Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hopievry!
Waar begin ’n mens van al die verswelg-ende chaos in jou huis ontslae raak? Celinda Groenewald het by bobaas-professionele organiseerders gaan aanklop.
Raak ontslae van opgegaarde besittings in jou huis deur ’n plek vir elke ding te vind, daarvan ontslae te raak of dit te laat herwin. Foto: i Stock
​Kry hier hulp

As dit voel of jy nie alleen orde uit die opgegaarde deurmekaarspul in jou huis of kantoor kan skep nie, is ’n professionele organiseerder dalk net die oplossing. Kontak die kenners:

 Heidi Meyer van Cloud 9 Organised: www.cloud9organised.co.za.

 Paula de Jesus van Absolutely Organised: www.absolutelyorganised.co.za.

 Fiona Heath van Simply Organised Solutions: www.simplyorganisedsolutions.co.za.

Daar is altyd klein goedjies waarna jy soek, die ongeordende hopies papierwerk is om van te huil, die kaste loop oor van klere wat nooit gedra word nie en oral in die huis lê stowwerige goeters en dinge waarvan jy net nie ontslae kan raak nie.

Jy weet die wanorde in jou huis kan nie so aangaan nie, maar waar en hoe begin ’n mens die reuse taak aanpak?

Begin net, só

Volgens Heidi Meyer van Cloud 9 Organised is die belangrikste stap bloot om te begin.

“Begin by ’n hoek en werk kloksgewys om die kamer, van bo na onder. Raak aan elke item en neem ’n onmiddellike besluit X wees genadeloos.”

Sorteer elke item in een van die volgende hopies: verkoop ofherwin; hou; of gee weg.

Paula de Jesus van Absolutely Organised stem saam met dié sistematiese manier waarop ’n mens te werk moet gaan.

“Só sien ’n mens hoe jy vorder en dit dien as motivering om gefokus te bly.”

En wees geduldig met jouself, maan De Jesus.

“Onthou dit het ’n ruk geneem vir die rommel om op te hoop en dit gaan nie noodwendig oornag reggestel word nie.

“Jou begeerte om meer georganiseerd te raak en beheer oor die clutter te neem, is ’n wonderlike eerste stap X jy kán dit doen.”

As die deurmekaarspul vir jou te groot lyk om te takel, begin dan met ’n klein area waar jy die meeste impak in byvoorbeeld 30 minute kan maak, stel Fiona Heath van Simply Organised Solutions voor.

“Binne 30 minute kan jy die kombuistoonbank orden, die inhoud van jou bedkassie orden of ’n boekrak skoonmaak.”

Om te hou of weg te gooi?

Jy staar na die hopies en begin jou besluite bevraagteken.

Die “hou”-hopie is nog heeltemal te groot, want sê nou daai item is eendag broodnodig?

“Die algemene reël is dit: as jy dit nie gebruik, nodig het, of liefhet nie, is dit onnodig en moet dit gaan,” sê De Jesus.

As jy eenderse items bymekaar groepeer, sal jy ook vinnig agterkom hoeveel van dieselfde goed jy opgaar.

Hou een en raak van die res ontslae.

“Vra jou af of ’n item in ’n latere stadium vervang kan word, indien ja, verkoop of gee dit weg.

“As dit sentimentele waarde het, maar iets is wat jy nie gebruik nie, het jy die opsie om dit te vertoon, in ’n kartondoos weg te pak of ’n foto daarvan te neem en van die voorwerp ontslae te raak,” sê sy.

Seël items waaroor jy steeds onseker is in ’n kartondoos en stoor dit in die motorhuis, is De Jesus se raad.

“Maak die kartondoos slegs oop as jy iets daarin benodig. Herwin of gee enigiets weg wat ná drie maande nog daarin lê.”

Rakende papierwerk of rekeninge, besoek sars.gov.za vir ’n lys van wat om te hou en vir hoe lank.

Meyer hou dié raad van William Morris, ’n bekende Britse tekstielontwerper, kuns­tenaar en skrywer, altyd in gedagte: “Moet niks vir jou huis aanskaf wat jy nie kan gebruik of wat jy weet mooi is nie.”

Wanneer is dit genoeg?

Hoeveel goed ’n mens in jou huis het, is ’n baie subjektiewe en persoonlike besluit.

“Maar indien jou besittings jou versmoor en verhinder dat jy die ruimte geniet, is dit ’n goeie teken dat jy te veel besit,” sê De Jesus.

Meyer sê elkeen het ’n ander rede waarom hulle goed hou.

“Vra jou af wat werklik belangrik is en watter soort lewe jy wil hê.

Die lewe gaan nie oor besittings nie, maar oor leef.

“Deur jou lewe te vereenvoudig, sal jy ligter leef en meer tyd hê vir die belangrike dinge,” sê Meyer.

Waarheen met al die goed?

Te veel goed? Skenk dit!

Jou hopies is uitgesorteer, maar waarheen nou met dit waarvan jy ontslae wil raak? Die persoonlike organiseerders Heidi Meyer, Paula de Jesus en Fiona Heath gee raad.

Verkoop dit

 Ontwerpersklere in ’n goeie toestand aan tweedehandse ontwerperswinkels;

 Meubels in ’n goeie werkende toestand aan pandjieswinkels;

 Antiekware en juweliersware aan antiek-handelaars en goudsmede;

 Jy kan bruikbare items ook op webwerwe soos Facebook, Gumtree of OLX verkoop.

Skenk dit

 Maak seker die items is skoon, bruikbaar en duidelik gemerk as jy dit aan ’n welsynorganisasie skenk. Sommige organisasies sal dit sommer by jou huis kom oplaai. Vir ’n organisasie in jou omgewing, besoek charitysa.co.za.

 Aanddrag of enige bykomstighede vir ’n spesiale geleentheid kan aan die Princess Project (princessproject.co.za) geskenk word.

 Tydskrifte, skryfbehoeftes en kunsbenodigdhede kan aan sorgsentrums vir bejaardes, kinders of mense met gestremdhede geskenk word vir hul kuns-aktiwiteite of terapiesessies.

Herwin dit

 Batterye en gloeilampe kan by depots by die meeste Woolworths- en Pick n Pay-winkels afgegee word.

 Vind by jou plaaslike munisipaliteit uit waar jy herwinbare items van byvoorbeeld glas, karton, papier, plastiek en blik asook elektriese produkte kan afgee. Daar is dalk ’n Pikitup-stortingsterrein waar jy ook herwinning kan doen in jou omgewing. Groot winkelsentrums verskaf ook dikwels sulke geriewe.

 Medisyne wat verval het, moet by ’n apteek ingehandig word sodat hulle veilig daarvan ontslae kan raak.

​Voorkom nuwe chaos

Hoe gemaak om ’n opgaardery in die toekoms te voorkom?

Onthou dat opruimwerk ’n proses is wat herhaal moet word, sê Fiona Heath van Simply ­Organised. “Wanneer jy skoongemaak het, is dit nodig om dikwels weer te kyk en te bepaal of die ruimte nog werk soos jy dit wou hê.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.