Die dood van Robin Williams het mense opnuut laat dink aan die multi-dimensionaliteit van menswees, skryf Linette Retief.
Tog het hy hom nooit voorgehou as ’n uitsluitlik lag-per-minuut man
nie. Sy stryd teen verslawing en depressie was, en is, ’n Google-soektog
ver.
Dieselfde tweeledigheid is in sy loopbaan te sien X van die lag tot die traan, van die
manjifieke tot die makabere. En dikwels tussenin X die bewustheid van die dood; soms ’n skim, soms ’n
daadwerklike, selfs lagwaardige teenwoordigheid.
In die rol van dr. Hunter Adams in die fliek Patch
Adams vra Williams: “Wat is verkeerd met die dood, meneer? Waarvoor is ons
so dodelik bang? Hoekom kan ons nie dood met ’n sekere mate van menslikheid en
waardigheid en ordentlikheid en, hemel behoede ons, miskien selfs humor benader
nie? Dood is nie die vyand nie . . . As ons ’n siekte gaan bestry, laat ons een van die
vreeslikste siektes van almal (aanpak), apatie.”
Komediant nie altyd grapjas
Het Robin Williams gevoel hy het die stryd teen
afsydigheid verloor, teen depressie, teen verslawing? Het die trane te veel
geword vir die nar? Een van die reaksies op Williams se dood was trouens die
“o-die-nar-met-die-traan”-respons.
Dit is ’n veralgemening waarvoor ’n mens moet versigtig wees, sê
Deon Binneman, ’n sielkundige van Durbanville.
“Tog kan ons nie daarsonder leef nie. Trouens, ek dink daar is
dikwels ’n dodelike erns in goeie komedie. Iets, wat eintlik veel ernstiger is,
word aan ons openbaar op ’n lighartige manier.
“Miskien vra goeie komedie juis iemand wat die donker emosionele
kant ken en wat dit dan komies ‘vertaal’ sodat dit gehoor kan word.
“ ’n Komediant is nie noodwendig ’n grapjas nie.”
Net ’n grapjas was Robin Williams beslis nie. Van aangrypende
spel in rolprente soos Dead Poets Society en Good Will
Hunting en die dolle kaperjolle van sy genie in Aladdin tot
sy onrusbarende vertolkings in Insomnia en One
Hour Photo, was hy ’n geleier van die menslike toestand in al sy
kompleksiteit.
’n Mens wil dan vra, sal die regte Robin Williams asseblief
opstaan, tot jy opnuut besef die regte Robin Williams het finaal gaan lê. Maar
miskien lê die sleutel tot sy nalatenskap juis in sy kompleksiteit.
“In ’n samelewing waar daar dikwels van ons verwag word om altyd
ons gelukkige maskers te dra, kan ek aan niks beter dink as om eerlik met
jouself te wees nie,” sê Binneman. “Aanvaar jouself met al die positiewe en
negatiewe aspekte van jou menswees. Dit is bevrydend om te weet dat ’n mens
multidimensioneel is; dat ons kan lag en kan huil, dat ons kan hoop en wanhopig
kan wees. Ons sal die wêreld ’n guns bewys as ons onsself en ander toelaat om
volledig die mens te wees wat ons is.”
Saam met Williams se kompleksiteit, is sy kosbaarste les miskien ’n
soort diep kwesbaarheid wat ons almal uiteindelik deel. In die tydskrif Vanity Fair skryf Glenn Kenny verlede week: “Omdat hy uiteindelik
die stryd verloor het teen een van die dinge waarteen hy geveg het, maak nie
(van Robin Williams) minder van ’n held nie. Dit maak van hom ’n mens wat op ’n
manier selfs meer soos ’n kleinood bewaar moet word, en ’n mens wat onthou moet
word deur enigiemand wat al ooit deur depressie en verslawing geraak is. Dit is
’n herinnering om waaksaam te wees, om aandag te skenk, om liefdevol te wees, om
sorgsaam te wees.
Ons is almal geseënd om in die wêreld te wees in ’n tyd toe
Robin Williams daar was. Hoe smag ’n mens daarna dat ons dit aan hom kon oordra
op ’n manier wat ’n verskil sou maak.”