Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
5 seuns bederf ná hul volhard om hond te red
Voor is die 7-jarige Zubenathi wat die Magnificent 5 se reddingspoging gelei het. Champ lyk heel in sy skik met hom. Foto: Jackie Wernberg Photography

Die vyf jong seuns wat verlede week ure lank gespook het om ’n verwaarloosde hond by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Philippi in Kaapstad te kry vir behandeling, het heldestatus ontvang vir hul onbaatsugtigheid.

Die groep is die Magnificent 5 gedoop en getrakteer op onder meer nuwe klere, tekkies, sokkerballe en lekkernye.

Die vyf seuns, almal jonger as tien, het intussen ook Saterdae by die DBV in Philippi begin uithelp.

Die seuns het op 8 September op ’n uitgeteerde labrador in die bosse afgekom.

Hulle het daar en dan besluit hulle sal nie rus alvorens hulle die hond gehelp het nie.

Die labrador, wat op sowat vyf of ses jaar oud geskat word, is intussen Champ gedoop.

Lees ook: Seuns loop baie ver om hulp vir hond te soek
Dit gaan goed met Champ nadat vyf jong seuns hulle onlangs oor hom ontferm het. Foto: Jackie Wernberg Photography

’n Klompie maatskappye het vir die Magnificent 5 geskenke gegee as blyke van waardering vir hul deursettingsvermoë om ’n uitgeteerde hond te red. Hier ontvang elkeen ’n nuwe paar tekkies. Foto: Facebook/Animal Welfare Society

Die sewejarige Zubenathi het die leiding geneem met die groep se plan om Champ te red.

Volgens die DBV het die seuns eers gefluit in die hoop dat Champ sou opstaan, maar hy was te swak. Hy kon net-net sy stert vir die seuns swaai.

Allan Perrins van die DBV sê die seuns het besef hulle sal Champ moet lei.

Terwyl twee wag gestaan het oor hul vierpotige vriend, het die ander drie ’n leergordel opgespoor.

Dit is saggies om Champ se nek geplaas. Tot die seuns se groot verbasing het hy sukkelend begin stap.

Ná ure se stap oor voetpaadjies en oor besige paaie het hulle uiteindelik voor die DBV in Philippi se deur gekom.

“Dit het gelyk asof hulle die eindstreep van ’n maraton bereik en eerste prys gewen het toe hulle daar aankom.”

Perrins sê die seuns het uitasem verduidelik wat die reddingspoging behels het.

Volgens Perrins het Zubenathi gesê hulle het besluit om Champ te beskerm omdat honde mense beskerm.

Pick n Pay, die Rosmead Superspar, Vondi’s Holistic Pet Nutrition, Regal Pet Health SA en Tekkie Town het die bederfies geborg.

Die seuns se familielede het trane van blydskap gestort oor die geskenke en bars van trots op die kannetjies.

• Netwerk24 het toestemming om die foto’s en Zubenathi se naam te publiseer, maar het nie toestemming van die ouers om die kinders verder te identifiseer nie.

Meer oor:  Dbv  |  Philippi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.