Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
69-jarige man lewer Die Burger al 50 j. in Kaapstad af
David Charles lewer al die afgelope 50 jaar Die Burger af. Foto: Jaco Marais

Toe hy in 1971 begin het om Die Burger af te lewer, het hy nie gedink hy sal dit 50 jaar later steeds doen nie.

“ ’n Mens dink nie regtig dat jy jou hele lewe lank koerante sal aflewer nie. Maar Die Burger het ’n spesiale plek in my hart,” sê David Charles (69) van Kraaifontein.

“Ek kan onthou toe ek in 1971 begin het, is ek R21 ’n week betaal. Die Burger se kantore was toe nog op die hoek van Keerom- en Leeuwenstraat in Kaapstad. Baie dinge het sedertien verander.”

Charles sê sy werk begin gewoonlik wanneer mense slaap.

David Charles is elke dag om 02:00 reg om die koerante op te tel en te gaan aflewer. Foto: Jaco Marais

“Ons moet gewoonlik 02:00 by die drukkers wees om die koerante op te tel en dan af te lewer. Dit is nou al tweede natuur om nie snags te slaap nie.”

Hy sê oor die 50 jaar het hy baie dinge beleef, en nie alles was mooi nie.

Volgens Charles het ’n seun wat gewoonlik saam met hom ry, een Saterdag in die 1980’s besluit om in ’n trok te ry saam met die seuns wat koerante by die verkeersligte verkoop sodat hy agterin die trok kon slaap.

Die trok het eerste weggetrek en Charles het in sy kombi gevolg.

“Toe ons so ry, het ’n ander voertuig in die trok met die seuns vasgery. Die trok se brandstoftenk het gebars en al die seuns wat agterin was, het doodgebrand. Daar was 15 van hulle tussen die ouderdomme van tien en 15.”

Charles sê hy het ook al baie met die polisie te doen gehad.

“Omdat ek in die aande werk, hou die polisie daarvan om my af te trek en te vra waarmee ek besig is,” sê hy.

“Ek sal dan sê dat ek my werk doen en dan wil hulle weet watter tipe werk ek nogal so laat in die aand doen Hulle laat my gewoonlik eers gaan as ek bewys het dat ek koerante aflewer,” sê hy laggend.

David Charles lewer Donderdagoggend koerante by Vredekloof Spar in Kaapstad af. Foto: Jaco Marais

In die 1990’s het hy Die Son en Die Burger op straat verkoop.

Hy en sy helpers het dan die geld wat hulle ingesamel het ná die dag se werk, by restaurante met wie hulle ’n ooreenkoms gehad het, gaan ingee.

“Ons het eendag so by die restaurant gestaan en die geld getel en in pakkies gesit,” sê Charles. “Toe kom daar ’n polisieman aan en begin skel dat ons nie daar mag wees nie.”

Charles het aan die polisieman probeer verduidelik dat hulle ’n ooreenkoms met die restaurant gehad het en dat hy mos kan sien hulle is besig om geld tel, maar die polisieman het hom nie kans gegee nie.

“Hy het my om my nek gegryp en gewurg tot ek flou geword het. Hy het my toe in sy polisiekar gegooi en my vir ’n paar uur selle toe gevat.”

Charles sê hy is dankbaar dat hy ná 50 jaar steeds ’n werk het waarvoor hy lief is.

“Ek wil almal bedank wat my die kans gegee het om vir 50 jaar Die Burgeraf te lewer. Dankie dat julle my vertrou om ’n goeie werk te doen.”

Charles is al 38 jaar getroud met Carol (64) en hulle het drie kinders.

“My vrou help ook soms uit met die koerante se aflewer en my jongste, wat nou 27 is, het Die Sonverkoop toe sy tien jaar oud was!”

“Ons huis is gedurig vol koerante. My hart voel gerusgestel as ek die jongste Die Burger in ons huis sien.”

Hy weet nie wanneer hy gaan aftree nie.

“Ek dink nie ek sal dit vir nóg 50 jaar kan doen nie,” spot hy. “Maar ek sal dit doen vir so lank as wat ek kan.”

Meer oor:  Kraaifontein  |  Kaapstad  |  Koerantverkoper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.