Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Alzheimer: Koste knel die familie
Derduisende Suid-Afrikaners leef met Alzheimer se siekte. Met die meeste mediese fondse wat nie voorsiening maak vir die toestand nie, plaas dit bykomende geldelike spanning op verbruikers wat reeds sukkel om kop bo water te hou.
Foto: getty
Daar is in SA sowat 750 000 mense wat aan Alzheimer se siekte ly, met talle wat geldelike ondergang in die gesig staar.

Alzheimer se siekte kan ’n gesin se lewenstyl handomkeer verander.

Benewens die emosionele en fisieke uitdaging vir gesinslede van die Alzheimer-lyer word finansiële druk vir die meeste mense ’n struikelblok.

Lidmaatskap van ’n mediese fonds maak dit geensins makliker nie.

As Alzheimer se siekte by jou of iemand na aan jou gediagnoseer word, vergeet maar van hulp van jou mediese fonds, lui die webwerf van Alzheimer’s in Action. Dít is die realiteit in Suid-Afrika.

“Ek woon oorsee, maar my skoonouers, wat albei aan demensie/Alzheimer se siekte ly, woon in Suid-Afrika,” skryf ene Jeanette op die webwerf.

Sy was geskok dat haar skoon­ouers se mediese fonds nie die uitgawes vir hul medisyne dek nie.

Sy skryf: “Ebixa R723, Risperlet R366, Dormonoct R274, Urbanol R137, ’n totaal van R1 500 per maand, en as ’n mens dink hoe lank hulle al tot die mediese fonds bydra, is dit werklik afstootlik. Die kinders moet nou betaal.”

’n Anonieme bydraer op die webwerf vertel nadat hul hoogsbejaarde ouers met ’n klein begroting ’n leeftyd lank getrou bygedra het tot ’n mediese fonds en selfs ’n polis uitgeneem het om die verskil tussen werklike koste en me-diesefonds-uitbetalings te dek, is hulle nou op hulle eie weens geen steun van die fonds nie.

“Die onregverdigheid dra by tot ons hartseer in hierdie moeilike tyd wanneer ons ondersteuning die meeste nodig het,” skryf die persoon.

Tyd vir regeringsingryping

Alzheimer se siekte kan ’n gesin in finansiële ellende dompel weens die stygende koste van die nodige medisyne en geen steun vir die betaling van heeltydse of dagsorg nie.

Duisende families word jaarliks geraak deur Alzheimer se siekte; met verwoestende gevolge, sê Jill Robson, Wes-Kaapse streekdirekteur van Alzheimer’s in Action.

“Die meeste mediese fondse erken dit nie as ’n chroniese siekte nie,” sê sy. “Die meeste Alzheimer-lyers ly ook aan ander ernstige mediese toestande en het heeltydse sorg nodig wanneer hulle ’n gevorderde sta­dium bereik.

“Daar is in Suid-Afrika sowat 750 000 mense wat aan Alzheimer se siekte ly, met talle wat geldelike ondergang in die gesig staar,” se Robson.

Chroniese toestande word omskryf as ’n siekte wat deurlopende behandeling nodig het vir langer as drie maande.

Mediese fondse dek ’n lys van 25 chroniese, lewensbedreigende toestande wat behandeling vir langer as 12 maande benodig.

Dié toestande mag nie deur mediese fondse uitgesluit word nie. Alzheimer se siekte tel nie hieronder nie.

“Daar is dringende ingryping van regeringskant nodig om hierdie saak reg te stel,” sê Robson. “Mediese fondse moet Alzheimer se siekte in hul toekomstige beplanning insluit.”

Alzheimer’s in Action mik daarna dat mediese fondse begin uitbetaal vir dag- en heeltydse versorging en dat medikasie vir die siekte by die lys van chroniese toestande ingesluit word.

Nasionale program nodig

Graham Anderson, uitvoerende hoof van Profmed, sê dié mediese fonds betaal wel vir Alzheimer-medisyne, maar binne die voordele van elke plan.

Omdat Alzheimer se siekte nie volgens wet as ’n chroniese toestand aangedui word nie, dra die fonds slegs by totdat lede se voordele vir die aankoop van medisyne, in die vorm van ’n toelae, uitgeput is.

Susan Kemp Booyens, maatskaplike werker en assistent- bestuurder by die Parksorg- sentrum in Parktown, Johannesburg, sê dié sentrum bied ver-sorging aan 320 verswakte in-woners, insluitende mense wat sterwende is, wat aan gevorderde Alzheimer se siekte en ander vorme van demensie ly, ouderdomsverwante siektes en chroniese siek mense van 16 jaar tot laat in die 90’s.

“In die gevorderde stadium van Alzheimer se siekte, wanneer die pasiënte gewoonlik by ons kom bly, kan ons nie merk dat medisyne veel van ’n verskil maak nie,” sê sy.

“Die breinskade is te ver gevorder. Wat wel help, is medisyne wat nie regstreeks met Alzheimer se siekte verband hou nie, soos dié wat help om gemoedstoestande te beheer, ligte antidepressante, medisyne wat epileptiese aanvalle help voorkom en wat bloeddruk help beheer sodat swak aartjies in die brein nie verder skade opdoen nie.”

Omdat Alzheimer se siekte ’n organiese breinsindroom is, kan dit ook nie as geestesiekte geklassifiseer word nie, sê sy.

Robson sê die ironie is dat Alzheimer-lyers in die voorkomende en vroeë stadiums elke ses maande ’n psigiater moet gaan sien om vas te stel of medikasie wel die vordering van die siekte vertraag.

Dit op sigself is ’n uitgawe wat sowat R1 500 per besoek kan kos.

“Alzheimer se siekte is ’n chroniese toestand. Suid- Afrika het ’n nasionale program nodig vir die voorkoming en bestuur daarvan, gelykstaande aan die departement van gesondheid se nasionale program vir die beheer en bestuur van diabetes.

“Die departement is deeglik bewus van die probleme wat ondervind word met die koste van die behandeling van Alzheimer se siekte,” sê Robson.

Helen Ueckermann is die aanbieder van Rand en sent, Sondagmiddae om 15:30 op RSG.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.