ramdev roteer elke paar maande deur al die verskillende spesialisgebiede waar sy werk en leer soos sy aangaan.

Indien Ramdev spesialiseer, sal dit in plastiese chirurgie wees om met kinders te werk wat met ’n gesplete lip en verhemelte gebore is.

Sy sê Covid-19 het dokters se werkslading drasties vermeerder – nie net omdat die getal pasiënte toegeneem het nie, maar ook weens die afname in die getal gesondheidswerkers.

“Soveel mediese personeel het ook Covid-19 en moet tuis bly, sodat diegene wat nie die virus het nie probeer om dienste aan die gang te hou.”

Volgens haar het baie gesondheidsorgwerkers soortgelyke eienskappe as ’n Mej. Suid-Afrika wat empatie, onselfsugtigheid, deernis en harde werk verg.

“Die Mej. SA-platform stel ons in staat om meer as net ons gemeenskappe te bereik en ’n nóg groter verandering te bewerkstellig,” sê Ramdev.

Sy was ook in 2018 in die topvyf saam met Tamaryn Green wat uiteindelik die Mej. SA-kroon gedra het.

Karishma Ramdev was ook in 2018 in die topvyf saam met Tamaryn Green wat uiteindelik die Mej. SA-kroon gedra het.

Ramdev voel baie meer volwasse as twee jaar gelede met ietwat meer lewenservaring as toe.

“Ek dink nie ek sal die 2018-weergawe van myself herken wanneer ek kyk na wie ek nou is nie. Soveel het die laaste twee jaar gebeur wat my gevorm het in iemand met selfvertroue,” sê sy.

Haar raad aan vroue is om daagliks twee liter water te drink, maar om steeds na jou liggaam te luister. Eet baie groen groente soos broccoli, spinasie en komkommer. Die daaglikse inname van multivitamine en kollageen kry by haar ’n groot “ja”.

Mosehle van Klerksdorp in Noordwes is ’n dokter by die Klerksdorp Tshepong-hospitaalkompleks waar sy haar internskap voltooi. Sy werk tans in die afdeling vir huisartskunde, maar het ’n groot liefde vir narkoseleer.

Soms moet sy ook in die hospitaal se Covid-19-saal werk.

“Ons is almal veerkragtig ondanks die feit dat die druk toegeneem het en dat hulpbronne baie streng bestuur moet word. Ek vind dat daar ’n gevoel van hulpeloosheid is wat probeer inkruip, maar die herinneringe aan diegene wat ons al voorheen gehelp het, gee ons hoop,” sê Mosehle oor die manier waarop die pandemie haar werk beïnvloed het.

Volgens haar het die Mej. SA-kompetisie ’n aantrekkingskrag vir dokters omdat hulle “natuurlike leiers en harde werkers is wat lei deur te doen”.

“Meer vroue word op die gebied van geneeskunde erken en bemagtig. Dit is vanselfsprekend dat ’n bemagtigde vrou deel wil wees van ’n handelsnaam soos Mej. Suid-Afrika wat vroue verder bemagtig.”

Karishma Ramdev is in die eerste jaar van haar mediese internskap by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg.
Thato Mosehle wil as narkotiseur spesialiseer.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.