Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Blinde 15-jarige pak wiskunde-olimpiade
Jo Futselaar (15).

’n Blinde 15-jarige meisie van Waterfall, Johannesburg, het die afgelope week die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse Wiskunde-Olimpiade (Samo). 

Nou wag Joanne Futselaar (oftewel Jo) in spanning om te hoor of sy na die volgende ronde deurgedring het.

Behalwe dat Jo graag haar tyd aan kopkrappers en klankboeke bestee, is sy ook ’n adrenalien-junkie wat vir niks terugstaan nie.Haar blindheid definieer haar nie, sê Jo.Jo is gebore met Leber se kongenitale amaurose (LCA) wat daartoe gelei het dat haar retina nie behoorlik ontwikkel het nie.

Met haar geboorte het haar ouers aanvanklik nie geweet sy is blind nie, maar dit eers uitgevind toe sy drie maande oud was.

“Dit is veroorsaak deur ’n resessiewe geen wat ek en my man dra wat ons nie geweet het in albei ons families se geskiedenis bestaan nie,” sê Janine Futselaar, haar ma.

“Vanaf drie maande was my grootste doelwit vir haar om ten volle geïntegreerd, onafhanklik en opgevoed te wees om uiteindelik haar eie lewe op haar eie te kan leef sonder om op ons te vertrou.

Jo Futselaar (15) is glad nie bang vir hoogtes nie. Valskermsweef is een van die talle avonture wat sy al aangepak het.

”Jo is al haar hele lewe lank in hoofstroomskole en floreer in hierdie stelsel.Sy is vanaf ’n 18 maandoue baba in die Montessori-kleuterskool waar sy die enigste blinde persoon was.

Vier jaar later het Jo se ouers haar na die Rivonia Primary School gestuur waar sy vanaf gr. 1 tot gr. 7 saam met ´n fasiliteerder deurgebring het.Dieselfde fasiliteerder is nou nog saam met Jo waar sy in gr. 9 in die St. Mary’s School in Waverley, Johannesburg, is.

“Sy ken net hoofstroom-onderrig. Jo weet sy is blind en anders – ons praat baie openlik daaroor,” sê Futselaar.

“Sy weet dit is ’n siende wêreld en ek maak haar groot om in hierdie wêreld te oorleef.”

Jo is geesdriftig oor haar skoolwerk en behaal hoofsaaklik tussen 80% en 90%.“

Haar punte was nog altyd fenomenaal. Sy verstaan absoluut alles wat sy teëkom. Ek het haar nog nooit met haar huiswerk gehelp vandat sy in gr. 3 was nie,” sê Futselaar.

Jo Futselaar (15) se vraestel vir die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade is in braille vertaal.
Hier maak Jo Futselaar (15) gereed om zipline te doen.
Die blinde Jo Futselaar (15) het ook al rotsklim gedoen.

Jo het in Maart aan die eerste ronde van die Samo deelgeneem.

Haar vraestel is in braille vertaal en dit is ook die eerste keer dat sy aan hierdie kompetisie deelneem.

Van die meer as 90 000 leerlinge wat aan die eerste ronde deelgeneem het, is Jo een van die 11 000 leerlinge wat na die tweede ronde deurgedring het.“

Donderdag se vraestel was baie moeiliker as die vorige een. Daar was heelwat diagramme waarmee ek regtig gesukkel het,” sê Jo.

“Dit neem ’n rukkie vir hulle om jou te laat weet of jy deur is na die volgende ronde. Ek is nie seker of ek dit gaan maak nie, want ek het bietjie raaiwerk gedoen by die diagramme.”

Haar siende maats by die skool aanvaar haar vir wie sy is en Jo het ook nog nooit laat haar blindheid haar onderkry nie. Sommige dinge het wel langer geneem om haar te leer en hoewel daar altyd uitdagings sal wees, sien Jo haarself nooit as die slagoffer nie. Soms raak sy gefrustreerd omdat sy blind is en op ander mense moet staatmaak, maar dit beheer haar glad nie, sê haar ma.Futselaar beskryf haar dogter as ’n ambisieuse en gelukkige mens vol selfvertroue.

“Sy is altyd gretig om nuwe dinge te probeer soos valskermsweef, rotsklim, skaatsplank ry en motorfietsry. Jo hou ook van tuimeltreine, witwatervlotvaart, ziplining, ysskaats en spring gereeld van die vyf meter hoë duikplank af by die skool.”

Jo glo haar blindheid maak dit makliker vir haar om van hierdie dinge te doen, omdat sy nie kan sien hoe hoog of ver dit is nie.

“Sy het ’n ongelooflike lewenslus en entoesiasme, daarom het ons haar geensins beperk nie. As iets beskikbaar is vir haar om te probeer dan wil sy dit doen,” sê Futselaar.“

Sy skram ook nie weg vir enige geleenthede nie en wys nooit enige vrees nie.”

Meer oor:  Wiskunde Olimpiade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.