Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
4 leeus kry opnuut kans om te lééf

Van ’n sirkus na ’n betonhok.

Maar nou wag ’n semi-wildkamp op vier leeus in die Oos-Kaap nadat hulle uit haglike omstandighede in die Oekraïne gered is.

In ’n betonhok van 35 m² is drie leeuwyfies vir bykans drie jaar in hul eie urine en ontlasting aangehou, nadat hulle deur ’n sirkus in die Oekraïne agtergelaat is.

Lionel de Lange, ’n boorling van Port Elizabeth en deesdae uitvoerende direkteur van die Lawrence Anthony Earth Organization – Ukraine, beywer hom daagliks om bere te red, maar het op dié leeus afgekom en kon eenvoudig nie wegkyk nie.

Twee van die drie leeuwyfies wat in Oekraïne gered is en binnekort ’n nuwe tuiste in Port Elizabeth se Kragga Kamma-wildreservaat sal geniet. Foto: Facebook

“Ek was besig om bere te red, toe ek op hulle afkom. Die reuk was afskuwelik toe ek hulle vind, en ek kon hulle nie daar los nie.

“Hulle was in ’n betonhok, geen direkte sonskyn of selfs reën nie, geen ordentlike ventilasie nie. Behalwe vir die voorkant, was die hele hok toe. Hulle het letterlik in hul eie urine en ontlasting geslaap, want daar was geen ander plek om hulle toe te sluit sodat die hok skoongemaak kon word nie.”

De Lange sê die leeus was egter nie ondervoed nie.

Terwyl De Lange met die eienaar van die leeus onderhandel het, is hy van ’n leeuwelpie in ellende bewus gemaak.

’n Sirkusbaas het die welpie, Nathan, op twee maande weggeneem om vir sirkustoertjies opgelei te word.

“Ons was gelukkig om hom ook te kon wegneem, want sy lewe sou baie slegter geraak het vorentoe,” sê De Lange.

Nathan, die jong leeumannetjie, sal saam met die drie volwasse leeuwyfies van Oekraïne, in Port Elizabeth hervestig word. Foto: Facebook

Groot was die verbasing van Ayesha Cantor, mede-eienaar van die Kagga Kamma-wildreservaat in Port Elizabeth, toe sy hoor ’n vierde leeu sal binnekort deel wees van dié park se eerste leeutrop.

Volgens Cantor is De Lange ’n jare lange vriend wat die situasie van die drie leeuwyfies verlede jaar bepleit het en hulle kon nie anders nie as om ’n nuwe tuiste vir die leeus te bied.

“Ons is in die bedryf, want ons het ’n voorliefde vir wild. Nadat ons die storie van die leeus gehoor het, kon ons nie anders as om ja te sê nie,” sê Cantor.

Die park het onlangs ’n permit gekry om die leeus te mag aanhou en die groot bouwerk vir hul kamp het begin. ’n Kamp van een hektaar word nou binne die reservaat afgebaken, met ’n huis waar die leeus saans gevoer sal word.

Die leeus sal moontlik teen einde Oktober in Port Elizabeth verwelkom word.

Benewens die bykans R150 000 wat die leeukamp se heining sal kos en sowat R500 000 om die leeus na Suid-Afrika te bring, meen Cantor en De Lange bly dit die moeite werd om die leeus te hervestig.

Ayesha Cantor, mede-eienaar van Kragga Kamma-wildreservaat in Port Elizabeth, praat Dinsdag binne die reservaat, waar konstruksie aan die leeukamp volstoom besig is. Foto: Lulama Zenzile
Meer oor:  Oos-Kaap  |  Bewaring  |  Omgewing  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.