Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
84-jarige ná fietsren: ‘Opgee was nooit ’n opsie nie’
Op jou merke, gereed... Arthur Duncan (84) en sy kleinseun Keira Duncan (18) begin dag een van die KAP sani2c-bergfietsren.

Die kneusplekke op sy been, elmboog en gesig is bewys: Dit was ’n táwwe 265 kilometer-bergfietsren, maar jy kon die glimlag op die 84-jarige Arthur Duncan se gesig nie keer toe hy die eindstreep oorsteek nie.

Duncan, ’n passievolle fietsryer van Howick in KwaZulu-Natal sê dié keer was die toer baie spesiaal.

“Ek het verlede jaar ook deelgeneem, maar vanjaar kon ek dit met my skoonseun en twee kleinkinders doen. Dit was so spesiaal,” vertel Duncan.

Duncan en sy kleinseun, Keira (18) het die hele resies saam voltooi, terwyl sy ander kleinseun, David, en skoonseun, Stuart Watson, hulle halfpad vergesel het vir bemoediging.

Keira was 2018 se manskampioen in die SA Enduro Champs-kampioenskap.

Die KAP sani2c-bergfietsren vanaf Drakensberg tot in Scottburgh in KwaZulu-Natal, wat oor drie dae plaasvind, het alles in hom geverg, sê Duncan.

Arthur Duncan (84) en sy kleinseun Keira Duncan (18) op dag twee van die KAP sani2c- bergfietsren.

“Ek is mos nie meer vandag se kind nie. Ek het vooraf hard geoefen en natuurlik het my kleinseuns en skoonseun my gedurig aangemoedig om aan te gaan.”

“Dag twee was moeilik. Hoewel dit ’n asemrowende roete was, was daar baie uitdagings. Die son het in my oë geskyn en terwyl ek vir ander fietsryers padgegee het, het my wiel in ’n gat beland. Ek het op my gesig beland met my fiets bo op my. Ek kon glad nie beweeg nie.”

Ná ’n besoek aan die dokter het Duncan die volgende dag weer op sy fiets geklim, vasberade om die wedloop te voltooi.

Sukses! Arthur en Keira Duncan saam met Glen Haw, stigter van die KAP sani2c- bergfietsren, ná hulle die resies voltooi het.

“Ek was in pyn, maar opgee was nooit ’n opsie nie.”

Sy passie vir fietsry het vlamgevat tydens ’n baie donker tyd.

“Ek het deur ’n baie moeilike tyd in my lewe gegaan. Ek het aan depressie gely en terwyl ek eendag by my skoonseun, die einste een met wie ek die toer aangepak het, gaan kuier het, het ek op sy fiets afgekom.

“Ek het aanvanklik gedink ek gaan net ’n vinnige draai ry, maar toe ek weer sien, ure later, is ek in die dorp.”

Die afgelope 19 jaar verken Duncan, wat eers in sy sestigerjare met die sport begin het, die berge en paaie met sy fiets.

“Ek besef hoe geseënd ek is om op my ouderdom nog fiets te kan ry en ek is dankbaar vir my gesondheid.

“Ek hoop dit moedig ook ander aan om voluit te lewe en jou passie uit te leef, maak nie saak hoe oud jy is nie.”

Meer oor:  Howick  |  Fiets  |  Fietsryer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.