Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Alles wat jy móét weet van testamente

Jou testament is een van die belangrikste dokumente wat jy in jou leeftyd sal laat opstel. Nie net vir jou eie gemoedsrus nie, maar om dinge makliker te maak vir jou geliefdes wanneer jy afsterf.

Charl May, direkteur van BDP Attorneys, sê ’n testament is ’n vrywillige, skriftelike dokument waarin jy jou nalatenskap reguleer of bepaal na jou afsterwe.

Volgens Peta Sickle, ’n prokureur van Laubscher & Hattingh, is ’n professioneel opgestelde testament belangrik wanneer jy vir die onbekende voorberei.

“Op hierdie manier sorg jy dat daar na jou naasbestaandes omgesien word en dat jou bates volgens jou wense versprei word. Benewens hierdie gemoedsrus, kan jy ook bepaal wie die administrasie van jou boedel beheer. Versuim om dit te doen, sal veroorsaak dat die verspreiding van jou boedel volgens Suid-Afrikaanse wetgewing plaasvind, en moontlik die addisionele behoefte aan sekuriteite.”

Jy kan vanaf 16-jarige ouderdom ’n testament laat opstel. Maak gebruik van dié gratis diens tydens Testamenteweek van 26 tot 30 Oktober. Foto: ISTOCK

Kan jy ’n testament sonder ’n prokureur opstel?

“Ingevolge die Wet op Testamente, 7 van 1953, kan enige persoon ouer as 16 en nugter van verstand ’n testament opstel,” vertel Sickle.

May sê daar is egter sekere vereistes waaraan ’n testament moet voldoen in terme van die testamentewet ten einde geldig te wees. “Dus is dit raadsaam om altyd ’n prokureur te konsulteer om die testament na te gaan of op te stel.”

Voordat jy ’n testament kan opstel, is daar verskeie dinge waaraan jy moet dink.

“Eenvoudig gestel, moet jy besluit aan wie jy jou boedel wil bemaak en watter bates jy wil spesifiseer. Jy sal ook moet bepaal wie jy as eksekuteur wil aanstel en of die insluiting van ’n trust nodig sal wees waar minderjarige kinders betrokke is,” verduidelik Sickle.

Om ’n testament te laat opstel is egter ’n redelik maklike proses.

Volgens Sickle het die prokureur die volle name en identiteitsnommers van alle persone in die testament nodig. Onthou dus om dit saam te bring.

Wat jou geldige testament kan en nie kan beheer nie

“ ’n Testament kan die verdeling van bates en eiendom, jou keuse om veras te word of anders, geldelike bemakings, beleggings, beheer van fondse wat aan minderjariges betaal moet word en vele meer beheer,” sê May.

Sickle sê hierdie is die lys van dinge wat ’n geldige testament nie kan beheer nie:

*  Lewensversekeringspolisse met ’n benoemde begunstigde;

*  Uittree- of lewensannuïteite met ’n benoemde begunstigde;

*  Eiendom wat in ’n trust gehou word waar jy ’n begunstigde is; en

*  Bemakings teen openbare beleid, wat byvoorbeeld dikteer dat ’n begunstigde nie sal erf as die persoon in die huwelik tree nie.

Hersiening en waar ’n testament gebêre kan word

Sickle meen dit is raadsaam om elke twee jaar na jou testament te laat kyk of elke keer wanneer jou omstandighede verander.

May sê daar is geen spesifieke vereiste waar ’n testament gehou moet word nie, maar verkieslik in ’n veilige plek en met die mede­wete van die naasbestaandes. “Die oorspronklike testament moet met die oorledene se heengaan aan die meester voorsien word.”

Wie het die reg om jou testament te betwis?

Volgens Sickle kan enige belanghebbende ’n testament betwis. “Dit word gewoonlik gedoen op grond van onder meer bekwaamheid, vervalsing en ongeldigheid.”

Jou boedel as jy sonder ’n geldige testament sterf

“Indien jy afsterf sonder ’n geldige testament word jou nalatenskap intestaat verdeel tussen alle naasbestaandes en nie volgens jou keuse nie. Dit is gewoonlik jou gade en kinders, en daarna jou ouers, broers en susters wat van jou nalatenskap ontvang,” sê May.

Kan jy en jou eggenoot ’n gesamentlike testament hê?

May sê ja, jy en jou eggenoot kan ’n gesamentlike testament hê, maar dit is nie raadsaam nie.

“Ons stel altyd afsonderlike testamente aan ons kliënte voor, want ’n gesamentlike testament is soms problematies, veral wanneer die partye nie binne gemeenskap van goedere getroud is nie. Dit ontneem ook die partye of een van die partye die outonomie om self te besluit wat hulle met hul deel van die bates wil doen,” meen May.

Hoe kies jy iemand as jou eksekuteur?

“Dit is altyd beter om ’n goeie prokureur of boedelberedderaar voor te stel wat professioneel in staat is om onafhanklike, nugter raad te gee en besluite te kan neem,” gee May raad.

GEBORG

Wanneer jy jou testament wil laat opstel, skakel gerus een van die volgende prokureursfirmas wat deelneem aan Nasionale Testamenteweek:

Geldenhuys Jonker Ingelyf Prokureurs

Gijsbers Prokureurs

Malan Lourens Viljoen Ingelyf Prokureurs

MHI Prokureurs

Van Zyl Kruger Prokureurs






Meer oor:  Hulp  |  Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.