Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Gesinsplan vir pad vorentoe
Jou gesinslewe kom nie tot ’n einde as jy skei nie. Dit is eerder die begin van ’n nuwe fase vir jou, jou eks en veral jul kinders, skryf Helen Ueckermann.
Die mediasieproses gaan daaroor om gesinskonflik te ontlont deur middel van ’n neutrale persoon, wat mense help om nie net na hul eie belange om te sien nie, maar veral ook na dié van die kinders. Foto: Thinkstock

Die toekoms van jou, jou eks en jul kinders is selde vanself suksesvol, sê Conrad Kotze van Conrad Kotze Mediations.

“Gesinne wat uitmekaarspat as gevolg van egskeiding en nuwe, saamgestelde gesinne met ‘jou, my en ons’ kinders het ’n gesinsplan nodig om die pad vorentoe uit te stippel,” sê hy.

“Dieselfde geld gesinne waar die ouers nooit getroud was nie, asook tradisionele huwelike, wat onder die tradisionele reg val en nie by die departement van binnelandse sake geregistreer is nie. Vir laasgenoemde geld ’n ander stel reëls en vanweë die manier waarop sulke huwelike aangegaan word, is daar meestal nie toegang tot die reg in die geval van dispute nie.

“Dit is belangrik dat daar in al hierdie gevalle ’n sekere stel reëls opgestel word, verkieslik vooraf uitgespel deur middel van gesinsmediasie sodat almal weet hoe om die spel te speel,” sê Kotze, ’n mediator in ’n private praktyk.

Cindy Grobbelaar, ’n maatskaplike werker en ook ’n mediator in ’n private praktyk, sê die mediasieproses gaan daaroor om gesinskonflik te ontlont deur middel van ’n neutrale persoon, wat mense help om nie net na hul eie belange om te sien nie, maar veral ook na dié van die kinders.

“Dit gaan oor die bou van gesonde verhoudings vir die toekoms en die beëindiging van ’n siklus van konflik, onstabiliteit en dikwels selfs geweld.”

Grobbelaar sê prokureurs kan ook die mediasieproses behartig, maar daar is sekere nadele: Dit is duur; bring nie altyd die partye nader aan mekaar tot voordeel van die kinders nie; en die kind se stem word nie in die proses gehoor nie.

“Deur gebruik te maak van gesinsmediasie word die proses ook terapeuties omdat die verskillende partye weet hulle word gehoor. Met die opstel van ’n gesinsplan word almal se standpunte in ag geneem.

“Gevolglik word ’n plan beraam wat die beste is vir elke gesin se unieke situasie en omstandighede. Gesinslede besluit self hoe die plan moet werk; die mediator neem geen besluite namens die gesin nie.”

Grobbelaar sê die gesinsplan moet wel voldoen aan sekere voorwaardes: Dit moet in ooreenstemming wees met die Kinderwet en die konsepregulasies oor ouerskapplanne; volhoubare ooreenkomste moet bereik word; dit moet ouers en kinders ondersteun; en kinders moet op ’n gepaste wyse daarby betrek word.

Kotze verduidelik ’n gesinsplan behoort saamgestel te word soos uiteengesit in artikel 7 van die Kinderwet, maar dit wil voorkom of daar skaars ’n bewustheid daarvan bestaan. Dit is deel van die verpligtinge van die kantoor van die gesinsadvokaat, maar daar bestaan eenvoudig nie die geriewe of opgeleide personeel daarvoor nie.

“Die gesinsadvokaat maak wel duidelik dat as ’n egskeidingsbevel ’n ooreenkoms insluit waar mediasie betrokke was, dit ’n duidelike, positiewe invloed het op die uitstryk van geskille oor onderhoudgeld en geweld in gesinne ná egskeiding.

“Ongetroude ouers kan hulle nie op die hof beroep sonder dat ’n gesinsplan in plek is nie. Dit beteken as een van die ouers byvoorbeeld nie onderhoud betaal nie, die ouer wat daagliks na die kind omsien nie ’n voet het om op te staan nie en hom of haar nie tot die hof kan wend nie.

“Sowat 54% van alle kinders in Suid-Afrika word buite die eg gebore. Dit beteken dus dat daar potensieel derduisende kinders is na wie se belange nie behoorlik omgesien word nie,” sê Kotze.

Mediators het nie altyd ’n maklike taak nie, sê hy. “Dit kan ontaard in ’n mynveld omdat kinders dikwels ook onder sterk invloed van een van die ouers is. Kinders probeer egter selde self die proses manipuleer. Hulle is gewoonlik gemaklik met die egskeiding en maar te dankbaar dat daar ’n einde aan die konflik tussen hul ouers in sig is.”


Los prokureur; probeer mediasie

  • Moenie as eerste stap ’n prokureur besoek nie; gaan onmiddellik vir gesinsmediasie wanneer ’n egskeiding beplan word of wanneer ander konflik ontstaan.
  • Die mediator help om riglyne neer te lê vir die toekoms en in die beste belang van die kind se toekoms, insluitende wanneer kinders besoek mag word, onderhoud, gesondheidsorg, daaglikse roetine, die skole wat hulle moet bywoon, wie die kinders by die skool en ander aktiwiteite af- en oplaai en hoe konflik opgelos gaan word. Grootouers se regte en toegang tot kleinkinders kan ook hiervan deel uitmaak.
  • Nadat ’n ooreenkoms bereik is, word die gesinsplan se riglyne by die kantoor van die gesinsadvokaat geregistreer.
  • Die riglyne word in die hof bekragtig en ’n hofbevel gemaak. Dit kan elke paar jaar hersien word om voorsiening te maak vir kinders se ontwikkelingsproses en veranderende behoeftes.
  • Die hofbevel word deel gemaak van die egskeidingsbevel.


Voordele van bemiddeling

  • Ouers begin besef hoewel hulle dalk nie meer van mekaar hou nie, word hulle steeds deur die kinders gebind.
  • Hulle leer hopelik om met respek en agting na mekaar te kyk.
  • Daar is minder konflik op die pad vorentoe en ’n middeweg wat almal weer laat asemhaal.
  • Die kind word baie druk en spanning gespaar.
  • Die ooreenkoms maak dit moeilik vir ouers om kinders as pionne te gebruik in hul stryd.


Waar vind ek ’n mediator?


Het jy geweet?

  • Skei goedkoop: Deesdae kan jy ook in die streekhof skei. As jy self die papierwerk doen en die saak is onbestrede, kan dit jou so min as R250 kos.
  • Wat kos gesinsmediasie? Afsprake met ’n geregistreerde mediator kos tussen R350 en R700 elk en kan teruggeëis word van jou siekefonds as die mediator ’n geregistreerde sielkundige of maatskaplike werker is. Sowat vier tot ses afsprake is nodig om ’n deurdagte ooreenkoms te bereik.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.